Onlangs noem ek by die Streek Sinode dat daar ‘n verband is tussen ontkenning van 1 Tim 2-3 en ontkenning van Christus se opstanding en maagdelike geboorte. Ek was stomgeslaan toe ‘n predikant opspring en op my begin gil en skee en die voorsitter hom stil moes maak.

Dink daaroor. Baie is geskok oor die teoloë wat Jesus se maagdelike geboorte en opstanding uit die dood ontken. Hulle sal geskok wees indien jy sou sê dat 1 Tim 2-3, Rom 1, Gen 1-11, Joh 3, Mat 1 uit die Bybel geskeur word.
Is dit egter nie presies wat gebeur het in die NG Kerk nie? Daar is begin deur Gen 1-11 te ontken as mite. Toe is die voorskrifte oor die rolle van manne en vroue ontken en 1 Tim 2-3 se eenvoudige betekenis is weggeredeneer.
So, ‘n paar jaar later is dieselfde interpretasie-meganisme gebruik om te argumenteer dat homoseksueles in die ampte mag dien. Daar is met T-hemde opgedaag by die Sinode waarop geskryf staan “Liefde is liefde” en dan word twee manne uitgebeeld wat hande vashou. So asof Rom 1:18-32 glad nie in die Bybel staan nie.
Toe het Teologiese Professore Jesus se opstanding uit die dood bevraagteken. Kerklike vergaderings het hierdie profesore onskuldig bevind. Vir hulle is Paulus se woorde in 1 Kor 15:1-3 totale nonsies:
“Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte”
Vir hierdie teoloë wat elke Sondag ‘preek’ bestaan Paulus se waarskuwing (1 Kor 15:12-19) nie:
“Hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.”
Hierdie hedendaagse Sadduseërs glo niks wat in die Bybel staan nie en neem dan ook glad nie Jesus se waarskuwing aan die Sadduseërs van sy dag in ag nie:
” [Sadduseërs,] Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt 22:29)
Dit is wat ons moet besef. Dit gaan oor die gesag van die Skrif. Ons moet Jesus se Woorde baie ernstig opneem toe hy deur die duiwel versoek is. Elke keer het Jesus geantwoord uit die Skrif. Selfs toe die Satan die Skrif verdraai het, het Jesus hom uit die Skrif geantwoord. Ons moet altyd Jesus se woorde in herinnering roep, al is dit die slimste professor of predikant wat die Skrif aanhaal:
“Maar Hy [Jesus] antwoord en sê: ‘Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Matt 4:4)...
Net toe ek gedink het die NG Kerk kan nie nog erger verdwaal nie, toe lees ek van intergeloofs byeenkomste wat gehou is in Hermanus en Kaapstad. As ek egter daaroor nadink, dan is dit ‘n logiese uitvloeing waarheen die NG Kerk oppad is. Hulle het nou reeds groot dele van die Bybel uitgeskeur, so dan is die logiese stap sekerlik om selfs Joh 3:16 uit die Bybel te skeur:
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Hierdie afval is nie net in die NG Kerk nie. Daar is ook ander kerke en kerkverbande wat dieselfde doen. Mag daar òf diepgaande bekering in die kerke kom òf mag die gelowiges wat oor is, aansluit by kerke wat nog vashou aan die Bybel. Reformasie terug na die Bybel is brood nodig…