Die Sendingveld op ons Stoep

“en julle sal krag ontvang… en my getuies wees in Jerusalem sowel as Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”

Hierdie is Christus se woorde aan sy dissipels net voor sy hemelvaart. Hy brei vir ons verder uit oor hierdie opdrag:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matt 28)

Hier in Afrika, en spesifiek hier in Pretoria kan ons sê dat ons Jerusalem die noorde van Pretoria is. Ons Judea is Gauteng en ons Samaria is Suid-Afrika en die uiterstes van die aarde is nog steeds dit. Let op dat Matt 28 nie sê dat die evangelie onder losstaande individue verkondig moet word nie. Die Griekse woord is ethnos. Dus moet die evangelie aan die etniese groepe verkondig word. Ons etniese groep is Afrikaners. Ons gemeente arbei primêr onder Afrikaners en dan ook ‘n bietjie onder Tswanas.

Party maal voel ons mismoedig wanneer ons sien hoe die epidemie van slaggate en infrastruktuur-verval toeneem. Of die misdaad, sprake van vervolging en eiendomsonteiening sonder vergoeding. Die ding wat ons egter die mismoedigste maak is dat Gereformeerde Afrikaanse kerke krimp. Afrikaanse kerke maak hul deure toe.

Ons moet egter onsself herinner dat hierdie verval en agteruitgang nie toevallighede is nie. Dit is ‘n direkte uitvloeisel van mense en leiers wat nie die Bybelse Wereldbeskouing omarm nie. Dit is weens afvalligheid…

Dit is merkwaardig as mens die Taalkommissie se verslag lees oor waar Afrikaanssprekendes hulle sal bevind teen 2031. Dit is merkwaardig dat daar bykans 46,000 Afrikaners binne 5km vanaf GK Wonderboompoort sal wees (11,000 net in Pretoria Noord en 500,000 in Pretoria en bykans ‘n miljoen in Gauteng). Veral as ons dink dat daar sprake is dat Afrikaanse kerke hul deure in Pretoria Noord gaan sluit…

Die gevolgtrekking is dat dit nie ‘n gebrek aan potensiële kerkgangers is wat die probleem is nie… Die problem is dat die mense nie kerk toe kom nie. Die probleem is afvalligheid. Daar is ‘n hele sendingveld op ons stoep. Ons moet net opstaan uit ons gemakstoel op die stoep en uitgaan na die sendingveld. Ons sal moet beplan en arbei om dissipels te maak…

Lewer kommentaar