Die moeder god wat jy nie kan ken nie

Pieter van Deventer

Een van die baie foute van die liberale kerk (kan mens maar sê die woke kerk?) is dat sy probeer om “in” te wees. Sy probeer om aan te pas by al die nuutste giere. Orrels word uitgegooi en Michael Jackson word ingesleep; kansels word afgebreek met ywer wat die beeldstormers van ouds stom sou slaan; en verklarende prediking word ingeruil vir Ted-praatjies.

Saam met dit probeer die woke kerk om God aan te spreek as moeder. Prof. Alwyn Swanepoel van die AP Akademie het al ‘n meer volledige stuk geskryf hieroor[1]. Maar onlangs het iets wat Van Ruler geskryf het my weer hieraan laat dink. Van Ruler (2015:Elektronies) wys uit dat ons, wanneer ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis sê dat ons glo in God die Vader, daarmee wil sê dat God geken kan word.

Dit klink dalk nou vir jou baie dom om dit te sê. “Natuurlik kan jy God ken!” wil jy dalk antwoord. Maar dink ‘n bietjie daaroor. As ek Sondag in die kerk sê: “Ek glo in God die Vader” sê ek nie net dat God Vaderlik is nie – nog voor ek iets sê oor sy Vaderskap sê ek iets wat baie meer basies is: Ek kan God ken: Ek kan iets oor Hom weet.

Die god wat nie God is nie

Die alternatief is dat God nie geken kan word nie, en daarom net sowel ‘n moeder as ‘n vader kan wees. “Wie weet of daar iets daar buite is? Maar selfs as daar iets is – hoe sal ons daardie iets ooit kan ken? Ons is mos sulke klein ou mensies!” so sê die agnostici, en saam met hulle die liberale kerk.

As God nie geken kan word nie, maak dit ook nie eintlik saak wie of wat Hy presies is nie. Dan is “God” maar eintlik net ‘n blob wat ons gebruik om te praat van daai ding wat ons eintlik nie kan verstaan nie. Dan vat mense en kulture maar net hierdie blob en vorm dit soos ‘n stuk klei na hul eie beeld en gelykenis. As God nie geken kan word nie, is Hy wat ook al jy wil hê Hy moet wees.

God is dan ‘n moeder! Want dis die soort God wat nou “in” is. Die New Age Beweging wil alles mos vervroulik. So as die kerk wil bly by die tye moet sy ook maar vasbyt deur hierdie groeipyne heen. Die mense van ons dag dink mos nie meer so tradisioneel oor gesin en gender nie. So kom ons skrap die idee van God as Vader en Bruidegom van sy kerk. Kom ons maak van God ‘n enkel-mamma en ‘n lesbiese minnaar. Wie weet? Dalk sal die wêreld dan weer van ons hou!

Is so ‘n god werklik God? In hulle poging om vir die wêreld ‘n moederlike God te gee het hulle God verander in ‘n onkenbare, onpersoonlike, irrelevante, vormlose niks wat elkeen maar kan interpreteer soos hy wil.

God die Vader of God die blob

Die kerk staan voor twee basiese keuses: Óf God is kenbaar, óf Hy is nie. As Hy nie kenbaar is nie, is elke mens vry om God te vorm soos hy wil. Maar as Hy kenbaar is, kan net Hy vorm aan Homself gee. Die vorm wat Hy aan Homself gee – glo dit of nie – is die vorm van ‘n Vader. So die keuse van die kerk is nie God die Vader of God die moeder nie. Dis God die Vader of God die blob.

Bibliografie

  • Van Ruler, A.A. 2015. I Believe: The Twelve Articles of Faith in Morning Devotions. Translated by Garth Hodnett. Xlibris Publishing. [Elektronies].

[1]     Deel 1: https://apk.co.za/blog/2021/04/29/kan-god-as-vroulik-beskou-word/

Lewer kommentaar