‘n Postmil visie vir sending

Pieter van Deventer

Ek het onlangs gelees deur Gentry (1990) se boek, The Greatness of the Great Commission. Dit is regtig ‘n juweel van ‘n boek. Ek sal dit sterk aanbeveel vir enigiemand wat wonder met watter soort visie ons moet ywer om die nasies vir Christus te wen. Ek wil in hierdie artikeltjie aansluit by Gentry se boek deur ‘n paar lyne te trek oor hoe ‘n postmil visie vir sending lyk.

As jy nuut is tot die konsep van eskatologie, hier is ‘n ander artikel wat woorde soos postmillennialisme (ek verkort dit na postmil) verduidelik. Gebruik dit om jou te help om die sienings wat ek hier bespreek te verstaan.

Die grootsheid van die opdrag

Die basiese punt wat Gentry (1990) op die tafel kom sit, is dat die Groot Opdrag groot is. Dit klink voor die hand liggend, maar hy daag ‘n mens uit deur te vra watter toekomsvisie reg laat geskied aan die grootsheid van die groot opdrag. Hy argumenteer oortuigend dat ‘n premil of amil toekomsvisie te kort skiet. Dit is die postmil visie wat regtig aan hierdie Opdrag die plek gee wat dit verdien.

Slegs die postmil visie probeer om die nasies te dissipel. Die premil en amil idee is dat dit individue uit die nasies is wat dissipels moet word. Maar Gentry wys dat dit nie versoen kan word met die grammatika van Mattheus 28:19 nie. Verder is dit net die postmil siening wat reken dat die Groot Opdrag uitgevoer sal word. Die premil en amil siening is dat die kerk op die ou end onsuksesvol sal wees in haar opdrag om die nasies te dissipel. Gentry wys ook hoe hierdie siening nie goed pas by die grammatika van Mattheus 28:19, of die optimisme van die res van die Skrif nie.

Die fondasie van die opdrag

Een van die sake wat Gentry vroeg in sy boek uitlig, is die verband tussen die Kultuuropdrag en die Groot Opdrag. Ons maak, na my mening (en syne), te min van die Kultuuropdrag. Hier’s hoe die saak staan: God se aanvanklike opdrag aan die mens was om die aarde te vul deur vrugbaarheid en die aarde te ontwikkel deur heerskappy (Gen. 1:28).

Hierdie Groot Opdrag was ons Groot Ondergang. Die mens het nie oor die skepping geheers nie, maar daarvoor gebuig (hy het na die slang geluister). Die gevolg was dat dit moeilik geword het om vrugbaar te wees en te heers. God se straf vir die vrou, was “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar.” (Gen. 3:16). Haar vrugbaarheid word aangetas. Die man se straf was, “vervloek is die aarde om jou ontwil … Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring.” (Gen. 3:17,18). Sy heerskappy word aangetas.

Maar Christus kom nie om dít wat voor die sondeval was te vernietig nie. Hy kom om dít wat voor die sondeval was te herskep. Sy Groot Opdrag is dus ‘n voortsetting van die Kultuuropdrag.

Hoekom is dit belangrik? Want dit beteken om dissipels te maak is nie net om siele te red nie. Om dissipels te maak is om prinse en prinsesse te herstel in hul majesteit: Dit is om te doen wat ons lankal moes doen: Om die aarde te vul met mense wat God dien, en oor die aarde te heers op ‘n manier wat God verheerlik. Dít is die Groot Opdrag.

Die tyd vir die opdrag

Nog ‘n laaste ding wat Gentry uitlig, gaan oor hoe ons moet kyk na tyd. Hy gee ‘n paar voorbeelde van premil Christene wat so seker is dat Christus binne die volgende paar jaar sal kom, dat hulle eintlik geen aandag kan gee aan die Groot Opdrag nie. Gentry fokus op Jesus se belofte, “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20). Hy wys uit dat “al die dae” impliseer dat daar baie dae sal wees. Op grond hiervan argumenteer hy dat ons met ‘n ruimer toekomsvisie ons lewe hier op aarde moet benader.

Dit is wel so dat Jesus kom soos ‘n dief in die nag (2 Pet. 3:10). En ons moet nie aan die slaap raak soos die vyf dwase maagde nie (Matt. 25:1-4). Maar juis in daardie gelykenis is dit interessant dat die wyse maagde gereed was vir die Bruidegom om langer te vat. Dit was die dwase maagde wat gedink het sy koms is om die draai.

In Deuteronomium 7:9 beloof God om sy verbond, goedertierenheid en gebooie te onderhou in duisend geslagte. Natuurlik is die “duisend” deel simbolies. Maar dink net ‘n bietjie watter raamwerk van tyd dit vir ons gee. ‘n Duisend geslagte is min of meer dertigduisend jaar. Dit is hoe lank God beloof om getrou te bly aan sy verbond!

Lê daar nog duisende jare voor ons? Ek weet nie. Maar ons moet werk aan hierdie Groot Opdrag met ‘n visie wat in ag neem dat God getrou sal bly tot in die duisendste geslag. Ons moet veg en bou met ‘n visie vir ons agterkleinkinders van die duisendste generasie.

