Die Eienskappe van ‘n Goeie Koning

Deuteronomium 17:14-20

Op 31 Julie 2021 het daar op die plaas Diamantvallei ‘n konferensie plaasgevind oor die tema, “Verset: Roeping en Stryd.”1 Verskillende Gereformeerde sprekers het op die konferensie opgetree, onder andere prof. Andries Raath. Een van die temas wat in sy lesings na vore gekom het, is die eienskappe van ‘n tirannieke owerheid2. Hierdie artikel is ‘n poging om verder te besin oor hierdie tema, deur spesifiek te kyk na die eienskappe van ‘n goeie koning volgens Deuteronomium 17:14-20.

Na Israel se 40 jaar in die woestyn, net voor hulle die Beloofde Land intrek, gee God vir hulle sy verbondswette om hulle lewe as ‘n bevryde volk in sy teenwoordigheid te reguleer. Dít is die boek Deuteronomium3. Tussen hierdie wette, in Deuteronomium 17:14-20, vind ons ‘n uiteensetting van hoe konings moet leef en regeer. Aangesien die hele Skrif nuttig is om toegepas te word op ons lewens en omstandighede (2 Tim. 3:16,17) kan ons ook uit hierdie passasie ietsie leer oor hoe konings en ministers behoort te heers. 

Die passasie begin deur reguit te sê dat die volk ‘n koning in die land mag aanstel (v.14-15). So dis van die begin af duidelik dat God regeer deur ‘n koning4. Maar wat is die eienskappe van so ‘n koning? Vers 15-20 gee vir ons vyf eienskappe:

  1. Die koning moet uit die volk kom.
  2. Hy mag nie ‘n groot weermag hê nie.
  3. Hy mag nie baie politieke mag najaag nie.
  4. Hy mag nie baie rykdom versamel nie.
  5. Hy moet nederig wees teenoor God en sy broers.

Elkeen van hierdie eienskappe wys vir ons na God se uiteindelike Koning: Jesus Christus (Ps. 118:22).

Die koning moet uit die volk kom

“uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.” (Deut. 17:15).

Die eerste eienskap van ‘n goeie koning, is dat hy ‘n volkseie koning moet wees. Dalk sou Israel in die versoeking kom om ‘n uitlander as koning aan te stel, om so hulle politieke bande met die ander nasies te versterk. Maar hulle moet sterk staan teen hierdie versoeking: God wil sy volk regeer deur ‘n koning uit sy volk: ‘n Inheemse koning.

Hierdie is vervul in Jesus: Hy het vlees en bloed deelagtig geword om soos ons te wees, en ons te verlos uit die mag van die duiwel (Heb. 2:14). As Jesus dan voor die regterstoel van Pontius Pilatus staan, verwerp sy eie broers Hom met die woorde: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.” (Joh. 19:15). Die volkseie Koning wat God gekies het word verwerp vir ‘n Romeinse keiser.

Hy mag nie ‘n groot weermag hê nie

“Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie.” (Deut. 17:16).

Die tweede eienskap klink met die eerste hoorslag so bietjie vreemd. Hoekom mag die koning nie baie perde hê nie? Wel, in hierdie tyd was perde gebruik vir net een ding: Oorlog5. Perde het strydwaens getrek, of soldate het op hulle gery. So as dit hier sê dat die koning nie baie perde mag hê nie, dan beteken dit dat hy nie op ‘n groot weermag moet vertrou nie. Die koning en sy volk moet vertrou op die HERE wat saam met hulle na die oorlog toe uittrek (Deut. 20:1).

Hierdie is vervul in Jesus: Hy kom nie in sy eie mag nie, maar in die mag van sy Vader (Joh. 5:19). Wanneer Petrus Hom wil verdedig teen die owerpriesters se soldate, dan maak Jesus ook duidelik dat Hy kan vertrou op sy Vader, en nie Petrus se swaard nodig het om Homself te verdedig nie (Matt. 26:53). Daar kom egter ‘n tyd wanneer Jesus sy perd opsaal en met die weermag van die hemel kom om oorlog te maak (Open. 19:11-21).

Hy mag nie baie politieke mag najaag nie

“Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie.” (Deut. 17:17). 

Die derde eienskap wil ons so bietjie laat lag. Daar is ‘n voor die hand liggende rede waarom die koning nie baie vroue mag hê nie: Dit is natuurlik teen die bloudruk vir die huwelik wat God in Genesis 2:21-25 ingestel het, naamlik: Een vrou vir een man, een van been en een van vlees. Baie koninginne verlei die koning ook tot afgodery (1 Kon. 11:1-13). Maar daar is nog iets: Konings het baie vroue gehad, om so hulle politieke mag uit te brei. As jy trou met die dogter van ‘n ander koning, dan is daar sterk diplomatiese bande tussen julle6

Hierdie is vervul in Jesus: Hy kom om te trou, met net een vrou (Open. 19:1-10). Só herstel Hy die skoonheid van die huwelik (Matt. 19:4-6). Sy koninkryk is ook nie gebou op diplomatiese ooreenkomste nie. Hy sê self: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” (Joh. 18:36).

Hy mag nie baie rykdom versamel nie

“hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.” (Deut. 17:17)

Die vierde eienskap is dat die koning nie baie ryk mag wees nie. Die rede hiervoor is baie eenvoudig: Waarop moet die koning vertrou – op sy rykdom of op sy God? Natuurlik op God. Maar rykdom kan die koning se aandag van God aflei (Deut. 8:11-14). Soos Jesus ons later leer: “waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Matt. 6:21). Dawid se koningshuis sou op die ou end val, toe Hiskia hiervan vergeet (Jes. 39:1-8).

