Soos in die hemel: ‘n Meditasie oor die roeping van die kerk

Pieter van Deventer

Wat is die roeping van die kerk – wat moet jou kerk en my kerk probeer om te doen op hierdie klippie wat ons “aarde” noem? Ek dink die roeping van die kerk kan die beste opgesom word soos dít: Om te bid, “Laat u koninkryk kom” en dan op te tree asof ons dit bedoel. 

Ek is besig om te lees deur Peter Leithart se boek, The Kingdom and the Power. Daarin maak hy ‘n interessante opmerking. Hy sê ons moet God se koninkryk verstaan as drie rewolusies: ‘n Rewolusie in die hemel, ‘n rewolusie in die tempel en ‘n rewolusie op die aarde (Leithart, 1993:19-20). 

Die hemele word geskud

God se koninkryk begin om te kom wanneer dinge radikaal verander in die hemel. Die Ou Testament is baie oop oor die feit dat Satan ‘n plek in die hemel gehad het (Job. 1-2). Hy het ‘n plek in die hemel gehad omdat hy reg was oor wat hy daar gesê het. Hy het die mens daar aangekla, en sy klagtes was waar. 

Maar Jesus se geboorte, lewe, kruis en opstanding skud die fondasies van die hemele. Die Satan verloor sy reg tot die hemel. En Christus neem sy plek in – nie as aanklaer van die mens nie, maar as Verlosser. 

“Toe sê Hy vir hulle: ‘Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.’” (Luk. 10:18, 2020 Vertaling).

Die mitologiese koninkryk

C.S. Lewis (1998:Elektronies) praat treffend van Jesus, as die mite wat ‘n feit geword het. As mens so kan praat van die Koning, kan mens sekerlik ook so praat van sy koninkryk. Die koninkryk van die hemele wat neerdaal op die aarde is die koninkryk van mite wat die koninkryk van feit word. 

Ons is nie alleen nie. Daar is mitologiese wesens wat die skepping met ons deel – wesens wat ons breedweg beskryf as engele en duiwels. God bring sy koninkryk eerstens onder hierdie wesens. Hy begin sy koninkryk in die hemel.

En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” (Rom. 12:7-9).

…Net so ook op die aarde

Die draak is uit die hemel uitgewerp. Maar hy kraai nog koning oor die aarde (vir nou). Die roeping van die kerk is om te bid dat God met die aarde sal doen wat Hy met die hemel gedoen het. En dan op te tree asof ons dit bedoel het. 

Die Koning van die hemel is besig om Koning van die aarde te word. Wat begin het in die hemel word voltrek op die aarde. Die einde is in sig: Die Koninkryk van God is naby. En ons moet vir mense vra: “Wat gaan jy doen, as alle mites in feite verander? Wat gaan jy doen, as die hele aarde Koninkryk is?

Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” (Matt. 6:9,10).

Bibliografie

  • Leithart, P.J. 1993. The Kingdom and the Power: Rediscovering the Centrality of the Church. New Jersey: P&R Publishing. 
  • Lewis, C.S. 1998. “Myth Became Fact” in God in the Dock. Grand Rapids: Eerdmans. [Elektronies].

Lewer kommentaar