Die aarde is ons woning… die wêreld nie

Pieter van Deventer

Ek is oortuig dat meeste Christene vandag ‘n verkeerde visie het oor die aarde: Meeste Christene dink verkeerd oor hierdie rooibruin grond onder ons voete. Daar is ‘n baie bekende gedig van Totius, Dié wêreld is ons woning nie. En alhoewel ek saamstem met sy woorde in beginsel (die ou wêreld van sonde en trane is nie ons tuiste nie) is dit vir my tragies dat ‘n gedig soos hierdie baie keer verstaan word asof dit sê die aarde is ons woning nie. Met sulke sentimente wil ek erg verskil.

Ons tuiste is die aarde. ‘n Mens is nie ‘n mistige wasempie wat ons ‘n “siel” noem, wat eendag in die hemel op ‘n wolkie gaan ronddryf nie. ‘n Mens is fisies ook: God het hom uit die aarde, vir die aarde geskep (Gen. 2:4-7).

Douglas Wilson, in sy boek Heaven Misplaced, beskryf dit baie goed. In die VSA is daar baie evangelical Christene wat begin sê: “This world is not my home – I’m just passin’ through.” Amper soos Totius se gedig. Wilson verskil ernstig hiermee. Hy meen ons sal baie eerder, wanneer ons sterf en in die hemel kom, rondgaan en sê: “This world is not my home – I’m just passin’ through.”

Die Inkarnasie

Toe God die Seun ‘n mens geword het, het Hy fisies en aards geword. Dit is veronderstel om vir ons iets oor hierdie fisiese skepping te sê. Dit is veronderstel om ons iets te sê oor die goedheid van die aarde.

God het die aarde so lief, dat Hy ‘n aardse liggaam aangeneem het. En let mooi op: God kan nie sonde doen nie. Alles wat God doen is wys, goed en vol majesteit. Sy besluit om ‘n mens te word is geen uitsondering nie.

Waar die storie eindig

Die mens is gemaak om op die aarde te leef. Die storie van die Bybel – en die storie van die mensdom – eindig nie in die hemel nie: Dit eindig op die nuwe aarde. Dit eindig met die Nuwe Jerusalem (en al die gelowiges daarin) wat neerdaal uit die hemel en haar fondamente in die aarde laat insink.

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openb. 21:2).

Die storie van elke mens eindig ook nie by ‘n siel nie. Dit eindig by ‘n liggaam. Dit eindig by iets fisies: Wanneer die Nuwe Jerusalem neerdaal na die aarde sal haar inwoners, net soos sy, ook weer aards word. Hulle sal fisiese liggame ontvang om in haar fisiese huise te bly.

“Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.” (1 Kor. 15:22-24).

Die hemel en die aarde

Natuurlik gaan die Bybel nie net oor die aarde nie. Die hemel is ook ‘n wonderlike realiteit waaroor mens baie kan sê. En Christus beveel ons om nie skatte op die aarde bymekaar te maak nie, maar in die hemel. Alles van dít is waar.

Die hemel en die aarde moet bymekaar uitkom. Altwee sfere moet geëer word: Ons moet bly wees oor die hemel en die aarde. Maar spesifiek oor die aarde. Die mens is nie ‘n engel nie. Ons is gemaak uit die grond. En alhoewel ons liggame deur geloof in Jesus hemels word (1 Kor. 15:47-49), bly ons aardsheid ‘n goeie realiteit. So Totius is reg: Dié wêreld is ons woning nie. Maar dié aarde is ons woning.

Bibliografie

  • Wilson, D. 2008. Heaven Misplaced: Christ’s Kingdom on Earth. Moscow, Idaho: Cannon Press.

Lewer kommentaar