Hierdie is vervul in Jesus: Hy verlaat die rykdom van die hemel en word ‘n mens. Hy kom woon onder die armes en bedien sy evangelie aan hulle. In Lukas 14:21 nooi Jesus ook “die armes en verminktes en kreupeles en blindes” na sy hemelse maaltyd. Hy is wel die Koning wat so ryk is dat Hy sy strate met goud teer (Open. 21:21) maar hierdie rykdom is nooit sy afgod nie. Inteendeel, Hy is juis die Een wat waarsku: “Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:24).

Hy moet nederig wees teenoor God en sy broers

Eienskappe 2, 3 en 4 is baie soortgelyk. Ons kan dit so opsom: Die koning behoort nie baie militêre mag, baie politieke mag, of baie finansiële mag, te hê nie. Die koning moet klein wees: Hy is nie die almagtige, soewereine en al-ryke heerser nie. Daar is ‘n ander Koning wat oor Hom is, soos Psalm 99:1 sê: “Die HERE is Koning; laat die volke bewe!” Die vyfde eienskap vat dan hierdie drie eienskappe saam: 

“Hy moet al die dae van sy lewe [hierdie koningswette] lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees .. sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie.” (Deut. 17:19,20).

Hierdie vyfde eienskap is allesomvattend: Die koning moet in alles wat hy doen, nederig wees. Hy moet besef wie hy werklik is. Hy is onder God, een van die broers van die volk. 

Hierdie is vervul in Jesus: Hy is die groot voorbeeld van ‘n nederige Koning. Hy het sy hoë posisie as Seun van God opgeoffer om ons dienaar te wees (Filip. 2:6,7). Sy eie woorde aan ons is: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie .. Maar Ek het julle vriende genoem.” (Joh. 15:15). 

Wat nou?

God gee hierdie vyf eienskappe vir ‘n goeie koning. Maar wat daarvan? 

Wel, die beginsels van God se wet geld steeds vir ons (Matt. 5:17-19). Die konings en ministers wat ons vandag het, het ook ‘n verantwoordelikheid om te heers volgens hierdie eienskappe. God se wet geld nie net vir die mense wat kerk toe gaan nie: Dit geld ook vir die goddelose heersers van die land. En hulle moet besef dat daar ‘n Koning is wat Hom sal wreek oor die herders wat sy volk uitbuit (Eseg. 34).

Hier is ‘n paar voorbeelde:

Wat van die belasting wat skynbaar geen grense het nie? As iemand ‘n vraag het oor belasting dan hoor ons so gereeld in die kerk: “Jy moet die keiser gee wat die keiser toekom en God wat God toekom” – soos Jesus geantwoord het. Maar waar kom die punt wat die keiser God se plek inneem? Is dit nie heeltemal onredelik dat die keiser al 30% of 40% belasting eis, terwyl God selgs ‘n tiende kry (en in realiteit, meestal nie eens dit nie)? Ons regering behoort te sidder in die vooruitsig vir die oordeel wat oor hulle hang deur hulle uitbuiting van eerlike burgers.

Wat van ons owerheid se pogings om in te meng in die sfeer van die kerk en die gesin? Die BELA-bill is ‘n goeie voorbeeld, wat nou sterk na vore kom in die nuus7. Basies kom dit neer daarop dat die staat die verantwoordelikheid van ouers wil oorneem om hulle kinders op te voed. Die kinders word kinders van die staat – kinders wat grootgemaak moet word om ANC-stemmers te wees, eerder as om vry-denkende dienaars van Jesus Christus te wees.

Dit is baie duidelik uit die Bybel dat God die groot Koning is: “Die HERE is Koning; laat die volke bewe! Hy troon op die gérubs; laat die aarde sidder!” (Ps. 99:1). Elke minister, regter, president en goewerneur is maar net ‘n onderkoning: ‘n Prins. Daar is ‘n standaard – ‘n Heerser – wat bo hulle staan. Die groot vraag is: Wat maak jy met daardie Heerser?

Johnny Cash se waarskuwing behoort relevant te wees vir elke mens, en sekerlik vir elke regeerder op aarde vandag:

“There’s a Man going ‘round taking names

And He decides who to free and who to blame

Everybody won’t be treated all the same

There’ll be a golden ladder reaching down

When the Man comes around”8

(Johnny Cash, When the Man Comes Around).

Bronnelys:

  1. https://youtube.com/playlist?list=PLfrApyS_EQkKXTQa0ME1JYibSMd_zoVH5 ↩︎
  2. https://youtu.be/dB0HOP9c0t0 ↩︎
  3. Goldsworthy, 1991:152-155. ↩︎
  4. Goldsworthy, 1991:165. ↩︎
  5. Walton et al, 2000:Elektronies. ↩︎
  6. Walton et al, 2000:Elektronies. ↩︎
  7. https://www.georgeherald.com/News/Article/General/bela-bill-raises-many-concerns-202305241124 ↩︎
  8. Johnny Cash, Liedjie, When the Man Comes Around. Beskikbaar by: https://genius.com/Johnny-cash-the-man-comes-around-lyrics ↩︎

Lewer kommentaar