Die “Sparkle Creed” en die probleem van die “woke” beweging

Melkweg skoonheid

Pieter van Deventer

Ons leef in ‘n vreemde wêreld: ‘n Wêreld waar mans blykbaar vroue kan wees en jy die buitestaander is as jy dink dis belaglik. Ons leef in ‘n wêreld waar jy ‘n goeie sin vir humor moet hê om nie soos die monnike van ouds êrens op ‘n berg te gaan wegkruip totdat die sirkus van die 21ste eeu weer buite die dorp is nie.

Dis hierdie sirkus-wêreld wat onlangs vir ons die sogenaamde “Sparkle Creed” gelewer het (ja, jy het daai naam reg gelees). Hierdie belydenis (as dit só genoem kan word) het al die eienskappe van ‘n Babylon Bee grappie. Maar ongelukkig is dit geen sarkastiese grappie nie: Dis die dood-ernstige poging van die “woke kerk” om hul ideologie in die vorm te giet van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Ek wil graag in hierdie artikel die “Sparkle Creed” bespreek en wys hoe dit een van die groter probleme van die “woke” beweging uitbeeld.

Die “Sparkle Creed”

  • “I believe in the non-binary God whose pronouns are plural.
  • I believe in Jesus Christ, their child, who wore a fabulous tunic and had two dads and saw everyone as a sibling-child of God.
  • I believe in the rainbow Spirit, who shatters our image of one white light and refracts it into a rainbow of gorgeous diversity.
  • I believe in the church of everyday saints as numerous, creative, and resilient as patches on the AIDS quilt, whose feet are grounded in mud and whose eyes gaze at the stars in wonder.
  • I believe in the call to each of us that love is love is love, so beloved, let us love.
  • I believe, glorious God. Help my unbelief. Amen.”1

In Junie 2021 (tydens die sg. “Pride” maand) is hierdie belydenis opgestel deur Rachel Small-Stokes, ‘n “queer” vroulike dominee van die United Church of Christ in die VSA2. Dit het groot opspraak gemaak toe dit voorgehou is in ‘n uitgesaaide erediens onder leiding van Anna Helgen, ‘n vroulike dominee van Edina Community Lutheran Church – ook in die VSA3.

Pogings om die Skrif-gefundeerde teologie van die eeue te herinterpreteer binne ‘n raamwerk van identiteits-politiek is nie nuut nie. Reeds in die 20ste eeu het Feministiese teologie4 en Swart5 teologie kop uitgesteek en pogings aangewend om interpretasies te gee van die Skrif wat meer gedryf word deur interseksionaliteit en identiteits-politiek as enigiets anders. Maar dis moeilik om weg te kom van die gevoel dat ‘n nuwe laagtepunt bereik is met die Sparkle Creed.

‘n Basiese vraag, naas die vraag waarom iets vals is, is altyd waarom dit lelik is. Waarheid, goedheid en skoonheid (mooiheid) het ‘n geneigdheid om altyd op mekaar in te speel (dis nou maar net wat ‘n paar duisend jaar van teologiese denke al uit ervaring agtergekom het). Ek wil nou kortliks die skoonheid-dimensie van die “woke” beweging bespreek en antwoord waarom die “Sparkle Creed” nie net vals is nie maar ook lelik, laag en onaantreklik is.

Die dimensie van skoonheid

Mense is skepsels wat ‘n natuurlike strewe het na skoonheid. En daarmee bedoel ek nie dat hulle daarvan hou om hulself skoon te skrop met seep en waslap nie: Baie duidelik is daar ‘n paar mense op hierdie aarde wat nie daardie strewe het nie. Nee, ek verwys na die beginsel van skoonheid as die ou Afrikaanse vertaling van die Engelse woord, “Beauty.”

Dit is moeilik om die effek van ons verlange na skoonheid te onderskat. Ons dink nie baie daaraan nie, maar dit is dikwels een van die primêre dryfkragte in ons prosesse van besluitneming. Jy kan dit nie vermy nie: Jy kan dit nie ontken nie. Jy kan probeer om die verlange in jou te onderdruk – jy kan probeer om dit op bose maniere te versadig – maar jy kan nie wegkom van die onbetwisbare feit dat bykans alles van wie jy is en wat jy doen daardeur beïnvloed word nie.

Dit is nou maar eenmaal net ‘n feit dat selfs die koudste mensehart versmelt wanneer dit ‘n wynrooi sonsondergang sien. En die glinsterende prag van die nagtelike hemel laat selfs die grootste ateïste in verwondering staan. Mense soek skoonheid: Ons kuns, ons musiek en ons argitektuur – hoe verdraaid ook al – is die produk van hierdie soeke.

Dis hier waar die Bybelse konsep van die mens wat geskape is na God se beeld ons nogal help. Daar is natuurlik baie debatte oor wat presies dit beteken om na die beeld van God geskape te wees. Maar ten minste een van die implikasies behoort te wees dat ons geskape is met die doel om God se skoonheid – sy mooiheid – uit te leef en na te streef.

“o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in ‘n dor en uitgedroogde land, sonder water. Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien. Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.”
Psalm 63:2-4


Ons verlange na skoonheid en heerlikheid is dus onvermydelik. Soos die vier kinder-konings in Narnia die op ‘n jagtog is vir die Wit Takbok, so is die hele mensdom op ‘n jagtog na ware skoonheid.

