Doppers of DINA’s

Wanneer iemand vandag in ons land Dopper sê, dink ‘n mens onwillekeurig dat van ‘n lidmaat van ‘n Gereformeerde gemeente gepraat word. Tog het dit tot 1859 geen kerklike betekenis gehad nie. Dit is voor 1859 gebruik om die afstammelinge van die oorspronklike pioniers in die noordoostelike Kaapkolonie aan te dui. In hierdie kulturele betekenis was ou inwoners wat in die N.G. Kerk gebly het, ook Doppers… Die uiterlike is egter nie so belangrik as hulle innerlike konserwatisme nie. Terwyl die res van die Kaapkolonie grootliks aangepas het by die nuwe “lig” van die 19de eeu, het die “Doppers” vasgehou aan die gereformeerde godsdiens. Hulle wou maar net volgens die Woord van God leef. Elke vader het dit by sy kind ingeprent… Elke dag het daarom met Skriflesing, gebed en psalmgesang begin, en in die aand is eweneens met danksegging gesluit. Hulle het die uitverkiesing belewe. God se wil (en nie hulle eie nie) beheers hulle lewe.

Dit is Prof Spoelstra in sy Beknopte Kerkgeskiedenis. In ons dag is daar baie mense wat die etiket van Dopper wil opeis maar dit is net ‘n uiterlike Dopperwees wat hulle toepas. Hulle wil nie aan die Skrif vashou nie. Hulle wil nie daaglikse huisgodsdiens doen nie. Hulle wil eerder die nuwe lig van die mensgesentreerde humanisme van die Franse Rewolusie/USSR/Woke omarm.

Hierdie hedendaagse Doppers is slegs Doppers In Naam Alleen (DINA). Hulle is DINAs. Daar was egter ook DINAs in Christus se tyd gewees. Hulle was Fariseërs genoem. Hulle het ook net uiterlik baie vroom en godsdienstig gelyk maar van binne was hulle rowers en moordenaars. En dan sê Jesus oor hulle: ‘Wee julle skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid… Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?’ (Matt 23)

Mag ons ware Doppers wees en nie DINAs nie. Nie gewitte grafte nie! Mag daar bekering kom in ons gemeentes eerste maar ook in ons kerkverbande. Mag dit so wees dat ons deur die DINAs uitgeskel en allerhande skeldname toegedig word. Mag dit so wees dat oor ‘n honderdjaar ons nageslag sal terugkyk na ons optrede en kan sê dat hulle trots daarop is dat hulle voorgeslagte nie DINAs geword het nie, maar Doppers gebly het.