
Onder: Die onbewerkte veld wat grens aan die bewerkte plase in dieselfde omgewing. Dit lyk soos die teenoorgestelde van die paradys.

As alle eiendom herverdeel kan word, dan sal SA in ‘n paradys verander. As alle diskriminasie opgehef word, dan sal dit hemel op aarde wees. As die werkersklas die produksiemiddelle annekseer, dan sal die werkersparadys aanbreek.
Dit is hoe die goddelose wêreldbeskouings redineer oor wat in ons wêreld verkeerd is en hoe die paradys weer herstel moet word. Die Bybelse verhaal is egter anders:
“…vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” – Gen 3:17-19
Hierdie is die woorde wat God uitgespreek het nadat Adam en Eva in sonde geval het. Die oorspronklike opdrag aan hierdie mense-paar was dat hulle moet vermeerder en die aarde moet vul en daaroor moet regeer (Gen 1:28). Die sonde het egter hierdie taak baie moeiliker gemaak, want nou sou hulle “in die sweet van hul aangesig” hierdie taak moet verrig. Die paradys het verander in ‘n tipe hel.
Die goddelose mens wat die Bybelse waarhede ontken, wil die moeilikhede wat daar op aarde is, toeskryf aan ander faktore. Marxiste skryf dit toe aan verdrukking deur die ryk klas. Die oplossing is dat die onderklas in opstand moet kom en die bestaande orde ten gronde moet rig en vervang met die werkersparadys.
Die groenes wil vir ons vertel dat die probleme wat ons ervaar, is weens te veel mense wat die omgewing besoedel en vernietig. Party is konsekwent en stel voor dat die hoeveelheid mense nie net beperk moet word nie, maar dat die mens vrywillig moet uitsterf.
Woke is die nuuste weergawe van die mensgesentreerde wêreldbeskouing. Hulle vertel vir ons dat alle probleme teruggespoor kan word na diskriminasie. Vir hulle bestaan so-iets soos sonde nie. Hulle dink dat verskillende groepe mense meer diskriminasie as ander ervaar en daarom moet ‘n rangorde opgestel word en die staat moet gebruik word om regstellende aksie toe te pas en die mees onderdrukte groepe die meeste help. Hierdie rewolusie moet alle fasette van die lewe omvat. Die huisgesin moet geherdefnieer word. Die skool, die kerk, die werksplek, die regsberoep, universiteit en media moet almal ingepalm word vir hierdie wêreldbeskouing.
As Christene moet ons egter die Bybel as gesaghebbend beskou en daarom die boodskap ernstig opneem. Dit is so dat die sondeval die lewe moeilik maak. Dit versuur verhoudings tussen mense en volke. Dit maak die produksie van voedsel moeilik. Maar Christus het wel gekom om alles nuut te maak. Hy het opdrag gegee dat die Evangelie aan elke stam volk en nasie verkondig moet word. Vir watter rede?
“en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Hierdie alles is God se Woord. Dit sluit die Ou Testament en die Wet in (Matt 5:17-19).
En wanneer hierdie gedissipelde volke in gehoorsaamheid vir die HERE lewe, dan beloof Hy:
“As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde… geseënd sal jy wees in die veld… geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee… Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en alles waar jy jou hand aan slaan…” (eerste deel van Deut 28)
Dus, gehoorsaamheid sal lei tot ongekende seën. Die godsvolk sal weer die paradys hier op aarde ervaar. Ongehoorsaamheid sal egter lei tot misoeste, oorloë, honger, droogte, verdrukking en uiteindelike ballingskap (tweede deel van Deut 28).
Die afgelope week, het daar twee dinge gebeur wat die Evangelie in die sentrum van die openbare debat geplaas het:
- Charlie Kirk is vermoor omdat hy die evangelie op Amerikaanse kampusse verkondig het. Dit was nie ‘n afgewaterde Evangelie nie. Charlie het gepreek vir nie net persoonlike lwens wat verander word nie, maar dat die hele samelewing deur hierdie evangelie reformeer moet word. ‘n Woke-geïndoktrineerde student het hierdie vrymakende evangelie as “haat” ervaar en Charlie koelbloedig doodgeskiet. Charlie het besef dat hierdie vrymakende evangelie vestings neerwerp en elke gedagte gevang neem (2 Kor 10:4-5). Die vermoording van Charlie het egter die teenoorgestelde uitwerking gehad as wat die moordenaar in gedagte gehad het.
- Daar was óók deur ‘n Christen sanger voorspel dat die groot verdrukking en wegraping 24-25 September sou plaas. Daar het egter niks gebeur nie.
Charlie Kirk se evangelie wat hy verkondig het, is meer in lyn met die Bybelse evangelie. Hy het dan ook sy organisasie Turning Point USA genoem. Dit dui daarop dat die VSA ‘n U-draai moet maak terug na die Evangelie toe. Dat begin moet word by bekering, en dan sterk Christelike huwelikke, gesinne en ‘n hele samelewing gebou moet word. ‘n Hele samelewing wat terugkeer na God toe. Hierdie Turning Point is egter nie net vir die VSA nodig nie. Dit is ook nodig vir ons hier in Afrika. Ons het dieselfde mensgesentreerde wêreldbeskouings omarm as wat die VSA teister.
Die sanger se wegraping-evangelie kom basies op ontvlugting neer. In essensie glo hierdie tipe Christen-denkrigting nie dat die evangelie kragtig is om mense en volke se lewens te verander nie. Hulle glo dat die paradys nie herstel kan word nie. Daar kan slegs gehoop word vir Christus se wederkoms as uitkoms.
Die Bybelse evangelie is egter gebou op moeite hier op aarde. Ons bid tog immers: “Laat u koninkryk kom, net soos in die hemel netso ook op die aarde“
Die Bybelse geskiedenis, sowel as geskiedenis deur die eeue bevestig vir ons dat daar wel tye was waar daar bekering was. Tye waar die mense die Bybelse waarhede omarm het. In daardie tye het die seëninge van Deuternonium 28 in vervulling gegaan. Ons dink aan Reformasies van Set, Noag, Abraham, Asa, Hiskia, Jehu, Elia, Waldense, Hussiete, 1500’s Reformasies in Europa, Dordt, Afskeiding, Doleansie ens (sien die artikel oor Reformasies deur die geskiedenis)
As ons dan nou tot bekering gekom het en Christene geword het, wat staan Christene te doen? Ons moet ons eie lewens eers in order en in lyn met God se Woord kry. Dit sluit dan in dat ons daarna sal strewe om ‘n godsvresende eggenoot te vind en ‘n Bybelse gesin te begin. Daardie gesin sal dan ook kinders hê wat in die vrese van die HERE opgevoed moet word. Dit beteken dat jy as individu en gesin moet aansluit by ‘n Bybelgetroue gemeente. Oor tyd sal hierdie godsvresende gesinne en kerke begin om die hele samelewing te deursuur. Daar sal dan godsvresende staatsinstellings ook tot stand kom wat die HERE vrees en hom sal dien. En dan sal die seënbeloftes van Deuternonium 28 nie uitbly nie. Laat ons hiervoor bid en werk.