

Gister was dit tyd om (kerk)familie te besoek. Ons het eers by Vrye gemeente Tafelberg ‘n draai gemaak in die Kaapstadse middestad. Hulle het onlangs besluit om hul geheel los te maak van die verloopte NG Kerkverband.
Daarna het ons by vriende middagete geniet en in die laatmiddag het ons twee Buys niggies se families aan my moederskant besoek. In die aand was die Miskes aan die beurt.
Tafelberg gemeente is besig met ‘n reeks prediking rondom die klein profete. Sondag was Habakuk onder bespreking.
Daar is deur die drie hoofstukke gelees vanuit die 1983 vertaling maar daar word uitgewys dat die vertaling van vers 4 van Hab 2 verkeerd vertaal is. Dit moes wees: “…Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.”
Teen die jaar 630 vC was Juda en Benjamin vervalle. Die 10 stamme van Israel was reeds weggevoer. Teen 600 vC was Juda reeds op ‘n morele laagtepunt. Habakuk is regverdig en roep tot die HERE om in te gryp teen die afval. Die HERE antwoord dat Hy die Chaldeërs gaan gebruik om Juda te dissiplineer. Die HERE gaan die heidene in Sy diens gebruik.
Daar sal egter ‘n toekoms en uitkoms wees vir die gelowiges wat in die geloof sal lewe (vers 2:4)
Die laaste drie verse van hoofstuk 3 klink anders as die voorafgaande. Dit getuig van bekering by Habakuk. Die omstandighede het nie verander nie. Sy hart het verander.
Die middelste deel is twee toesprake:
- Hfst 2: God praat
- Hfst 3: Habakuk se gebed
God praat
Die HERE sê dat Sy metode van werk met Juda sal op die langeduur die arrogantes nederig maak en beskaamd. Die kennis van God sal regoor die aarde versprei soos die water die seëbodem bedek. Habakuk moet die groter prentjie sien.
Habakuk se gebed
Habakuk besef dat God geprys moet word soos die berymde lied van Habakuk. Die Hebreeus wys daarop dat dit ‘n gebedslied is (sien ook Hab 3:1).
Hierdie gebed is deurdrenk dat God almagtig is. Ons moet leer wie God is. Habakuk word toegerus om met ander oë na die wêreld en God te kyk.
Hab 3:17-18 “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.”
Bg. Verwys daarna dat Habakuk die HERE kan loof want die vyeboom wat nie bot nie en droogte is die HERE se werk om sy volk tot bekering te bring en daarom is dit ook God se werk en daarom kan hy ook die HERE loof…
Vers 2:4 word drie keer in NT aangehaal. Rom 1.17, Heb 10.38, Gal 3.11. Hierdie vers word in NT verder uitgelê. Hierdie boodskap van Habakuk is dus ook vir ons vandag relevant.
Die punt is: ons moet die groter prentjie raaksien dat die HERE aan die werk is.
Ds Saayman het voorgegaan in die erediens. Die erediens volg die standaard gereformeerde liturgie van votum, seën, belydenis, wet, gebed, skriflesing, prediking, gebed en groetboodskap.
Mens dink dat niks meer goed uit die NG Kerk moontlik is nie, maar hierdie gemeente wys dat daar toe wel nog ‘n oorblyfsel was wat die HERE wil dien. ‘n Oorblysel wat vashou aan “God se Woord bo alles”.
Prys die HERE vir Habakuk gemeentes… Habakuk gemeentes wat nie net praat nie maar ook doen…