Bibliografie

Gentry, K.L. Jr. 1990. The Greatness of the Great Commission: The Christian Enterprise in a Fallen World. Texas: Institute for Christian Economics.

Die aarde is ons woning… die wêreld nie

Pieter van Deventer

Ek is oortuig dat meeste Christene vandag ‘n verkeerde visie het oor die aarde: Meeste Christene dink verkeerd oor hierdie rooibruin grond onder ons voete. Daar is ‘n baie bekende gedig van Totius, Dié wêreld is ons woning nie. En alhoewel ek saamstem met sy woorde in beginsel (die ou wêreld van sonde en trane is nie ons tuiste nie) is dit vir my tragies dat ‘n gedig soos hierdie baie keer verstaan word asof dit sê die aarde is ons woning nie. Met sulke sentimente wil ek erg verskil.

Ons tuiste is die aarde. ‘n Mens is nie ‘n mistige wasempie wat ons ‘n “siel” noem, wat eendag in die hemel op ‘n wolkie gaan ronddryf nie. ‘n Mens is fisies ook: God het hom uit die aarde, vir die aarde geskep (Gen. 2:4-7).

Douglas Wilson, in sy boek Heaven Misplaced, beskryf dit baie goed. In die VSA is daar baie evangelical Christene wat begin sê: “This world is not my home – I’m just passin’ through.” Amper soos Totius se gedig. Wilson verskil ernstig hiermee. Hy meen ons sal baie eerder, wanneer ons sterf en in die hemel kom, rondgaan en sê: “This world is not my home – I’m just passin’ through.”

Die Inkarnasie

Toe God die Seun ‘n mens geword het, het Hy fisies en aards geword. Dit is veronderstel om vir ons iets oor hierdie fisiese skepping te sê. Dit is veronderstel om ons iets te sê oor die goedheid van die aarde.

God het die aarde so lief, dat Hy ‘n aardse liggaam aangeneem het. En let mooi op: God kan nie sonde doen nie. Alles wat God doen is wys, goed en vol majesteit. Sy besluit om ‘n mens te word is geen uitsondering nie.

Waar die storie eindig

Die mens is gemaak om op die aarde te leef. Die storie van die Bybel – en die storie van die mensdom – eindig nie in die hemel nie: Dit eindig op die nuwe aarde. Dit eindig met die Nuwe Jerusalem (en al die gelowiges daarin) wat neerdaal uit die hemel en haar fondamente in die aarde laat insink.

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openb. 21:2).

Die storie van elke mens eindig ook nie by ‘n siel nie. Dit eindig by ‘n liggaam. Dit eindig by iets fisies: Wanneer die Nuwe Jerusalem neerdaal na die aarde sal haar inwoners, net soos sy, ook weer aards word. Hulle sal fisiese liggame ontvang om in haar fisiese huise te bly.

“Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.” (1 Kor. 15:22-24).

Die hemel en die aarde

Natuurlik gaan die Bybel nie net oor die aarde nie. Die hemel is ook ‘n wonderlike realiteit waaroor mens baie kan sê. En Christus beveel ons om nie skatte op die aarde bymekaar te maak nie, maar in die hemel. Alles van dít is waar.

Die hemel en die aarde moet bymekaar uitkom. Altwee sfere moet geëer word: Ons moet bly wees oor die hemel en die aarde. Maar spesifiek oor die aarde. Die mens is nie ‘n engel nie. Ons is gemaak uit die grond. En alhoewel ons liggame deur geloof in Jesus hemels word (1 Kor. 15:47-49), bly ons aardsheid ‘n goeie realiteit. So Totius is reg: Dié wêreld is ons woning nie. Maar dié aarde is ons woning.

Bibliografie

  • Wilson, D. 2008. Heaven Misplaced: Christ’s Kingdom on Earth. Moscow, Idaho: Cannon Press.

Lesse vir SA uit die Nederlandse Reformasie van die 1800s

Onlangs het ek die voorreg gehad om ‘n onderhoud te doen met Dr Adi Schlebusch. Dr Schlebusch het sy PhD gedoen oor Groen van Prinsterer.

Ons het gesels oor die gebeure na die Verligting in die Nederlande en hoe Dr Groen van Prinsterer en sy opvolgers suksesvol dit teengestaan en teruggerol het.

Liberale intellektueles van die 1980’s het hul Nuwe Suid-Afrika teenstaanders ge-ettiketeer as VERKRAMTES en hulself met die ere titel bekroon as VERLIGTES…. Vandag lyk hierdie Nuwe Suid-Afrika nie so verlig nie, want ons beleef donker loadshedding baie gereeld.

Nou, as ons na die geskiedenis kyk dan is dit opvallend dat die ondersteuners van die Franse Rewolusie ook na hulle self verwys het as die Verligtes – in Engels : die Enligtened en daardie era as die Enligtenment en die era wat hul voorafgegaan het as die Donker Eeue. Dr RJ Rushdoony sê:

The term “Dark Ages” … is of recent usage. Not long after the French Revolution, it was used by historians to define the period after the fall of the Roman Empire to the Renaissance… For these men any kind of Christian era was a lapse between Roman and modern humanistic statism. “Dark Ages” was used for a time to refer to the time immediately after the fall of Rome. Those times were “dark” because Christianity had succeeded.”

