Alle paaie lei na…

Alle paai lei na…

Wat is die middelpunt van die aarde? Die modernis antwoord sekerlik dat die middelpunt van die aarde die kokende magma ‘n klompie kilo’s onder ons voete is. Maar dis nie die soort middelpunt wat ek bedoel nie. Ironies genoeg, as jy ‘n antieke Israeliet gevra het waar die middelpunt van die aarde is, sou hy geantwoord het dat dit die tempel in Jerusalem is. Die tempel op die berg – die tempel wat letterlik en simbolies so ver as kan kom van die kokende magma in die pens van die aarde verwyder is. 

Ek lees steeds lekker aan Leithart (1993) se boek, The Kingdom and the Power. Ek wil in hierdie artikel kortliks gesels oor ‘n baie interessante gedagte wat hy oor die kerk het. 

Dit wat nie draai nie

Wat beteken dit vir iets om die middelpunt van die aarde te wees? Dit beteken dat daardie ding die ding is wat regop staan, selfs al is alles anders krom. Die middelpunt is die standaard.

Ek herinner my aan C.S. Lewis se beskrywing van die engele in sy ruimte drieling. Hierdie wesens het aan Ransom verskyn as pilare van lig. Weens die beweging van die aarde het hierdie pilare soms gedraai. Maar Ransom het altyd gevoel asof die engele regop staan – dis die aarde wat beweeg en draai, die engele het ware “regopheid” vergestalt en alles anders moes daarteen gemeet word.

Alle paaie lei na Jerusalem

Leithart (1993:87) begin: “Despite the later pretensions of the Romans, every Hebrew knew that all roads led to Jerusalem.” Die Bybel praat van Jerusalem – en spesifiek van die tempel in Jerusalem – as die middelpunt van die aarde. Die profete praat van al die nasies wat sal optrek na Jerusalem om die HERE daar te aanbid (Jer. 3:17). Die volke sal die berg waarop God se tempel gebou is kom uitsoek en daar vrede maak met mekaar (Jes. 2:2-4). 

Alle paaie lei na niks

Ons tydsgees het al ‘n bietjie verder gevorder op die pad van verdorwenheid as die Romeine van ouds. Vandag het mense al vergeet dat alle paaie lei na Rome. Mense beweer nie eens dat alle paaie na New York of Las Vegas lei nie. Vandag leef mense onder die vaandel van “Alle paaie lei na niks.” 

Die mens het homself die standaard gemaak: Hy het homself die middelpunt van die aarde gemaak. Maar toe vind hy uit dat hy nie êrens heen kan gaan om homself te vind nie. Die beste pad na die self is die pad na die sitkamerbank. En so, alle paaie lei na niks. Of dalk  eerder: Alle paaie lei na ‘n oorgewig middeljarige man wat by sy ouers bly en fokus op sy Fortnite K/D. 

Alle paaie lei na die kerk

Wat is dan die middelpunt van die aarde, vandag? Die maklike antwoord is natuurlik Jesus. Hy is die ware tempel. Hy is die ware Jerusalem. Hy is die ware standaard. Hy bly altyd regop, selfs al is alles anders krom.

Maar daar is nog ‘n antwoord: Die kerk. Alle paaie lei na die kerk. Die kerk is mos ook God se tempel (2 Kor. 6:16). En die nasies stroom tot God se berg soos die kerk van hulle dissipels maak (Matt. 28:19).

Dit beteken dat ons byeenkoms by die kerk elke Sondag ‘n ding is wat regop staan in ‘n krom wêreld. Ons kom na die kerk om ons eie krom harte reguit te maak. Ons kom na die kerk, want die liggaam van Christus is ook die middelpunt van alle dinge. 

Bibliografie

  • Leithart, P.J. 1993. The Kingdom and the Power: Rediscovering the Centrality of the Church. New Jersey: P&R Publishing. 

