Die dood van konserwatisme

Ek is konserwatief. Ek is baie bly om myself met hierdie groep in die samelewing te vereenselwig. Maar ‘n mens moet ook eerlik wees oor die tekortkominge van jou eie groep. Hy wat bereid is om homself te oordeel, se oordeel oor ander is baie skerper. 

In daardie gees was dit beslis stimulerend om by Van Ruler (2015:Elektronies) ‘n gedagte raak te lees oor die dood van Jesus, wat hy toepas op konserwatisme. Ek wil hier kortliks sy insigte bespreek, en ‘n paar gedagtes van my eie los.

Die dood van ‘n ding

Hoe bereik iets sy doel? Van Ruler (2015:Elektronies) skryf: “The grains of wheat must fall to the earth. There they die. This done, they bring forth fruit, even a thousand fold. In other words: things must go through death, through the end, through the transition, even through the nihil, if they want to attain their purpose.”

Die stories wat God skryf, is stories van dood en lewe: Van lewe deur dood. Dit is stories waar die helde sterf en drie dae later opstaan. Dit is stories waar die goud bewaak word deur ‘n vurige rooi draak. In God se stories bereik iets sy doel wanneer dit sterf.

Die dood van ‘n Adam

Mens moet natuurlik versigtig wees om te spekuleer oor dinge waaroor die Skrif stil is. Maar daar is ‘n plek om lyne te trek. As ons dit doen, kan mens argumenteer dat selfs Adam sy doel sou bereik het deur te sterf. Of ten minste: Hy sou sy doel bereik het deur ‘n simboliese dood. 

Alreeds toe Adam ‘n vrou ontvang het, het hy ‘n simboliese dood gesterf. God het ‘n diep slaap oor hom gebring en hom oopgeklief om uit hom ‘n vrou te bou (Gen. 2:21). Adam het net soveel gesterf soos wat elke moeder sterf wanneer sy geboorte gee. 

Dit is dan nie vergesog om aan te neem dat Adam ook sou sterf om sy verdere doel te vervul nie. God se bevel om die tuin te bewerk en te bewaak (Gen. 2:15) impliseer ‘n vyand: Dit impliseer ‘n slang. En soos ons later in God se Storie sal uitvind, hierdie slang se kop word op ‘n baie spesifieke manier verpletter. Hierdie slang se kop kraak onder die voet van ‘n sterwende Man. 

Die dood van konserwatisme

Van Ruler (2015:Elektronies) gaan verder: “There are people who want to keep things completely under their own control. They want to keep things as they are. These are the conservatives.”

Die probleem met konserwatisme, is dat dit dinge van hul doel weerhou. Om die beeld van N.D. Wilson (2021:YouTube) te gebruik: Die konserwatiewes sit plastiese beskerming oor sitkamer banke: Ons wil 50 jaar van nou af na die bank kan wys en sê: “Kyk! Dis nog presies soos toe ek dit gekry het!” Konserwatiewes spesialiseer in preservering. 

Maar God se stories werk anders. In God se stories bereik dinge hul doel, nie wanneer dit stof gaar in ‘n glaskas nie. In God se stories bereik dinge hul doel deur te sterf. 

‘n Seerowerskip!

N.D. Wilson brei verder uit op sy gedagte: Ons moet aan al ons instellings begin dink as seerowerskepe. Jou kerk, jou skool, jou Christelike universiteit, jou gesin – dit alles bestaan vir ‘n doel. Die doel is om die goud te gaan haal. In die proses moet jy verwag dat die seerowerskip – die instelling – ‘n paar skrape gaan optel. Die doel is nooit om die seerowerskip te preserveer nie. Seerowerskepe hoort eenvoudig nie in museums nie. Die doel is om die seerowerskip te verloor en die goud te wen. 

Bibliografie

  • Van Ruler, A.A. 2015. I Believe: The Twelve Articles of Faith in Morning Devotions. Translated by Garth Hodnett. Xlibris Publishing. [Elektronies].
  • Wilson, N.D. 2021. The Gospel of Winning [YouTube]. Beskikbaar by: https://youtu.be/P44AU-dae6s?si=hO2qtxCC3N2EYWGx 

Lewer kommentaar