Die parallelle tussen dit wat in Nederland gebeur het na die Franse Rewolusie en Suid-Afrika is opmerklik. In hierdie gesprek word gepraat oor Nederland na hulle ondervinding met die Franse Rewolusie se Verligting teenoor ons ondervinding in Suid-Afrika en ons ervaring van ons weergawe van die Verligting.

Alle paaie lei na…

Pieter van Deventer

Alle paai lei na…

Wat is die middelpunt van die aarde? Die modernis antwoord sekerlik dat die middelpunt van die aarde die kokende magma ‘n klompie kilo’s onder ons voete is. Maar dis nie die soort middelpunt wat ek bedoel nie. Ironies genoeg, as jy ‘n antieke Israeliet gevra het waar die middelpunt van die aarde is, sou hy geantwoord het dat dit die tempel in Jerusalem is. Die tempel op die berg – die tempel wat letterlik en simbolies so ver as kan kom van die kokende magma in die pens van die aarde verwyder is. 

Ek lees steeds lekker aan Leithart (1993) se boek, The Kingdom and the Power. Ek wil in hierdie artikel kortliks gesels oor ‘n baie interessante gedagte wat hy oor die kerk het. 

Dit wat nie draai nie

Wat beteken dit vir iets om die middelpunt van die aarde te wees? Dit beteken dat daardie ding die ding is wat regop staan, selfs al is alles anders krom. Die middelpunt is die standaard.

Ek herinner my aan C.S. Lewis se beskrywing van die engele in sy ruimte drieling. Hierdie wesens het aan Ransom verskyn as pilare van lig. Weens die beweging van die aarde het hierdie pilare soms gedraai. Maar Ransom het altyd gevoel asof die engele regop staan – dis die aarde wat beweeg en draai, die engele het ware “regopheid” vergestalt en alles anders moes daarteen gemeet word.

Alle paaie lei na Jerusalem

Leithart (1993:87) begin: “Despite the later pretensions of the Romans, every Hebrew knew that all roads led to Jerusalem.” Die Bybel praat van Jerusalem – en spesifiek van die tempel in Jerusalem – as die middelpunt van die aarde. Die profete praat van al die nasies wat sal optrek na Jerusalem om die HERE daar te aanbid (Jer. 3:17). Die volke sal die berg waarop God se tempel gebou is kom uitsoek en daar vrede maak met mekaar (Jes. 2:2-4). 

Alle paaie lei na niks

Ons tydsgees het al ‘n bietjie verder gevorder op die pad van verdorwenheid as die Romeine van ouds. Vandag het mense al vergeet dat alle paaie lei na Rome. Mense beweer nie eens dat alle paaie na New York of Las Vegas lei nie. Vandag leef mense onder die vaandel van “Alle paaie lei na niks.” 

Die mens het homself die standaard gemaak: Hy het homself die middelpunt van die aarde gemaak. Maar toe vind hy uit dat hy nie êrens heen kan gaan om homself te vind nie. Die beste pad na die self is die pad na die sitkamerbank. En so, alle paaie lei na niks. Of dalk  eerder: Alle paaie lei na ‘n oorgewig middeljarige man wat by sy ouers bly en fokus op sy Fortnite K/D. 

Alle paaie lei na die kerk

Wat is dan die middelpunt van die aarde, vandag? Die maklike antwoord is natuurlik Jesus. Hy is die ware tempel. Hy is die ware Jerusalem. Hy is die ware standaard. Hy bly altyd regop, selfs al is alles anders krom.

Maar daar is nog ‘n antwoord: Die kerk. Alle paaie lei na die kerk. Die kerk is mos ook God se tempel (2 Kor. 6:16). En die nasies stroom tot God se berg soos die kerk van hulle dissipels maak (Matt. 28:19).

Dit beteken dat ons byeenkoms by die kerk elke Sondag ‘n ding is wat regop staan in ‘n krom wêreld. Ons kom na die kerk om ons eie krom harte reguit te maak. Ons kom na die kerk, want die liggaam van Christus is ook die middelpunt van alle dinge. 

Bibliografie

  • Leithart, P.J. 1993. The Kingdom and the Power: Rediscovering the Centrality of the Church. New Jersey: P&R Publishing. 

Die dood van konserwatisme

Pieter van Deventer

Ek is konserwatief. Ek is baie bly om myself met hierdie groep in die samelewing te vereenselwig. Maar ‘n mens moet ook eerlik wees oor die tekortkominge van jou eie groep. Hy wat bereid is om homself te oordeel, se oordeel oor ander is baie skerper. 

In daardie gees was dit beslis stimulerend om by Van Ruler (2015:Elektronies) ‘n gedagte raak te lees oor die dood van Jesus, wat hy toepas op konserwatisme. Ek wil hier kortliks sy insigte bespreek, en ‘n paar gedagtes van my eie los.