Die dood van konserwatisme

Ek is konserwatief. Ek is baie bly om myself met hierdie groep in die samelewing te vereenselwig. Maar ‘n mens moet ook eerlik wees oor die tekortkominge van jou eie groep. Hy wat bereid is om homself te oordeel, se oordeel oor ander is baie skerper. 

In daardie gees was dit beslis stimulerend om by Van Ruler (2015:Elektronies) ‘n gedagte raak te lees oor die dood van Jesus, wat hy toepas op konserwatisme. Ek wil hier kortliks sy insigte bespreek, en ‘n paar gedagtes van my eie los.

Die dood van ‘n ding

Hoe bereik iets sy doel? Van Ruler (2015:Elektronies) skryf: “The grains of wheat must fall to the earth. There they die. This done, they bring forth fruit, even a thousand fold. In other words: things must go through death, through the end, through the transition, even through the nihil, if they want to attain their purpose.”

Die stories wat God skryf, is stories van dood en lewe: Van lewe deur dood. Dit is stories waar die helde sterf en drie dae later opstaan. Dit is stories waar die goud bewaak word deur ‘n vurige rooi draak. In God se stories bereik iets sy doel wanneer dit sterf.

Die dood van ‘n Adam

Mens moet natuurlik versigtig wees om te spekuleer oor dinge waaroor die Skrif stil is. Maar daar is ‘n plek om lyne te trek. As ons dit doen, kan mens argumenteer dat selfs Adam sy doel sou bereik het deur te sterf. Of ten minste: Hy sou sy doel bereik het deur ‘n simboliese dood. 

Alreeds toe Adam ‘n vrou ontvang het, het hy ‘n simboliese dood gesterf. God het ‘n diep slaap oor hom gebring en hom oopgeklief om uit hom ‘n vrou te bou (Gen. 2:21). Adam het net soveel gesterf soos wat elke moeder sterf wanneer sy geboorte gee. 

Dit is dan nie vergesog om aan te neem dat Adam ook sou sterf om sy verdere doel te vervul nie. God se bevel om die tuin te bewerk en te bewaak (Gen. 2:15) impliseer ‘n vyand: Dit impliseer ‘n slang. En soos ons later in God se Storie sal uitvind, hierdie slang se kop word op ‘n baie spesifieke manier verpletter. Hierdie slang se kop kraak onder die voet van ‘n sterwende Man. 

Die dood van konserwatisme

Van Ruler (2015:Elektronies) gaan verder: “There are people who want to keep things completely under their own control. They want to keep things as they are. These are the conservatives.”

Die probleem met konserwatisme, is dat dit dinge van hul doel weerhou. Om die beeld van N.D. Wilson (2021:YouTube) te gebruik: Die konserwatiewes sit plastiese beskerming oor sitkamer banke: Ons wil 50 jaar van nou af na die bank kan wys en sê: “Kyk! Dis nog presies soos toe ek dit gekry het!” Konserwatiewes spesialiseer in preservering. 

Maar God se stories werk anders. In God se stories bereik dinge hul doel, nie wanneer dit stof gaar in ‘n glaskas nie. In God se stories bereik dinge hul doel deur te sterf. 

‘n Seerowerskip!

N.D. Wilson brei verder uit op sy gedagte: Ons moet aan al ons instellings begin dink as seerowerskepe. Jou kerk, jou skool, jou Christelike universiteit, jou gesin – dit alles bestaan vir ‘n doel. Die doel is om die goud te gaan haal. In die proses moet jy verwag dat die seerowerskip – die instelling – ‘n paar skrape gaan optel. Die doel is nooit om die seerowerskip te preserveer nie. Seerowerskepe hoort eenvoudig nie in museums nie. Die doel is om die seerowerskip te verloor en die goud te wen. 

Bibliografie

  • Van Ruler, A.A. 2015. I Believe: The Twelve Articles of Faith in Morning Devotions. Translated by Garth Hodnett. Xlibris Publishing. [Elektronies].
  • Wilson, N.D. 2021. The Gospel of Winning [YouTube]. Beskikbaar by: https://youtu.be/P44AU-dae6s?si=hO2qtxCC3N2EYWGx