Suider-Afrika se Goue Eeu

Francois van Deventer

In die 1980’s het ons by my Oupa en Ouma se huis “ingebreek”… (Of dit kon vir ‘n buitestander wel so gelyk het…) My Oupa het vir die weermag gewerk en hulle het ‘n huis gehad in Vahalla. Hulle huis was reg langs die Weermag Aanhoudings Barakke, waar my Oupa ‘n militêre polisieman was. Ons wou daardie Sondag vir hulle gaan kuier, soos die gewoonte was elke Sondag, maar hulle was nie daar nie. Ons het toe om die huis gestap. Die sitkamervenster was oop. Ons het deur die venster ingeklim en vir hulle in die sitkamer gewag… Ons is nie gearresteer nie… ‘n Waghond het ons nie opgevreet nie.

Dit klink vandag amper onwerklik. Vandag sal jy nie naby aan ‘n sitkamervenster kan kom nie. Jy sal eers die gefortifiseerde mure en heinings om die huis moet trotseer en dan die kamera’s en alarmstrale. Dan praat mens nie eens van die wreedaardige hond en gewapende reaksiemag nie. Wat sekuriteit en veiligheid aanbetref het ons definitief agteruitgeboer in die nuwe Suid-Afrika.

Daar is al meer mense wat ontevrede is oor al die slaggate, die kragonderbrekings, die wanbestuur, die onveiligheid. Baie medici, rekenaarkundiges, rekenmeesters, onderwysers, ingenieurs het na die VSA, Europa, en Australië geëmigreer (Business Tech 2023). Een goeie ding wat gebeur het, is dat die status quo bevraagteken word. Die vraag is egter wat moet gebeur? Sal die nuwe SA verval in ‘n tipe DRK of ‘n tipe USSR? Of sal uit die chaos ‘n goue eeu soos die Nederlande van 1575-1675 opkom, of iets anders? Sal beter dae ooit weer aanbreek? Of is ons maar net uitgelewer aan die intriges van die geskiedenis? Kan mens iets leer van wat in die verlede gebeur het of is alles maar net chaos totdat ons eendag sterwe? Of die wederkoms aanbreek?

Die Nederlandse Goue Eeu

Wanneer ons wonder oor die vraag waarheen ons oppad is, dan help dit om te probeer leer uit die geskiedenis. Vir Afrikaners is die Nederlandse geskiedenis van belang, want ongeveer ‘n derde van ons voorgeslagte is van daar afkomstig en Afrikaans het ook uit Nederlands ontwikkel.  Dit is egter ook van belang vir ons omdat daar ook ‘n voorbeeld in opgesluit is hoe ‘n klein landjie en klein volkie kon opstaan en verstommend suksesvol kon word ten spyte van :

  • die 80 jarige burgeroorlog,
  • geen natuurlike hulpbronne nie en
  • teenstand deur ‘n magtige wêreldkoningkryk (Spanje).

Peterson skryf in sy “Lessons in Liberty: The Dutch Republic, 1579-1750” (Fee.org : 1987) dat “The modern world provides us with hundreds of examples of what happens when a nation adopts the philosophy and practices of socialism. Certainly we can learn from bad examples—about what not to do—but we can learn equally well from good examples. Unfortunately, such positive “role models” are few and far between…The Dutch Republic is one example that has been often overlooked… Newly freed from Spanish oppression, the Dutch built one of the world’s great civilizations.”

Peterson verduidelik die grootsheid van Nederland van die 1600 deur te verwys na hulle monopolie op skeepsvaart en op die voorpunt wees met handel, kunste en wetenskap. Forbes vertel dat Pieter die Grote (van Rusland) Nederland en ander Noord Europese stede besoek het om inligting te versamel om Rusland te moderniseer. Hy modeleer dan ook St Peterburg op Amsterdam (Forbes 2017).

Nederlandse invloed tydens die goue eeu

Die Nederlandse Republiek was eintlik sewe republieke gewees wat konfederaal met mekaar saamgewerk het. Dus was mag gedesentraliseerd gewees.

