Oorwinning ten spyte van vervolging

Augustusmaand gedenk ons Bartolomeusnag en die 20,000 Hugenote wat vermoor is in Frankryk. In Oktobermaand dink ons weer na aan die Reformasie van Martin Luther toe hy sy 95 stellings teen die kerkmuur opgeslaan het. Hierdie twee gebeure staan in verband met mekaar, want die Bartolomeusnag was ‘n veldslag in die godsdiens oorloe wat die Roomskatolieke gevoer het in ‘n poging om die lig van die Reformasie uit Europe uit te wis.

In Nederland het die Habsburgse Koning gepoog om Protestantisme uit te wis en ‘n 80 jarige oorlog het gevolg. In Duitsland was daar ‘n 30 jarige oorlog en in Frankryk ‘n 136 jarige oorlog. In Nederland en Duitsland was die Protestante suksesvol terwyl Hugenote uit Frankryk gevlug het. Tussen 4 miljoen en 8 miljoen gelowiges het in hierdie oorloë gesterf.

Dit is so, dat die vervolging van Christene in die Weste gestaak is nadat ons voorgeslagte in 1648 hul 80 jarige oorlog gewen het. Dit het egter ook die goue eeu van Nederland ingelui en moontlik gemaak dat Afrikaners aan die suidpunt van Afrika kon groei tot ‘n volk. Dit is opmerklik met watter doelgerigdheid die handelspos aan Kaap van Goeie Hoop gestig is. Daar is van Jan Van Riebeeck en die amptenare verwag om elke raadsvergaderig te open met hierdie gebed:

“Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader, dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in water mate ook al op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus … wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is, … Amen”

Vervolging van Christene het egter die afgelope jare weer begin en vandag word Christene weer vermoor, in tronke gegooi en gemartel. Kom ons dink ook na aan die gelowiges in Noord Korea, Somalie, Nigerië, Indië en Pakistan. Verlede jaar was daar 5,014 Christene wat in Nigerië vermoor is vir hul geloof (Christianity Today 17 Jan 2023).

Daar is egter ook voorbeelde in Westerse lande. In Findland word Päivi Räsänen (parlementslid en mediese dokter) vervolg omdat sy homoseksualiteit as sonde en onbybels veroordeel het in ‘n pamflet. Sy is laas jaar onskuldig bevind aan “haatspraak” deur die Finse Distrikhof, maar die voormalige Finse Vervolgings Generaal het geappeleer. Indien Päivi skuldig bevind word, staar sy ‘n boete en tronkstraf in die gesig.

“[Toe] sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.” (Openb 6:9-11)

Lewer kommentaar