Is dit rassisties om stiptelik, objektief, dringend, perfeksionisties en hardwerkend te wees? In ‘n artikel van Erica Etelson met die title “Why I’m no longer woke”[1] noem sy dat dit juis van die Woke dogmas was wat sy teëgekom het. Haar artikel beskryf vir ons mooi wat in meeste Westerse universiteite, organisasies en selfs lande aan die gang is met die Kulturele Marxisme wat oral ingedring het. Sy ontbloot ook wat die uiteinde sal wees van hierdie instellings. Sy sê:

“Ek was ‘n gematigde yweraar van die woke social justice ideologie. Ek het met die meeste woke voorskrifte saamgestem, maar het gedink ons kan ons ideale beter kommunikeer…Ek het vir ‘n klein nie-winsgewende menseregte organisasie gewerk… ‘n Verandering van leierskap het die organisasie se fokus geskuif na meedoënlose uitsnuffel van enige sweempie van onderdrukker gedrag onder die personeel. Die konsep van White Supremacy Culture is ingevoer om gekleurde werknemers te beskerm teen die beweerde white supremacy verwagtinge van hul wit mede werknemers — dit is: stiptelikheid, objektiwiteit, dringendheid, perfeksionisme, harde werk. Daar was klaarblyklik geen salf te smeer aan ons rassisme nie, behalwe om ‘n laer standard van gekleurde kollegas te verwag. Dit was nie lank nie of afwesigheid, traagheid en verslapping het groot probleme geword. Intussen het die wit personeel ‘n buitensporige hoeveelheid tyd spandeer om ons bevoorregting te betreur en te kontroleer, en betrokke te raak in lang, demoraliserende gesprekke oor die meedoënloosheid van ons onderdrukkende bestaan. Befondsing het gedaal, en die organisasie het ‘n doodspiraal betree en gevou.”
Dit is nie net Erica wat krities is oor Kulturele Marxisme nie. Nie-Christene soos Elon Musk en Helen Zille is ook skepties oor waarheen die Kulturele Marxiste oppad is. Zille het ‘n boek geskryf met die titel “Stay Woke, Go Broke” en Musk het op X geskryf: “The woke mind virus is killing Western Civilization.”[2] En Jordan Peterson noem dit “Woke nonsense” en bring dit in verband met totalitarisme[3]
Dit is opvallend dat mense soos Max Weber juis kultuur eienskappe soos “stiptelikheid, objektiwiteit, dringendheid, perfeksionisme, harde werk” uitgewys het wat via die 1500 Reformasie die sukses van Noord Europa veroorsaak het. Die Reformasie het die Noord Europiëse kultuur verander deur hierdie tipe waardes daar in te bed. Nou sien ons dat die Kulturele Marxiste hierdie waardes bevraagteken en dit afmaak as rassisties. Soos ons kan sien uit Erica se waarneming, gaan dit nie goed eindig nie. Nie goed vir korporatiewe maatskappye wat Kulturele Marxisme omarm nie, maar ook nie goed vir die breër samelewings wat so gedienstig wil wees aan hierdie “nuwe” ideologie wat eintlik maar ‘n ou ideologie is nie.
Ons goddelose vorste en konings hou saam raad teen die HERE en sy Gesalfde en sê dat hulle die Bybelse waardes en voorskrifte af wil gooi. Die eindresultaat is lagwekkend…. dit eindig in selfvernietiging. Soos Psalm 2 sê “Hy wat in die hemnel woon, lag; die Here spot met hulle”.
Ons kan verwag dat ons ‘n donker era gaan betree van stagnasie en agteruitgang totdat hierdie ideologie homself uitgewoed het en dit vir die mense duidelik is dat dit waansin is. Die evangelie moet verkondig word en die vorste en konings moet gehoorsaam wat in Ps 2 staan: “Wees dan verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie.” Nie voordat die bekering kom en ‘n nuwe Reformasie uitbreek sal ons enige vooruitgang sien nie.
[1] https://ericaetelson.substack.com/p/why-im-no-longer-woke
[2] https://twitter.com/elonmusk/status/1760677431961407672?lang=en