Sewe Verenigde Nederlandse Republieke 1579-1795

Vele skrywers soos die Japanees-Amerikaanse Fukuyama en Gordon Redding, professor in Bestuurswese en Direkteur van die Universiteit van Hong Kong se Besigheidsskool en ook Max Weber (The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism) is van mening dat daar ’n verband is tussen hoe die Reformasie van die 1500’s die samelewings verander het en die voorspoed wat daarop gevolg het. M.a.w. hulle bevestig vir ons Lev 26 en Deut 28 (Sien nota in bronnelys by Lev 26) nl. dat verbondsgehoorsaamheid tot seën lei en dat verbondsongehoorsaamheid tot afval en vernietiging lei.  Ook Peterson lys die invloed van die Bybel en Calvinisme as ’n faktor.

Hierdie Protestante Lewenshouding (die Weberiaanse werksetiek) sluit die volgende in (Fukuyama 1995:45):

  • Die tendens om vroeg op te staan en fisies hard te werk
  • Spaarsamigheid
  • Rasionele benadering om probleme op te los
  • Die totale besigwees met die hier-en-nou wat indiwidue help om die natuur te bemeester deur innovasie en arbeid

Gordon Redding stem saam met Fukuyama en sê (Redding 1990:10): 

“Weber wou nie so seer verklaar hoe die ‘gees van moderne kapitalisme’ (Weber 1905) van dag tot dag werk nie. Hy was meer daarop gefokus om te verklaar waar hierdie ‘gees van moderne kapitalisme’ in die eerste plek vandaan kom… Hy het dit teruggespoor na die asketiese weergawes van Protestantisme wat opgegroei het nadat die Reformasie die aanbiddings monopolie van die Rooms Katolieke Kerk verbreek het… Die hoof Protestante relevante etiek was:

  • Getrouheid in jou wêreldse roeping en beroep, insluitend die besigheidswêreld
  • Asketisme
  • Die sistematiese gebruik van tyd (nie vermorsing van tyd)”

Fukuyama gaan nog verder en maak nog ‘radikaler’ waarnemings:

“Hy [Weber] wou verstaan hoekom moderne kapitalisme en ander aspekte van modernisme soos natuurwetenskap die rasionele bemeestering van die natuur juis in die Protestante Weste en nie in Sjina, Japan, Korea of Indië tot stand gekom het nie. En op hierdie punt is hy absoluut reg wanneer hy daarop aandring dat die tradisionele kulture in hierdie gebiede vyandig was teenoor ekonomiese modernisme. Eers toe laasgenoemde van buite af binnegebring is, toe Sjina en Japan kontak met die Weste gemaak het, het kapitalistiese ontwikkeling begin posvat. Sjina moes ‘politieke Confuciaanisme’ en die hele imperiale stelsel met sy gentleman-akademici afskaf; Japan en Korea moes wegdoen met hul tradisionele klasseverskille en eersgenoemde moes sy Samoerai krygsman etiek herontplooi” (Fukuyama 1995:350).

Goeie Eeu van Suid-Afrika

Indien daar diepgaande bekering onder Afrikaners en ander volkgroepe in Suid-Afrika kan plaasvind, dan kan ons verwag dat daar volgens die belofte van Lev 26 weer herstel kan plaasvind en voorspoed. Dan kan ons verwag dat die kultuureinskappe waarvan Max Weber e.a. praat weer in werking sal kom en dat ‘n beter toekoms sal volg.

Afrikaners smag na ‘n land waar hulle die HERE in vryheid kan dien sonder om deur ander groepe oorheers te word. Die ANC wil soos hul mentors (voormalige Oos-Duitsland en die USSR) imperiaal alle taal en kultuurverskille uitwis en almal in Suid-Afrika standardiseer rondom Engels. Daar is egter meer en meer aanduidings dat daar Zoeloe’s, Xhosas, Tswana’s, Griekwas ens is wat óók na selfbeskikking smag:

  • Dink maar aan die Barolong (Tswana) afvaardiging wat Orania in 2022 besoek het (The South African 2022) met “The purpose of the visit was for both tribes ‘to learn more about self-determination’”.
  • Of die AmaBhele kaJamagile (Xhosa) afvaardiging wat ‘n samewerkingsooreenkoms met Afriforum onderteken het (Afriforum 2022)
  • Of die Royal Bafokeng wat ‘n ontwikkelings plan opgestel het vir hul 130,000 stamgenote (Royal Bafokeng 2017). Hierdie plan is baie soortgelyk aan Orania s’n om te groei van dorp na stad na kanton (Maroelamedia 2023)   
  • Of die Zoeloe’s wat ‘n samewerkingsooreenkoms met Afriforum gesluit het (Maroela Media 2018). Dit is ook insiggewend dat Dr Mangosuthu Buthelezi in ‘n dankbetuigings video in 2022 (Youtube) verwys na beide die Zoeloe’s en die Afrikaners wat die vryheidsideaal verstaan. Hy verwys na die vriendskap van sy ooroupagrootjies (Konings Panda en Dinizulu) met Afrikaners  en o.a ook hul gesamentlike stryd om van Dingaan ontslae te raak. Dr Buthelezi verwys in hierdie video na sy geloof en sê “Christ is my rock on which I stand.”                          