Die dood van ‘n ding

Hoe bereik iets sy doel? Van Ruler (2015:Elektronies) skryf: “The grains of wheat must fall to the earth. There they die. This done, they bring forth fruit, even a thousand fold. In other words: things must go through death, through the end, through the transition, even through the nihil, if they want to attain their purpose.”

Die stories wat God skryf, is stories van dood en lewe: Van lewe deur dood. Dit is stories waar die helde sterf en drie dae later opstaan. Dit is stories waar die goud bewaak word deur ‘n vurige rooi draak. In God se stories bereik iets sy doel wanneer dit sterf.

Die dood van ‘n Adam

Mens moet natuurlik versigtig wees om te spekuleer oor dinge waaroor die Skrif stil is. Maar daar is ‘n plek om lyne te trek. As ons dit doen, kan mens argumenteer dat selfs Adam sy doel sou bereik het deur te sterf. Of ten minste: Hy sou sy doel bereik het deur ‘n simboliese dood. 

Alreeds toe Adam ‘n vrou ontvang het, het hy ‘n simboliese dood gesterf. God het ‘n diep slaap oor hom gebring en hom oopgeklief om uit hom ‘n vrou te bou (Gen. 2:21). Adam het net soveel gesterf soos wat elke moeder sterf wanneer sy geboorte gee. 

Dit is dan nie vergesog om aan te neem dat Adam ook sou sterf om sy verdere doel te vervul nie. God se bevel om die tuin te bewerk en te bewaak (Gen. 2:15) impliseer ‘n vyand: Dit impliseer ‘n slang. En soos ons later in God se Storie sal uitvind, hierdie slang se kop word op ‘n baie spesifieke manier verpletter. Hierdie slang se kop kraak onder die voet van ‘n sterwende Man. 

Die dood van konserwatisme

Van Ruler (2015:Elektronies) gaan verder: “There are people who want to keep things completely under their own control. They want to keep things as they are. These are the conservatives.”

Die probleem met konserwatisme, is dat dit dinge van hul doel weerhou. Om die beeld van N.D. Wilson (2021:YouTube) te gebruik: Die konserwatiewes sit plastiese beskerming oor sitkamer banke: Ons wil 50 jaar van nou af na die bank kan wys en sê: “Kyk! Dis nog presies soos toe ek dit gekry het!” Konserwatiewes spesialiseer in preservering. 

Maar God se stories werk anders. In God se stories bereik dinge hul doel, nie wanneer dit stof gaar in ‘n glaskas nie. In God se stories bereik dinge hul doel deur te sterf. 

‘n Seerowerskip!

N.D. Wilson brei verder uit op sy gedagte: Ons moet aan al ons instellings begin dink as seerowerskepe. Jou kerk, jou skool, jou Christelike universiteit, jou gesin – dit alles bestaan vir ‘n doel. Die doel is om die goud te gaan haal. In die proses moet jy verwag dat die seerowerskip – die instelling – ‘n paar skrape gaan optel. Die doel is nooit om die seerowerskip te preserveer nie. Seerowerskepe hoort eenvoudig nie in museums nie. Die doel is om die seerowerskip te verloor en die goud te wen. 

Bibliografie

  • Van Ruler, A.A. 2015. I Believe: The Twelve Articles of Faith in Morning Devotions. Translated by Garth Hodnett. Xlibris Publishing. [Elektronies].
  • Wilson, N.D. 2021. The Gospel of Winning [YouTube]. Beskikbaar by: https://youtu.be/P44AU-dae6s?si=hO2qtxCC3N2EYWGx 

Soos in die hemel: ‘n Meditasie oor die roeping van die kerk

Pieter van Deventer

Wat is die roeping van die kerk – wat moet jou kerk en my kerk probeer om te doen op hierdie klippie wat ons “aarde” noem? Ek dink die roeping van die kerk kan die beste opgesom word soos dít: Om te bid, “Laat u koninkryk kom” en dan op te tree asof ons dit bedoel. 

Ek is besig om te lees deur Peter Leithart se boek, The Kingdom and the Power. Daarin maak hy ‘n interessante opmerking. Hy sê ons moet God se koninkryk verstaan as drie rewolusies: ‘n Rewolusie in die hemel, ‘n rewolusie in die tempel en ‘n rewolusie op die aarde (Leithart, 1993:19-20). 

Die hemele word geskud

God se koninkryk begin om te kom wanneer dinge radikaal verander in die hemel. Die Ou Testament is baie oop oor die feit dat Satan ‘n plek in die hemel gehad het (Job. 1-2). Hy het ‘n plek in die hemel gehad omdat hy reg was oor wat hy daar gesê het. Hy het die mens daar aangekla, en sy klagtes was waar. 

Maar Jesus se geboorte, lewe, kruis en opstanding skud die fondasies van die hemele. Die Satan verloor sy reg tot die hemel. En Christus neem sy plek in – nie as aanklaer van die mens nie, maar as Verlosser. 

“Toe sê Hy vir hulle: ‘Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.’” (Luk. 10:18, 2020 Vertaling).

