Is die laaste dae belangrik?

Pieter van Deventer

Met die  oog op die Koning: Waarom eskatologie belangrik is

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.” Openb. 19:11-13

Eskatologie is ‘n deftige woord. Maar basies gaan dit oor wat glo iemand oor “die laaste dae” of die einde van die geskiedenis, wanneer Jesus Christus weer op die wolke kom. Dit mag jou dalk verbaas, maar ja: Christene het wél verskillende opinies daaroor. 

Meer en meer hoor ek mense sê dat eskatologie vir hulle nie eintlik so belangrik is nie. Veral as Christene hoor hoe ingewikkeld die debatte oor eskatologie is, begin hulle so voel. Hulle sê dan: “Ek is maar net ‘n Christen. Ek weet ek is gered. Ek weet Jesus kom weer. Die res is nie belangrik nie.”

Die bedoeling is goed. Maar om ‘n Christen te wees beteken jy is ‘n eskatologiese Christen. Ek wil bietjie in hierdie artikel verduidelik waarom eskatologie een van dié belangrikste onderwerpe in die Bybel vir ons behoort te wees. Basies wil ek sê: Leef met die oog op die Koning.

Die Bybel is van die begin af eskatologies

Die basiese rede waarom eskatologie vir ons belangrik behoort te wees, is omdat dit in die Bybel belangrik is. Die Bybel is van die begin af eskatologies. Laat ek verduidelik. 

As ek jou moes vra, “wat is die genre van die Bybel?” wat sou jy antwoord? Jy kan natuurlik antwoord dat die Bybel baie genres het. Maar wat is die genre wat dit alles saambind? Wat is die styl – ‘n gedig, sistematiese teologie, ‘n pastorale werk – wat is dit? Wel, as jy kyk na die genre wat die heel meeste in die Bybel voorkom, en ook die genre wat al die verskillende boeke van die Bybel vasbind, dan is dit die genre van ‘n storieboek. 

Hoor my mooi: Ek glo net soos jy dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is. As ek sê dat dit ‘n storieboek is, dan bedoel ek nie dat iemand dit uit sy duim gesuig het nie. Ek bedoel daarmee dat die Bybel vir ons die Storie vertel wat waar geword het. Dit vertel vir ons God se storie: Sy geskiedenis. Al die ander genres maak net sin as ons raaksien dat die onderliggende styl van die hele boek ‘n verhaal is. 

Een van die duidelike maniere hoe ons kan sien dat die Bybel die beste verstaan kan word as ‘n storieboek, is as ons die Bybel vergelyk met ander klassieke stories. Ek gaan hier net verwys na Bartholomew en Goheen se boek, The Drama of Scripture. Daarin vergelyk hulle die Skrif met die klassieke styl van dramas en wys dat die Skrif basies ingedeel kan word volgens dieselfde storielyn-raamwerk as enige van die klassieke dramas. 

Dit moet ons laat vra, wat is die groot motiewe in hierdie verhaal van die Bybel? Wat is die groot spanning wat opgelos word? Wat is die lyn wat die storie volg? 

As ons dit vra, sien ons regtig dat die Bybel van die begin af eskatologies is. Die Bybel is van die begin af gerig op die toekoms. Die storie boei jou van die oomblik dat die gordyne oopgaan tot op die oomblik wat die gordyne weer sak.

Hier’s een voorbeeld. Kom ons vat een van die mees bekende verse in die Bybel: 

“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Gen. 3:15

Wat dink jy het hierdie profesie van God vir Eva beteken? Hoe het dit vir haar laat dink – laat voel – oor die toekoms? Hoe het dit haar prentjie van God se groot storie ingekleur? 

Hierdie belofte van God is soos ‘n baken van lig vir al die gelowiges in die Ou Testament. Dit laat hulle verlang en uitsien na die vervulling daarvan. Hulle leef buite Eden: Hulle leef onder die vloek van die sonde: Hulle leef onder die heerskappy van die slang. Hulle wag op die dag wat sy kop vermorsel gaan word. In kort: Hulle leef eskatologies. Hulle leef met die oog op die toekoms. 

So sien ons dat die Bybel van die begin af eskatologies is. Die hele Bybel moet gelees word in hierdie styl – in hierdie raamwerk. Die Bybel vertel ‘n storie – nie net los waarhede nie. En hierdie storie stuur af op ‘n doel: Die vermorseling van die kop van die slang. Elke sandkorrel op die aarde wag vir daai oomblik: Vir die oomblik wat die Koning se perd sal runnik en sy swaard sal gly deur die nekwerwels van die draak. 

Soos wagters op die môre…

As die Bybel van die begin af ‘n eskatologiese boek is, dan kan ons verwag dat die Bybel gereeld ons oë op die toekoms sal vestig. En dit is ook wat ons in die Bybel kry. Een so ‘n plek, is Psalm 130.

“Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre. Wag op die HERE, o Israel! want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.” Ps. 130:5-8

Wat gee ‘n kryger moed, in die middel van die nag? Wat gee ‘n swakkeling die krag om sy skild vas te hou en aan te hou om die goeie stryd te stry? Die antwoord van die Bybel is eenvoudig: Die kryger weet die nag kom tot ‘n einde. Die swakkeling weet daar is oorwinning aan die einde van die stryd. Hulle kan altwee kyk na die Môrester, en wag op die son om op te kom.

“Ek, Jesus .. is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.” Openb. 22:16

Nouja, jy stem dalk nie met my saam dat hierdie twee Bybelgedeeltes verband hou met mekaar nie. Jy dink dalk dat Psalm 130 maar net ‘n goeie beeld gebruik as dit praat van wagters wat wag op die môre, en Jesus sinspeel nie op hierdie Psalm in Openbaring 22 nie. Maar dink ‘n bietjie aan ‘n profesie soos Joël wat God se veroordelende weermag vergelyk met ‘n sonsopkoms.

“..soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” Joël 2:2

Baie ander dele gebruik hierdie selfde beeld van ‘n son wat op kom, om te praat van God se eskatologiese oordeel oor sy vyande en verlossing van sy volk. 

“Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.” Mal. 4:2

“Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” Efes. 5:14

Wat is die punt wat ek probeer maak? Dat die Bybel altyd gelowiges te midde van duisternis oproep om daaraan te dink dat die duisternis nie vir altyd sal triomfeer nie. Die Bybel roep ons op om te leef met die oog op die toekoms. Die Bybel roep ons op om te wag op die HERE – op die eerste en die tweede koms van Jesus – soos wagters wat wag op die môre. 

Dalk in die vroeë geskiedenis van die kerk? 

Ek wil op hierdie punt net ‘n gedagte los – en ek hoop om dalk in die toekoms meer hierop uit te brei. Maar kou ‘n bietjie hieraan: Wat as ons nog leef in die vroeë geskiedenis van die kerk? 

Elke geslag dink die einde is nóú hier: Christus gaan binne die volgende vyf jaar kom (of dalk tien, as dit regtig lank uitgerek word). Dit is natuurlik ver van my om vir ons Here voorskrifte te gee oor wanneer Hy moet terugkom. En sou Hy vandag terugkom sal ek jubel in blydskap. 

Maar wat as Hy nie vandag kom nie? Wat as Hy sy bruid kans wil gee om regtig ‘n groot effek op die wêreld te hê? Wat as daar nog tien-duisende jare van kerkgeskiedenis voor ons lê? 

Dit is iets om aan te kou. Veral in die lig van sommige profesieë wat regtig verwag dat God se koninkryk baie groot en heerlik sal wees, op hierdie aarde. 

“‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. ‘n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.” Matt. 13:31-33

Dalk – net dalk – sal kinders eendag in katkisasie vra: “Wie was nou weer eerste – C.S. Lewis of Augustinus? Ek verwar altyd die vroeë kerkvaders…”

Dalk – net dalk – leef ons tans in die donker eeue. En die son is besig om op te kom. 

Hoe moet ons dan leef? 

Dit bring ons by die belangrike vraag: Hoe moet ons dan leef? 

Wel, leef met die oog op die Koning. Leef met die oog op die Môrester. Leef met die oog op die Man op die wit perd. Leef eskatologies. 

Mense is geneig om vas te sit in die verlede. Ons is geneig om heeltyd terug te kyk – na die “goeie ou dae.” Maar ons vergeet dat daar in die goeie ou dae ook duisternis was.

Vir Christene is die geskiedenis natuurlik belangrik. Maar dit is juis belangrik omdat ons weet dat ons eendag geskiedenis gaan wees: Ons leef in dieselfde storie: In dieselfde verhaal: Met dieselfde hoop as ons voorvaders. Ons leef met die oog op die Koning. 

Die Bybel gebruik gereeld die beeld van ‘n boom om wyse en geseënde mense te simboliseer. En dit is gepas: ‘n Wyse man is baie soos ‘n boom. ‘n Wyse man leef met wortels wat diep afsak in die vrugbare aarde van die geskiedenis – daar waar ons verkwik kan word met dieselfde waters wat ons voorouers verkwik het en krag gegee het om deur die duisternis op te beur na die lig. Maar ‘n wyse man leef ook met takke wat na die hemel uitreik – wat na die toekoms tas en versterk word deur die strale van die son. 

Dis die roeping van die kerk, vandag. Om stewig gewortel te wees in die verlede, en kragtig op te beur na die toekoms. 

“En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Ps. 1:3

Lewer kommentaar