Prof Koos Malan het vroeër vanjaar ‘n artikel geskryf met die titel “The disintegration of the South African order” (Politicsweb, 2023). In hierdie artikel wys Prof Malan op die drie faktore wat ‘n moderne staat aanmekaar hou in Suid-Afrika. Hy sê al drie hierdie faktore het reeds induie gestort of is baie naby daaraan nl:

  • Staatsideologie wat die dominante elites verenig
  • ‘n Monopolie oor staatsgeweld
  • Landswye infrastruktuur wat veroorsaak dat sleutel ekonomiese sektore laat inkoop in die staatsidee

Dr Frans Cronje dink dat Suid-Afrika meer en meer disfunksioneel gaan word en dat daar slegs eklawes gaan oorbly waar dinge nog werk (Cronje 2017:207). Dit is nie verbasend dat hy hierdie verbrokkeling betreur nie, omdat hy ‘n klassieke liberalis is vir wie taal en kultuurverskille betekenisloos is. Hy is egter reg dat die verbrokkeling wel gevare inhou.

Om die donker wolke van die chaos van die nuwe SA wat ons elke dag teister, is daar egter ‘n silwer rantjie. Die agteruitgang van die Humanistiese nuwe Suid-Afrika is ‘n geweldige geleentheid. Dit kan ‘n katalisator wees om bekering en herstel te bewerk. Dit gaan nie maklik wees nie, maar ons het voorbeelde uit die geskiedenis waar 80 jaar van oorlog en vashou daaraan om die HERE in alles te eer, gelei het tot die Nederlandse Goue Eeu.

Slot

Ons kan verwag dat soos wat die nuwe Suid-Afrika se vermoeëns afneem om belastinggeld uit te betaal aan tradisonele stamhoofde en hul vermoeëns om die sentrale staat te bestuur gaan die verskillende volke in Suid-Afrika al meer onstuimig raak. Die nuwe Suid-Afrika sal meer en meer begin verbrokkel. Indien die volke in Suid-Afrika sal sien dat ons oppad is na ‘n katestrofe en hul sal bekeer, dan kan voorspoed volg. Indien Christene in Suid-Afrika ‘n venootskap met mekaar kan aangaan net soos wat die Sewe Verenigde Nederlandse Republieke gedoen het, dan kan elkeen koning kraai oor sy eie, maar ook konfederaal saamwerk waar dit moontlik is. Zoeloe’s kan Zoeloes bly en Afrikaners Afrikaners, maar ons kan saamwerk. Hierdie konfederale samewerking sal geskoei moet wees op Klassieke Reformasie- en nie Humanistiese waardes nie. Dit is noodsaaklik om te verhoed dat hierdie geleentheid nie in nog ‘n Humanistiese mislukking opeindig nie.  Die volke in Suid-Afrika moet wees soos die Assiriërs wat hulle bekeer het nadat Jona die evangelie aan hulle gebring het en nie soos die afvallige en harnekkige Israel van ouds nie. Bekering en herstel is nou nodig…

Bronnelys:

  • Redding S. Gordon, 1990,
    The Spirit of Chinese Capitalism, Walter de Gruyter, ISBN 0-89925-657-0, p. 6, 7, 8, 9, 10, 12, 22, 38, 60, 117, 122, 124, 126, 197, 228, 232, 233
  • Rees-Mogg William & Davidson James, 1997,
    The Sovereign Individual, Simon & Schuster Inc, ISBN 0-330-35305-5, p. 9, 11, 12, 14, 15, 17, 121,122,123, 153-158, 209, 215, 216, 296, 297, 298, 351, 353, 368, 370, 372
  • Weber, Max, 1905, The Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism. 

Lewer kommentaar