Die mitologiese koninkryk

C.S. Lewis (1998:Elektronies) praat treffend van Jesus, as die mite wat ‘n feit geword het. As mens so kan praat van die Koning, kan mens sekerlik ook so praat van sy koninkryk. Die koninkryk van die hemele wat neerdaal op die aarde is die koninkryk van mite wat die koninkryk van feit word. 

Ons is nie alleen nie. Daar is mitologiese wesens wat die skepping met ons deel – wesens wat ons breedweg beskryf as engele en duiwels. God bring sy koninkryk eerstens onder hierdie wesens. Hy begin sy koninkryk in die hemel.

En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” (Rom. 12:7-9).

…Net so ook op die aarde

Die draak is uit die hemel uitgewerp. Maar hy kraai nog koning oor die aarde (vir nou). Die roeping van die kerk is om te bid dat God met die aarde sal doen wat Hy met die hemel gedoen het. En dan op te tree asof ons dit bedoel het. 

Die Koning van die hemel is besig om Koning van die aarde te word. Wat begin het in die hemel word voltrek op die aarde. Die einde is in sig: Die Koninkryk van God is naby. En ons moet vir mense vra: “Wat gaan jy doen, as alle mites in feite verander? Wat gaan jy doen, as die hele aarde Koninkryk is?

Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” (Matt. 6:9,10).

Bibliografie

  • Leithart, P.J. 1993. The Kingdom and the Power: Rediscovering the Centrality of the Church. New Jersey: P&R Publishing. 
  • Lewis, C.S. 1998. “Myth Became Fact” in God in the Dock. Grand Rapids: Eerdmans. [Elektronies].

Die moeder god wat jy nie kan ken nie

Pieter van Deventer

Een van die baie foute van die liberale kerk (kan mens maar sê die woke kerk?) is dat sy probeer om “in” te wees. Sy probeer om aan te pas by al die nuutste giere. Orrels word uitgegooi en Michael Jackson word ingesleep; kansels word afgebreek met ywer wat die beeldstormers van ouds stom sou slaan; en verklarende prediking word ingeruil vir Ted-praatjies.

Saam met dit probeer die woke kerk om God aan te spreek as moeder. Prof. Alwyn Swanepoel van die AP Akademie het al ‘n meer volledige stuk geskryf hieroor[1]. Maar onlangs het iets wat Van Ruler geskryf het my weer hieraan laat dink. Van Ruler (2015:Elektronies) wys uit dat ons, wanneer ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis sê dat ons glo in God die Vader, daarmee wil sê dat God geken kan word.

Dit klink dalk nou vir jou baie dom om dit te sê. “Natuurlik kan jy God ken!” wil jy dalk antwoord. Maar dink ‘n bietjie daaroor. As ek Sondag in die kerk sê: “Ek glo in God die Vader” sê ek nie net dat God Vaderlik is nie – nog voor ek iets sê oor sy Vaderskap sê ek iets wat baie meer basies is: Ek kan God ken: Ek kan iets oor Hom weet.

Die god wat nie God is nie

Die alternatief is dat God nie geken kan word nie, en daarom net sowel ‘n moeder as ‘n vader kan wees. “Wie weet of daar iets daar buite is? Maar selfs as daar iets is – hoe sal ons daardie iets ooit kan ken? Ons is mos sulke klein ou mensies!” so sê die agnostici, en saam met hulle die liberale kerk.

As God nie geken kan word nie, maak dit ook nie eintlik saak wie of wat Hy presies is nie. Dan is “God” maar eintlik net ‘n blob wat ons gebruik om te praat van daai ding wat ons eintlik nie kan verstaan nie. Dan vat mense en kulture maar net hierdie blob en vorm dit soos ‘n stuk klei na hul eie beeld en gelykenis. As God nie geken kan word nie, is Hy wat ook al jy wil hê Hy moet wees.

God is dan ‘n moeder! Want dis die soort God wat nou “in” is. Die New Age Beweging wil alles mos vervroulik. So as die kerk wil bly by die tye moet sy ook maar vasbyt deur hierdie groeipyne heen. Die mense van ons dag dink mos nie meer so tradisioneel oor gesin en gender nie. So kom ons skrap die idee van God as Vader en Bruidegom van sy kerk. Kom ons maak van God ‘n enkel-mamma en ‘n lesbiese minnaar. Wie weet? Dalk sal die wêreld dan weer van ons hou!

Is so ‘n god werklik God? In hulle poging om vir die wêreld ‘n moederlike God te gee het hulle God verander in ‘n onkenbare, onpersoonlike, irrelevante, vormlose niks wat elkeen maar kan interpreteer soos hy wil.

God die Vader of God die blob

Die kerk staan voor twee basiese keuses: Óf God is kenbaar, óf Hy is nie. As Hy nie kenbaar is nie, is elke mens vry om God te vorm soos hy wil. Maar as Hy kenbaar is, kan net Hy vorm aan Homself gee. Die vorm wat Hy aan Homself gee – glo dit of nie – is die vorm van ‘n Vader. So die keuse van die kerk is nie God die Vader of God die moeder nie. Dis God die Vader of God die blob.

