Die vrou wat LIBERALE TEOLOGIE teruggerol het…

Pietronella Baltus

Die liberale teologie wat ons vandag teister met VIDA, HIDA, geen opstanding nie, intergeloof ens is niks nuut nie. 160 jaar gelede was dit maar dieselfde toe NG Kerk teoloë soos Ds JJ Kotze, Ds SP Naude, Ds TF Burgers ea nie in wonderwerke of Jesus se opstanding/maagdelike geboorte geglo het nie maar wel in evolusie (Vgl B Spoelstra : Beknopte kerkgeskiedenis). Liberale teologie begin deur die gesag van die Skrif te ontken en dan skeur hulle die een bladsy na die ander uit die Bybel (Gen 1-11 (Evolusie), 1 Tim 2-3 (VIDA), Rom 1 (HIDA), Evangelies (Maagdelike geboorte), 1 Kor 15 (Opstanding uit die dood) ens.)  

Hierdie liberale denke is eintlik maar afkomstig vanaf die Verligting wat die Franse Rewolusie gebaar het. Die vraag is wat het gebeur tussen 1880 en 1980 dat hierdie liberale denke verdwyn het? Wat het verander dat die NG Kerk hul eie teologiese professor (Prof J du Plessis) afgesit het in 1930 omdat hy liberale teologie verkondig het? Hoekom het liberale teologie ons eers in die 1980s weer begin teister?

Die reformasie in die kerke in Nederland en ook Suid-Afrika is alles te danke aan ‘n eenvoudige, godvresende vrou. Pietronella Baltus was ‘n plaasarbeider in Dr Abraham Kuyper se gemeente in Beest, Nederland. Sy het egter geweier om na Dr Kuyper se preke te luister. Op daardie stadium was Dr Kuyper ‘n liberale teoloog wat liberaal gepreek en geleef het. Dr Kuyper besoek haar en (ander beswaardes). Hy vra haar toe reguit hoekom sy beswaard is. Haar woorde tref hom diep. Sy sê: “Ds, u gee nie vir ons die regte brood van die lewe nie.” 

Hierdie woorde roep Jesus se versoeking deur die Duiwel in herinnering. Christus antwoord die Duiwel elke keer vanuit die brood van die lewe (Bybel). Die eerste versoeking het juis gegaan daaroor dat Jesus vir die klippe moet sê om brode te word waarop Jesus antwoord dat ons sal lewe van elke woord wat uit die mond van God gaan.

Hierdie antwoord van hierdie eenvoudige vrou het ‘n omwenteling in Kuyper se lewe veroorsaak. So veel so dat hy ‘n foto van Pietronella Baltus op sy lessenaar gehou het selfs toe hy Eerste Minister van Nederland geword het. Hierdie eenvoudige vrou wat vas gehou het aan die Brood van die Lewe het veroorsaak dat Kuyper Liberale Teologie in Nederland teengestaan het. Hy het die hoof geword van die Anti-Rewolusionere Party (wat die Franse Rewolusie en die Verligting teengestaan het). Hy het ‘n kerkreformasie in die Gereformeerde Kerke totstand laat kom met die Doleansie. Hy het ‘n Vrye Universiteit begin om leiers op te lei om konsekwent Bybels te dink. Hy het wetgewing ingevoer wat Christelike skole moontlik gemaak het.

Toe Totius (JD du Toit) in die oorlogsveld as kappelaan opgetree het tydens die Tweede Vryheidsoorlog, het gelowiges daarop aangedring dat hy verder gaan studeer in Nederland by hierdie Vrye Universiteit. Totius verwerf daar sy PhD. Totius word toe die GKSA se Professor en die teologiese skool skuif na Potchefstroom waar hy predikant was. In 1930 vra die NG Kerk juis vir Totius om te getuig teen die liberale teologie van hul eie Professor.

Dus, die hele reformasie in Nederland en Suid-Afrika wat honderd jaar van vrede ingelei het, is alles te danke aan ‘n nederige vroue plaasarbeider. Haar naam is Pietronella Baltus. Die HERE is geneig om eenvoudige mense te gebruik om sy werk te doen. Dink maar aan die skaapwagter (Dawid) en die vissers (dissipels). Mag die HERE nuwe eenvoudige mense opwerk om ‘n nuwe Reformasie aan die brand te steek in Suid-Afrika en elders.

Lewer kommentaar