
In 1988 skryf Whisenant die boek “88 Reasons Why the Rapture Will Be in 1988”. Toe die einde nie aanbreek nie publiseer hy in 1989 ‘n boek wat dieselfde sê oor 1989 maar met ‘n ander titel. In die volksmond is daarna verwys as “89 Reasons Why the Rapture Will Be in 1989”. Hy doen weer so in 1993 en 1994. Whisenant het sy berekinge gebasseer op die feit dat 40 jaar verloop het sedert die onafhanklikheid van Israel in 1948.
In 2025 sien ons die SA weergawe van “25 Reasons Why the Rapture Will Be in 2025”. Net soos met Whisenant het dit nie gebeur nie. Natuurlik het dit vir ongelowiges skietstof gegee om te kan laster. Dit het ook ontnugtering onder die goedgelowige Christene veroorsaak.
As ons egter Jesus se woorde in Matt 24 lees dan verstaan ons dat hierdie voorspellery ‘n klomp nonsies is. Christus sê in vers 36,37,42:
“Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees… Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.”
Die vraag is nou: Hoekom smag Christene so na Christus se wederkoms?
Dit is omdat ons wêreld so deurmekaar is… ons smag daarna dat die volmaakte nuwe hemel en aarde van Openbaring 21 sal aanbreek. Maar hoekom moet daar dan so ‘n lang tyd verloop tussen die eerste en tweede koms? En wat is ons taak totdat die wederkoms plaasvind? Ons taak is om ons lig hier waar ons is te laat skyn. Die gelykenis van die talente wat aan diensknegte toevetrou (Matt 25:14-46) is maak dit duidelik dat daar geen ontvlugting deur een of ander wegraping sal wees nie. Die HERE verwag van ons om besig te wees in sy Koninkryk tot op die laaste uur wanneer Hy weer sal kom. Hy verwag van ons om te woekker met dit wat Hy aan ons gegee het… die Evangelie moet verkondig word. Die nasies moet dissipel word sodat (ver 32-34):
“… voor Hom al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.”
Laat ons nie net bid “Laat u Koninkryk kom, laat U wil geskied. Soos in die hemel net so ook op die aarde” nie, maar laat ons ook aktief bou aan hierdie Koninkryk… natuurlik met God.