Bibliografie

  • Van Ruler, A.A. 2015. I Believe: The Twelve Articles of Faith in Morning Devotions. Translated by Garth Hodnett. Xlibris Publishing. [Elektronies].

[1]     Deel 1: https://apk.co.za/blog/2021/04/29/kan-god-as-vroulik-beskou-word/

“Make America/SA/UK/Holland great Again”

Politici kom met slagspreuke vorendag soos “Make America Great Again” (MAGA).

In Nederland is ook iemand anders verkies nadat die burgers onrustig geraak het oor hoe die establishment regeer. Selfs in Suid-Amerika (Argentinië) word daar ook teruggegryp na die verlede as ‘n beter era waarheen teruggekeer moet word. Die nuut verkose leier van Argentinië is verkies as president onder die vaandel van die VSA Vryheidsvlag[3] van 1775 (Gadsdenvlag met Do not tread on me daarop geskryf). Dit volg na etlike dekades van mislukte sosialisme in Argentinië. Verder het Prof Jordan Peterson en ander invloedryke politici soos die oud onder-eerste minister van Australië (John Anderson) en Phillipa Stroud (Konserwatiewe party in Brittanje) die Alliance of Responsible Citizens (ARC) tot stand gebring. Hierdie ARC leiers is totaal ontnugter deur die ondermyning van vryheid en die vinnige inbeweeg na ‘n era van Facisme die afgelope dekades (veral die afgelope 5 jaar). Hulle is bekommerd oor die ondermyning van geloofsvryheid, spraakvryheid, bewegingsvryheid en die cancel culture. In die woorde van Elon Musk: The woke mind virus” poses an existential threat to humanity[1]. Hierdie ARC/Musk weerstand word selfs betreur deur die World Economic Forum met hul vergaderings wat die afgelope jare wat gefokus het op: “Rebuilding Trust” en “Working Together, Restoring Trust“.

Prof Vishal Mangalwadi het onlangs met Disciple Nations Alliance ‘n onderhoud[2] gevoer en maak ‘n hele paar baie insiggewende opmerkings. Hy was dan ook een van die intellektueles wat die ARC vergadering bygewoon het. Hy maak die punt dat daar ernstige gebreke is in die weerstand teen die Woke mind virus via die ARC. Hy wys uit dat sosioloë soos Weber en andere tereg aantoon dat die Westerse voorspoed ‘n uitvloeisel is van die Reformasie. Dat die wêreldbeskouing van die Reformasie veroorsaak het dat Westerlinge se kultuur verander het en dat voorspoed gevolg het. Hy sê:

“So Max Weber is one of the fathers of social sciences and he wrote during the first two decades of the 20th century in Germany. His father was a Lutheran, mother was a Calvinist. So, one vacation they will go to the Lutheran side of the family, another vacation to the Calvinist side of the family. And as he was growing up he noticed that the Calvinist community, not just his immediate family, but as a community, they were doing better economically than the Lutherans and Lutherans were doing better than the Roman Catholics and the Catholics were doing better than the Orthodox and the Orthodox were doing better than Muslims and Hindus. A lot of information was available about India through the East India Company, the economic information. … He saw that religion plays an important role in economic development or as hindrance to progress… He said that faith and predestination helped economic progress, et cetera, but the overall piece is that religion, religious ideas, either hinder progress or motivate progress.”

Hy beskryf die ekonomiese voorspoed en samelewingsvryhede wat die Weste voorgebring het as vrugte van ‘n Bybelse Wêreldbeskouing. Die Wêreldbeskouing is die wortels, maar die wortels bring nie sonder die stam en stingels die vrugte voort nie. As ons dus die vrugte van die Westerse wêreldbeskouing wil geniet, dan moet ons ‘n Bybelse (Calvinistiese) wêreldbeskouing omarm, maar dit is meer as net die wêreldbeskouing, want die gemeenskap van die heiliges (stingels) is ook nodig. Dit is soos ‘n plant wat mooi blomme (vrugte) dra. Die blomme word nie net deur die wortels (wêreldbeskouing) voortgebring nie maar daar is ook stingels (gemeenskap vd heiliges) nodig. En dan die belangrikste van alles is die Grond (God) waarin die plant geplant is, is nodig. Die probleem is dat MAGA en Musk en ARC wil terugkeer na die bybelse wêreldbeskouing om die goeie vrugte te kan geniet, maar baie van die leiers het nog nie tot die besef gekom dat die God van die Bybelse wêreldbeskouing aanbid en omarm moet word nie. Dit is onmoontlik om dit los van mekaar te maak… In die woorde van Ps 127: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou…”. Die ander probleem is dat sommige Christene besef dat die verhouding met Jesus essensieel is, maar hulle het geen diepte nie. Hulle het nie ‘n Bybelse Wêreldbeskouing nie. Hierdie Christene word dan maklik mislei. En dan is daar Christene wat so ontnugter is dat hulle hul heeltemal van enige Christelike instellings disassosieer. Hulle wil nie lidmaat wees van ‘n gemeente nie, maar hulle stig ook nie ‘n regsinnige een nie.