Mens sien dit selfs op ‘n verdraaide manier in die Sparkle Creed. Die woke skrywers agter die belydenis het ‘n verdorwe idee oor skoonheid, maar mens sien hul poging om hierdie dimensie na vore te bring duidelik raak in frases soos “the rainbow Spirit, who shatters our image of one white light and refracts it into a rainbow of gorgeous diversity” en “whose feet are grounded in mud and whose eyes gaze at the stars in wonder.”

Die probleem wat ek met die woke beweging en die Sparkle Creed het is nie dat hulle soek na skoonheid nie: My probleem is dat hulle die skoonheid van God en sy skepping verruil het vir ‘n figuurlike hopie olifant-mis en hulle dink dis beter. En dis die volgende punt van hierdie artikel.

Hoe die woke beweging skoonheid gemis het

Een van die groot probleme met die woke beweging is dat hulle die skoonheid, lieflikheid en mooiheid van God en sy skepping heeltemal vuilsmeer. Hulle wil graag dink dat hulle in verwondering opkyk na die sterre – maar in werklikheid rol hulle in die modder saam met die varke.

Hier’s ‘n voorbeeld: Dink bietjie só aan die drag-koninginne wat die woke beweging nou voorhou as ‘n normale manier vir ‘n man om sy seksualiteit uit te leef. Is dít nou mooi? Is dit die skoonheid, diepte en lieflikheid van wat dit beteken om ‘n man te wees? Tog nie: Dit is afskuwelik. Natuurlik moet ons as Christene sulke mense met liefde en sagmoedigheid behandel. Maar ons mag nie sag wees in ons veroordeling van hul lewensstyl nie, veral nie wanneer hulle so ver begin gaan om kinders daarby te betrek nie.

Ons sien ook in die Sparkle Creed hoe die woke beweging die dimensie van skoonheid verdraai. Hierdie belydenis is duidelik in die styl van die Apostoliese Geloofsbelydenis, maar met ‘n belangrike verskil: Die Apostoliese Geloofsbelydenis vat die mees skone waarhede van die eeu-oue geloof van Christus se Bruid saam in ‘n paar sinne. Daarteenoor sit die Sparkle Creed met ‘n “fabulous tunic” ‘n “AIDS quilt” en die drie-maal heilige afgod van “love is love is love.”

Die fundamentele rede waarom die woke beweging se Sparkle Creed lyk soos ‘n mishoop langs die heerlikheid van die Apostoliese Geloofsbelydenis is omdat skoonheid nooit geskei kan word van waarheid nie. Die Apostoliese Geloofsbelydenis het ‘n diepte en ‘n rykdom wat die toets van millennia deurstaan het. En dit het hierdie diepte en rykdom omdat dit staan op die fondasie van die waarheid van God se Woord.

Plus minus 1900 jaar gelede het gelowiges al begin om hul geloof te bely met ‘n weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis. En as die HERE wil sal ons nageslagte 1900 jaar van nou af steeds hul geloof bely met hierdie kosbare woorde. Waar sal die Sparkle Creed dan wees? Die Apostoliese Geloofsbelydenis het eeue van dwaalleer, sosiale konflik en oorloë deurstaan. Dit het al menige koninkryke oorleef! Is die Sparkle Creed van dieselfde soort duursaamheid gemaak? Ek dink nie so nie.

Ons antwoord vir die woke beweging

Ons, as Christene, moet die tye ken. Of beter gesê: Ons moet die monsters van die tye ken. En die monster van ons tyd is sonder twyfel die woke beweging. Dis nodig vir ons om ons wapenrusting aan te trek en hierdie monster aan te durf in die geloof. Ons moet die swaard uit die skede trek, die skild voor ons borste vasdruk en hierdie draak se kop afkap.

In praktyk beteken dit, ons moet evangeliseer. Ons moet met die woke mense by die werk gesels oor Jesus Christus.

Hoekom? Wat het Jesus met dit te doen?

Wel, Hy is die skoonheid waarna hulle en ons almal soek. Kolossense 1:27 praat van Jesus as “die hoop van [ons] heerlikheid.” Hy is die Een op wie ons hoop vir heerlikheid en skoonheid: Hy is die Een wat heerlikheid en skoonheid vir ons bring. “Hy is die Beeld van die onsienlike God” (Kol. 1:15) en daardie God, wat Jesus uitbeeld hou lieflikhede in sy regterhand, vir ewig (Ps. 16:11).

So waar gaan jy skoonheid kry? Waar gaan jy eer en heerlikheid en lieflikheid en mooiheid kry?

By die God-Man wat aan die kruis gehang het vir jou sondes. By die Een waarvan die Apostoliese Geloofsbelydenis praat:

  • “… Ek glo Jesus Christus sy [die Vader se] eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
  • wat gely het, onder Pontius Pilatus gekruisig, gestorwe en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood,
  • opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God die almagtige Vader
  • vanwaar Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel….”

Daar is die antwoord op die woke beweging. Daar, in die hemel, daar sit Hy. Ware heerlikheid, ware skoonheid, ware heiligheid. Ons Here en ons God. Hy is die antwoord vir die woke beweging.

NOTAS:

  1. https://twitter.com/JoelWBerry/status/1673844685608026113?s=20 ↩︎
  2. https://twitter.com/WokePreacherTV/status/1673759256263430144 ↩︎
  3. https://religionunplugged.com/news/2023/7/20/a-new-interpretation-of-faith-the-story-behind-the-lgbtq-inclusive-sparkle-creed ↩︎
  4. https://www.thegospelcoalition.org/essay/feminist-theology/ ↩︎
  5. https://en.wikipedia.org/wiki/Black_theology ↩︎

Lewer kommentaar