Kerk-fossiele

Vanoggend lees ek die brief (https://kerkbode.christians.co.za/2026/02/04/elders-gesien-spanning-loop-hoog-maar-leiers-wil-openhartig-gesels-na-gksa-die-besluite-neem-op-potch/) wat die NGK en NHK aan die GKSA binnelandse deputate geskryf het. Die brief veronderstel dat die GKSA bande gebreek het op grond van die NGK en NHK se omarming van Vroue in die Ampte (VIDA). Dit is egter baie ernstiger as slegs VIDA.

U sien, dit is soos wanneer ek vir u ‘n pragtige fossiel van ‘n vlinder sou wys en u dan sou probeer oortuig dat dit werklik ‘n vlinder is. U sou tog dadelik kon raaksien dat die vlinder nie meer beweeg nie. Die lewe het hierdie vlinder reeds eeue gelede verlaat. Dit is egter nie net die lewe nie, selfs die organise materiaal van die vlinder is vervang met minerale. Die vlinder is eintlik nou ‘n stuk klip wat net die vorm van die oorspronklike vlinder verteenwoordig. Dit is glad nie meer ‘n vlinder nie.

Fossiel vs die lewende vlinder

Nou, dit is presies die problem met die NGK en NHK. Hulle het fossiele geword. Daar is nie meer enige lewe in hulle nie. Hulle lyk nog soos die oorspronklike NGK en NHK van 100 jaar gelede, maar binne in is hulle nie meer dit wat die vorm verteenwoordig nie. Hulle het ‘n stuk klip geword. Selfs hulle harte het harte van klip geword. Wat bedoel ek?

In vorm bely die NGK en NHK nog steeds dat hulle vashou aan die Belydenisskrifte en die Bybel. Maar as jy vir ‘n bietjie meer detail vra, dan sien jy dat nog net die vorm oor is, die inhoud is met iets anders vervang. Vir 1700 bely Christene die Belydenis van Nicea en as ons die Evangelies lees, dan kom ons agter dat die Ou Testamentiese gelowiges dieselfde geglo het. Hierdie belydenis word net lee woorde in die monde van die gefossileerde NGK en NHK. Hulle glo ook nie die Bybel waarvan die Belydenisskrifte slegs opsommings is nie. Die gefossileerde NGK en NHK se fossielstatus word duidelik want hulle weier om op te tree teen predikante en professore wat:

  • Sê dat Gen 1-11 ‘n mite is. Daarom is ook die verhaal van Adam en Eva en die sondeval ook ‘n mite. Hulle ontken dat God die Skepper is van hemel en aarde.
  • Sê dat Christus nie uit ‘n maagd gebore is nie (Mat 1:23, Luk 1:27)
  • Sê dat Christus nie op die derde dag weer opgestaan het uit die dood nie (1 Kor 15).
  • Sê dat Homoseksueles hulle nie hoef te bekeer nie (Rom 1)
  • Sê dat die hel nie bestaan nie (Die verhaal van Lasarus)
  • Ontken dat die paradys van Genesis weer herstel sal word met die werklike wederkoms van Christus aan die einde van die geskiedenis (Openbaring)
  • Ontken dat Jesus die enigste weg en waarheid tot die lewe is (Joh 3). Daarom reel hulle intergeloofs samekomste in Hermanus en Kaapstad.
  • NGB Artikel 5 en 7 ontken en daarom volg al die dwalings hier bo genoem.

Dit is my bede dat u as ons Dopper verteenwoordigers, nie doekies sal omdraai met die verteenwoordigers van die NGK en NHK nie. Dat u vir hulle hard en duidelik sal verduidelik dat hulle tot bekering moet kom. Dat hulle hul fossielstatus moet ophef. Dat daar bekering moet kom sodat hulle harte van klip vervang kan word met harte van vlees (Es 36:26). Voordat hierdie fossielstatus van die NGK en NHK nie omgekeer word nie, kan en mag daar geen band tussen ware gelowiges en hulle bestaan nie. Mag die HERE u help om getrou te getuig.

NS: U kan die volgende bronne raadpleeg oor die afval:

Versnipperde Bybels

Onlangs noem ek by die Streek Sinode dat daar ‘n verband is tussen ontkenning van 1 Tim 2-3 en ontkenning van Christus se opstanding en maagdelike geboorte. Ek was stomgeslaan toe ‘n predikant opspring en op my begin gil en skee en die voorsitter hom stil moes maak.

Dink daaroor. Baie is geskok oor die teoloë wat Jesus se maagdelike geboorte en opstanding uit die dood ontken. Hulle sal geskok wees indien jy sou sê dat 1 Tim 2-3, Rom 1, Gen 1-11, Joh 3, Mat 1 uit die Bybel geskeur word.

Is dit egter nie presies wat gebeur het in die NG Kerk nie? Daar is begin deur Gen 1-11 te ontken as mite. Toe is die voorskrifte oor die rolle van manne en vroue ontken en 1 Tim 2-3 se eenvoudige betekenis is weggeredeneer.

So, ‘n paar jaar later is dieselfde interpretasie-meganisme gebruik om te argumenteer dat homoseksueles in die ampte mag dien. Daar is met T-hemde opgedaag by die Sinode waarop geskryf staan “Liefde is liefde” en dan word twee manne uitgebeeld wat hande vashou. So asof Rom 1:18-32 glad nie in die Bybel staan nie.

Toe het Teologiese Professore Jesus se opstanding uit die dood bevraagteken. Kerklike vergaderings het hierdie profesore onskuldig bevind. Vir hulle is Paulus se woorde in 1 Kor 15:1-3 totale nonsies:

“Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte”

Vir hierdie teoloë wat elke Sondag ‘preek’ bestaan Paulus se waarskuwing (1 Kor 15:12-19) nie:

“Hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.”

Hierdie hedendaagse Sadduseërs glo niks wat in die Bybel staan nie en neem dan ook glad nie Jesus se waarskuwing aan die Sadduseërs van sy dag in ag nie:

” [Sadduseërs,] Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt 22:29)

Dit is wat ons moet besef. Dit gaan oor die gesag van die Skrif. Ons moet Jesus se Woorde baie ernstig opneem toe hy deur die duiwel versoek is. Elke keer het Jesus geantwoord uit die Skrif. Selfs toe die Satan die Skrif verdraai het, het Jesus hom uit die Skrif geantwoord. Ons moet altyd Jesus se woorde in herinnering roep, al is dit die slimste professor of predikant wat die Skrif aanhaal:

“Maar Hy [Jesus] antwoord en sê: ‘Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Matt 4:4)...

Net toe ek gedink het die NG Kerk kan nie nog erger verdwaal nie, toe lees ek van intergeloofs byeenkomste wat gehou is in Hermanus en Kaapstad. As ek egter daaroor nadink, dan is dit ‘n logiese uitvloeing waarheen die NG Kerk oppad is. Hulle het nou reeds groot dele van die Bybel uitgeskeur, so dan is die logiese stap sekerlik om selfs Joh 3:16 uit die Bybel te skeur:

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Hierdie afval is nie net in die NG Kerk nie. Daar is ook ander kerke en kerkverbande wat dieselfde doen. Mag daar òf diepgaande bekering in die kerke kom òf mag die gelowiges wat oor is, aansluit by kerke wat nog vashou aan die Bybel. Reformasie terug na die Bybel is brood nodig…