Prof Mangalwadi: “So these are public intellectuals, poets, politicians, who are speaking and they, as well as economists, businessmen. They agreed with the overall thesis that Western civilization is a beautiful bouquet of flowers and these flowers have been cut from their roots. Therefore the flowers are fading. So the Western civilization is fading, withering because it is cut from their roots. And to reconnect the West to its roots is the big challenge. And they acknowledge that the roots is the Bible, even the non-christians who would call themselves atheists. Now, this was a thesis that Pope [Benedict 16 – Joseph Ratzinger] wrote this book “Without Roots: the West’s Relativism Christianity in Islam… We receive general consensus Nobody challenged it that yes, the western civilization is a beautiful bouquet of flowers. These flowers are withering: families withering, economies in debt, etc, Business is no longer trustworthy because the flowers have been cut off from their roots. So the one important weakness of ARC was not acknowledging that the flowers don’t flowers and fruits don’t come directly out of the root, they come out of stem. So it is connected. Flowers are connected to the roots through the stem, through the branches. This is what Jesus says I am the wine, you are the branches, you bear fruit and leaves for the healing of the nations. ….

And this has been a very important point that Bob Moffitt, the co-founder of DNA, has been making consistently that it is not just the worldview, the roots, which produce flowers, but the church, which is the stem out of which has come. So the impact that the Bible has had is because of the church, which preserves, translated, publishes, distributes, teaches the Bible and established all the colleges, universities, schools, etc. So this is a missing piece in the ARC movement. Yes, yes, davidson Hunter. He makes that point in changing the world that it’s not just ideas. Ideas have consequences, but ideas need institutions, groups, networks of groups, which has been a very strong point that Bob Moffitt has kept emphasizing and that was missing in ARC. And if ARC is not able to really mobilize the church, then it will be a movement that goes nowhere because, this is really the key that you have great ideas, you have the truth, but actually truth was downplayed.”

Ek kan hierdie onderhoud van Prof Vishal aanbeveel. Daar is ‘n hele klomp mooi insigte.

Mag die VSA/SA/Holland/Weste en die hele mesdom nie net smag na die vrugte wat voorgevloei het uit die Reformasie van die 1500’s nie, maar mag hulle die volledige wêreldbeskouing saam met die instellings wat dit moontlik maak omarm. Mag hulle daardie EEN wat die seëninge uitdeel werklik ken, sodat Hy hulle nuut kan maak en hulle die Seun kan kus soos wat daar geskryf staan in Ps 2, Ps 117 ens. Mag daar ‘n diepgaande bekeering en reformasie spoedig tot stand kom…

[1] https://twitter.com/EpochTimes/status/1653151055146889218

[2] https://podium.page/client-media-editor/5c62ff97-b08b-421c-8ff1-715d77d067fe?a=eyJhbGciOiJIUzI1NiIsInR5cCI6IkpXVCJ9.eyJtZWRpYV9pZCI6IjVjNjJmZjk3LWIwOGItNDIxYy04ZmYxLTcxNWQ3N2QwNjdmZSJ9.6jyNytIBsMHOhXpOMw1JnVi_hd_pvwSQQVnH4P-ZM_4&return_url=https://www.buzzsprout.com/public/transcripts/714172/update_callback

[3] https://www.bloomberg.com/news/articles/2023-03-15/inflation-at-100-boosts-javier-milei-in-2023-argentina-presidential-election

Gesprekke | Veg en Bou in Suid-Afrika

Vanjaar gaan daar ‘n Bybelse Wêreldbeskouing Reeks gehou word. Hierdie keer gaan dit in die vorm van onderhoude geskied. Daar sal elke tweede maand een gepubliseer word. Dit geskied onder die tema van Veg en Bou in Suid-Afrika. Die Veg en Bou is ‘n verwysing na Nehemia 4:

Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou,en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou, terwyl die basuinblaser by my gestaan het.

Die onderhoude sal soos volg wees:

  • Februarie : Veg en bou in SA. Youtube skakel: https://www.youtube.com/watch?v=fFSqtrBQgsA
  • Maart: Die tempel en Evangelisasie
  • April: Baie kinders en tuisskool.
  • Junie: Die sonde van statisme.
  • Augustus: Ankerdorpe en gemeenskap.
  • Oktober: ‘n Kerk met ‘n 1000 jaar visie
  • Desember : Evangelisasie en straatprediking

Die onderhoude sal gepubliseer word op die Bybelse Apologetiek Kanaal by: https://www.youtube.com/@bybelseapologetiek2444/videos

Kontak Pieter van Deventer by: pp.vandeventer@gmail.com

Seminaar | Onderwys in krisis

RSVP vorm om te registeer vir die seminaar

Die BELA wetgewing is op 26 Oktober verlede jaar deur die parlement aanvaar. Hierdie wetgewing kan radikale nagevolge inhou vir onderwys in Suid-Afrika.

