Francois van Deventer in gesprek met Dr Adi Schlebusch
Wanneer ons na ons wêreld kyk, dan lyk alles so deurmekaar:
- Kunswerke is betekenisloos en baie lyk of dit deur ‘n driejarige gemaak is.
- Die argitektuur is ‘n laslappie ervaring
- Op morele vlak word alles getollereer behalwe dit wat regsinnig is

Hierdie is egter nie ‘n toevalligheid nie… dit is die eindpunt van die goddelose denke van ons dag. Dit is soos ‘n bootjie wat doelloos en ankerloos op die storms van die see rond dobber. Hierdie denkers noem hulself postmoderniste.
In ‘n gesprek met Dr Adi Schlebusch gesels ons oor die Bybelse verhaal (narratief) teenoor die goddeloses Postmoderniste van vandag wat ontken dat daar enige meta-naratiewe bestaan. Dr Adi het sy PhD gedoen onder die tema : Strategic Narratives : Groen van Prinsterer as Nineteenth-Century Statesman-Historian
Hier is enkele grepe uit hierdie gesprek:
- Narratiewe is die raamwerk wat sin en betekenis verskaf aan ons dade en ons lewe as mense. As jy vrae vra soos: Wie is ek, Waar is ek, Waar kom ek vandaan, Waarheen is ek oppad, dan is jy eintlik besig met narratiewe…narratiewe is belangrik omdat dit ‘n singewende funksie het… om sin van die werklikheid te maak.
- Postmoderniste ontken dat ons op ‘n bepaalde tyd, op ‘n bepaalde plek, met ‘n bepaalde doel is. Alles word totaal abstrak.
- Die Bybel is ‘n narratief en wat dit treffend maak is dat God Hom nie op ‘n sistematiese manier oor die waarhede van die Christelike geloof aan ons openbaar het nie. As God wou, kon Hy dit gedoen het, maar Hy het gekies om dit nie te doen nie. Hy openbaar in die vorm van ‘n narratief.
- Daar is ‘n paradigma van Genesis tot Openbaring : Skepping, Sonde, Verlossing en Verheerliking.
- God verlos nie net ons siele nie. Dit het ook kosmiese implikasies… die hele skepping word daarby betrek.
- Christene maak sin van die werklikheid vanuit die Bybelse beginsel dat aan Christus is alle mag gegee in hemel en op aarde en dat Hy ons deur sy Gees verlos en hernu na Sy beeld. Dan is die uiteinde die herstel van die harmonie tussen God en mens en tussen God en Skepping.
- Musk en Peterson se weerstand teen hierdie nuwe vorm van goddeloosheid (woke mind virus) is nie genoegsaam nie… enige oplossing kort van ‘n terugkeer na Bybelse Beginsels en ‘n erkenning van die God wat Homself in die Bybel openbaar gaan nie die mas opkom nie… sonder die regte grondslag gaan jy nêrens kom nie…. As die HERE die huis nie bou nie, dan bou die bouers tevergeefs (Ps 127)…