“Voltaire… refused to allow his friends to discuss their unbelief in the presence of his servants. He would silence them when the servants were going to come in with refreshments because he said, ‘If they believe there is no God, then they will slit my throat and rob me of everything because there is no judge beyond the universe to judge them in due time.’”[1]
Voltaire demonstreer vir ons die skynheiligheid en bankrotskap van die wêreldbeeld waarop ons hedendaagse samelewing gebou is. Aan die een kant vertel humanistiese filosowe, soos Voltaire, vir ons dat God nie bestaan nie en daarom dat moraliteit arbitrêr en onwerkbaar is, maar aan die ander kant wil hulle die goeie vrugte van ʼn Godvresende en moreelgefundeerde samelewing hê.
Die afgelope 250 jaar het hierdie goddelose wêreldbeeld se doodsvrugte (Matt 7) duidelik geword:
- 3.5 miljoen mense dood a.g.v. die Franse Rewolusie en die nagevolge[2]
- 100+ miljoene mense dood in naloop van die Russiese Rewolusie [3]
- 73 miljoen babas vermoor deur aborsie elke jaar[4]
- Die Weste is besig om in te plof en boeke met titels soos “The Rise and Fall of the West”[5] en “Death of the West”[6] begin te verskyn
In die 1860’s was daar stamme in die Suid-See eilande noord van Nieu-Seeland wat gedurig in stamgevegte betrokke geraak het. Hulle het niks daarvan gedink om vriend en vyand met ‘n knuppel dood te slaan en dan hul liggame op te eet nie. Hulle het geglo dat hulle liggame die krag van jou vyand opneem en jou sterk maak. John Paton was ‘n Presbiteriaanse predikant en mediese doktor wat vanaf die 1860’s vir 30 jaar sendingwerk onder hierdie eilandbewoners gedoen het. Menigmaal moes hy vir sy lewe vlug. Ander sendelinge is vermoor, maar John het moedig die evangelie tydig en ontydig verkondig. Na baie jare rapporteer hy as volg oor sy werk:
“Die eerste spore van ‘n nuwe sosiale orde het sigbaar geword. Al die inwoners, jonk en oud, het nou skool bygewoon ! Diefstalle, rusies, misdade, is nou nie meer besleg deur die knuppel nie, maar deur boetes of lyfstraf, soos ooreengekom deur die hoofmanne en hul mense. Alles was vinnig en seker besig om “nuut” te word onder die invloed van die suurdeeg van Jesus. Nywerheid het toegeneem. Hutte en plantasies was veilig. Vroeër het elke man op reis al sy waardevolle besittings saam met hom gedra, nou is dit veilig, by die huis gelos. In heidense dae, daarenteen, sou broeihenne of ‘n werpsel varke in sakke gedra word sodat hulle nie gesteel sou word nie. Daarom het ons by die kerk soms luidrigtige episodes gehad, die tjirp van kuikens, die gil van varkies en die geblaf van hondjies. Die een het vrolik op die ander gereageer terwyl ons gesing, of gebid het, of die Evangelie verkondig!… Die inboorlinge het hierdie chaos lastig en onaangenaam gevind. Hulle het ‘n Algemene Vergadering belê, waarop oneerlikheid eenparig veroordeel en boetes ingestel is. Die hoofmanne het dit ongetwyfeld ‘n lang en moeilike taak gevind, maar hulle het onder die inspirasie van die Evangelie volhard en die oorhand gekry. Selfs die beproewinge en moeilikhede waarmee hulle te kampe gehad het, is deur God gebruik, deur hulle te help om deur die lig van hul eie ervaring ‘n eenvoudige kode van sosiale wette te vorm. Dit was geskik om die misdade wat daar heers te onderdruk, en om die deugde aan te moedig wat spesiaal nodig is, is gekweek. Heidense aanbidding is geleidelik uitgewis; en alhoewel niemand verplig was om kerk toe te kom nie, het elke persoon op Aniwa, sonder uitsondering, oor baie jare aanbidders van God geword.”[7]
Ons Germaanse voorgeslagte was net soos hierdie Aniwawese heidene gewees. Die Grieke het vir ons opgeteken hoe ons voorgeslagte was:
“Barbare kan nie logies dink of doen nie. Teologiese geskille is vir hulle Grieks… Barbare word gedryf deur bose geeste; besete met demone wat hulle dring om die verskriklikste dade te pleeg… onbekwaam om volgens geskrewe wette te lewe en onwillig toelaat dat konings hulle regeer… Hulle lus vir goud is ontsaglik, hul liefde vir drank grensloos. Barbare is sonder perke… Alhoewel hulle oor die algemeen aantreklik lyk, het hulle aaklige persoonlike higiëne… Hulle voortplantings energie is onuitputlik… As ‘n barbaarse volk teruggedryf of verwoes word, dan kom ‘n ander een uit die Duitse moerasse en woude na vore…”[8]
Die Germaanse Christelike volke, insluitend die Afrikaner, het hul rug op God gedraai. Ons is weer oppad daarheen om volke te word wat wild en woes en goddeloos is. Ons maak mekaar dood, ons dood ons ongebore kinders. Ons herdefinieer die gesin om onbybels te wees. Ons goddelose dade wys dat ons nie die HERE se oordeel vrees nie. Vir ons is die inploffing van die voormalige Christelike Weste ‘n toevalligheid.
Die oplossing is om weer terug te keer na die Evangelie wat deur getroue predikante soos John Paton verkodig word. Afrikaners moet op hul kneë gaan en weer die ware God aanbid en ons instellings inrig volgens die Bybel… Dan sal dit weer goed gaan. Dan sal Deut 28 se seëninge weer vir ons waar word. Dit gaan nie help om soos Voltaire die uiterlike voordele van Godsaligheid na te strewe sonder die innerlike geloof nie. Daar sal moet bely word dat die sondeval ons almal teister en dat gedurig gewaak moet word teen die sonde. Diepgaande bekering is nodig.
1. https://pocketcollege.com/transcript/RR161CT178.html
3. The Black book of Communism, Courtois S et al, Hardvard University Press, 1999, p. 4
4. https://www.guttmacher.org/fact-sheet/induced-abortion-worldwide
5. Kevin Swanson
6. Pat Buchanen
7. Thirty years with South Sea Cannibals, 1927, Paton JG, Hodder & Stoughton London, p167-168
8. Herwig Wolfram, The History of the Goths, p 6-7