Die staat poog om onderwys totaal te sentraliseer onder sy beheer. Ons weet dat ons humanistiese staat glad nie vriendelik teenoor die Christelike wêreldbeskouing staan nie en daarom kan verwag word dat die humanistiese wêreldbeskouing al meer en meer deur die staat op ons kinders afgedwing gaan word.

Daar gaan by hierdie Seminaar ingefokus word op die verskillende aspekte wat onderwys in ‘n krisis dompel en wat die Christelike antwoorde daarop is.

Program en Sprekers:

  • 08:00 Ds Pieter le Roux – Opening
  • 08:10 Pieter van Deventer – Die doopbelofte, die gesin, en onderwys
  • 08:40 Dr Adi Schlebusch – Marxistiese Opvoedkunde en die Christelik-Reformatoriese antwoord
  • 09:10 Dr Johan Otto – Die belang van die kerk by Gereformeerde Onderwys
  • 09:40 Bespreking
  • 10:10 Tee
  • 10:50 George Bester – Die Beweging vir Christelik-Volkseie Onderwys se werk ter wille van ons verbondskinders en tot eer van God.
  • 11:20 Bouwe van der Eems – Tuisonderrig: ‘n bybelse model en ‘n beter alternatief
  • 11:50 Dr Albertus BreytenbachAfrikaanse Protestantse Akademie : Evalueering van die heersende stand van Onderwys van uit Reformatoriese perspektief
  • 12:20 Bespreking
  • 13:00 Middagete
Ds Pieter le RouxPieter is predikant van die Gereformeerde Kerk Wonderboompoort. Hy is gelukkkig getroud en hy en Karyna is die ouers van 5 kinders.
Dr Johan OttoJohan is predikant van die Hervormde Kerk te Cullinan. Hierdie gemeente het in 2012 weggebreek van die Hervormde kerkverband en vorm deel van die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes. Hulle glo dat die Bybel die Woord van God is: Die mens is na die beeld van God geskape, Die kerk moet die evangelie verkondig, Vergifnis deur Jesus Christus se versoeningsdood, Huwelik tussen man en vrou, Sola Scriptura.
Pieter van DeventerPieter is sesde jaar Teologiese student aan die Afrikaanse Protestantse Akademie. Hy is lidmaat van AP Kerk Moot Sentraal en redakteur van die Bybelse Apologetiek Kanaal. Hy is gelukkig getroud met Amy. Hy verwerf in 2023 die graad BDiv.
Dr Adi SchlebuschAdi Schlebusch is die direkteur van die Pactum Instituut wat Bybelgetroue boeke en akademiese artikels publiseer. Hy is betrokke by die AP Akademie en BCVO. Hy is getroud met Lize en hulle het drie kinders.
PhD (Teologie), MA Fil, BA (Latyn), BA(Teologie)
George BesterGeorge Bester matrikuleer in 1989 aan Gelofte Hoërskool in Pinetown, Natal. As gereformeerde en behoudende Afrikanerkind in ‘n oorgrote Engelse omgewing het hy van vroeg af geleer wat dit beteken om vir sekere ononderhandelbare waardes en beginsels op te staan. Sy ouers is stigterslede van die Afrikaanse Protestanse Kerk in 1987 en hy is tans steeds lidmaat van die AP Kerk. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria waarna hy en sy vrou Liza begin boer op hul plaas in die Swartruggens distrik met beeste en wild. Hul drie kinders het skoolgegaan by die Cristelike Volkseie Onderwys skool in Derby en Orania.  George word in 2011 verkies op die BCVO se Direksie waar hy as Streeksdirekteur vir Noordwes en later vir Noord-Kaap dien. Hy dien ook vir etlike jare as Direkteur gemoeid met Kultuur. In 2021 word hy verkies as Voorsitter van die BCVO Direksie en dien huidiglik nog in hierdie posisie.
Bouwe van der EemsBouwe en sy vrou (Debbie) het hulle 5 kinders tuis opgevoed sedert 2000. In 2002 het hy betrokke geraak by tuisonderwysorganisasies toe hy trustee geword het van die Pestalozzi Trust, ‘n regsfonds vir tuisonderwys. Hy het ook ‘gedien in die besture van die Vereniging vir Tuisonderwys en Cape Home Educators. In 2016 het hy voorsitter geword van die Pestalozzi Trust. Hy en sy gesin het die platform Tuisskolers.Org gebou om dit makliker te maak vir ouers om met tuisonderwys te begin. Hulle werk ook met Kragdag om tuisonderwys ekspo’s te organiseer.
Bouwe is ‘n geregistreede professionele ingenieur en het ‘n MSC graad in elektroniese ingenieurswese by die Universiteit van Stellenbosch verwerf en werk as ‘n stelsel argitek in die IT industrie. Hy en sy gesin woon in Kaapstad en hy is ook ‘n aktiewe lid van die plaaslike inwonersverenigings en in musiekaktiwiteite. Hy is tans lid van die Vrye Gemeente Kaapstad.
Dr Albertus BreytenbachAlbertus is die Afrikaanse Protestantse Akademie se Program koördineerder van die NGOS program.

RSVP vorm om te registeer vir die seminaar