
Die Bybel kan opgesom word as die verhaal van die mensdom. Dit begin met die perfekte paradys met Adam en Eva. Hulle kry die opdrag om as rentmeesters oor die skepping te regeer (Gen 1:28).
Ongehoorsaamheid en sonde veroorsaak egter dat die paradys in ʼn lewende hel omskep is (Gen 3). Nou moet die mens met sweet en moeite hierdie rentmeesterwerk doen.
Die HERE beskik egter ʼn Verlosser wat die verhouding tussen God en mens herstel (Joh 1-3). Die vraag is, maar hoekom het die einde dan nie nou reeds aangebreek nie? Die verlossing is dan tog reeds verdien. Hoekom is dit nodig dat daar ʼn lang tydperk verloop tussen die skepping, sondeval, verlossing en voleindiging?
Die antwoord op hierdie vraag bestaan uit twee dele. Die eerste is dat die HERE besig is met ʼn opvoedings taak. Hy is besig om individue maar ook volke, stamme en nasies volwasse te maak sodat hulle Hom beter kan dien. Die tweede is dat die HERE besig is om karakter te kweek: “[O]ns weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop” – Rom 5:3-4. Natuurlik sluit hierdie twee mekaar nie onderling uit nie. Daar kan swaarkry wees sonder dat dit is weens onvolwassendheid.
Die eerste deel sien ons as ons 1 Kor 10 lees: “Hierdie dinge het oor hulle gekom as ‘n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ‘n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
Die slawerny en ballingskap na Babel en Assirië het ʼn doel gedien. God se waarskuwing aan sy volk dat ongehoorsaamheid en afval sal lei tot slawerny, oorlog, ballingskap en agteruitgang (Lev 26 en Deut 28) is vir ons ʼn waarskuwing om nie dieselfde te doen nie. Daar is egter ook ʼn belofte van vryheid, vrede, voorspoed en vooruitgang. Dus kan die geskiedenis tussen die sondeval en die wederkoms beskou word as die stryd teen die sonde in die lewens van individue sowel as stamme, volke en nasies. Die swaarkry kweek dan ook gelyktydig karakter. Dit is die verhaal van suksesse en mislukkings. Daar is Reformasies en Deformasies in die geskiedenis.
Dr Abraham Kuyper skryf (Tractaat van de Reformatie, 1884) dat Die Reformasie van die 1500s, nie die enigste Reformasie in die geskiedenis was nie:
“Omdat die Reformasie van die sestiende eeu as díé Reformasie beskou word, is baie onder die indruk dat daar nie in die Heilige Skrif nie en ook nie in die geskiedenis sprake is van ander Reformasies nie. Dit is ‘n valse idee… As mense gewoond daaraan raak om die Reformasie van Luther as die enigste egte Reformasie te beskou, dan is hierdie die nagevolg: ‘Reformasie’ word dan slegs ‘n eenmalige gebeurtenis en daar is niks verder om daaroor te sê nie. Maar as in teendeel Reformasie ‘n konstante finomeen in die geskiedenis van Jesus se kerk is, wat weer en weer gebeur nadat foute en afvalligheid ingesluip het en herstel deur Reformasie probeer word en gereeld ook suksesvol is, dan word die idee van Reformasie vir ons lewendig.”
Ons sien dat Dr Kuyper die kerk in hierdie Reformasie nie beperk het tot die institusionele kerk nie, maar dit toegepas het op die breër betekenis van kerk. Nadat die goddelose vrugte van die Franse Rewolusie oor Nederland gespoel het, het Kuyper en sy Anti-Rewolusionêre Party gepoog om die hele Nederlandse samelewing te reformeer. Dr Kuyper het nie net die Doleansie in die kerk afgeskop nie. Hy het ook die Vrije Universiteit gestig en die Eerste Minister van Nederland geword. Daar is ook wetgewing aangeneem om Christen skole moontlik te maak. Daar was suksesse maar ook foute.
In Suid-Afrika sug Christen Afrikaners, -Griekwas, -Zoeloes, -Twanas, ens tans oor die agteruitgang, onderdrukking, korrupsie, armoede en swaarkry. Ons moet egter onsself afvra hoekom hierdie moeilikhede oor ons pad gekom het. Ons glo tog immers nie in toevallighede nie. Ons moet raaksien waar foute gemaak is. Ons moet ons geskiedenis in oënskou neem en daaruit leer sodat ons ʼn nuwe Reformasie kan ondergaan. In die woorde van Ps 127 en 1 Kor 3 moet daar op die fondament van Christus gebou word anders is dit tevergeefs.
Wanneer ons van Afrikaners praat dan is dit daardie groep mense wat hoofsaaklik vanuit die Protestantse Noord Europa na Suid Afrika gemigreer het. Daar is egter ook tot ʼn mindere mate ander etnisiteite opgeneem onder Afrikaners. Hierdie groep mense het hulself al reeds 50 jaar nadat VanRiebeeck in Tafelbaai aangekom het begin identifiseer as Afrikaners (Bruwer 1988:86). Hulle het ook hul eie unieke taal ontwikkel maar woordeskat oorgeneem van hoofsaaklik Nederlands en Duits en tot ʼn mindere mate van ander groepe. Die etniese oorsprong van Afrikaners is soos volg (Heese):

Ons bevind ons tans in ballingskap in ons eie land. Ons het vreemdelinge geword wat verdruk word en in slawerny is. Die belofte van Lev 26 en Deut 28 is egter dat die HERE sal dink aan sy verbond en dat Hy die oorblyfsel sal herstel. Dit het gebeur met die oorblyfsel wat teruggekeer het na die ballingskap saam met Esra en Nehemia. Dit kan ook met ons gebeur.
Ons skryf ‘n boek met die doel om Afrikaners se geskiedenis op te teken vanuit ʼn Bybelse perspektief. Dit wil karakterbou, suksesse en foute identifiseer sodat ons kan terug reformeer na die Bybel sodat ons weer ʼn tyd van vryheid, vrede, voorspoed en vooruitgang kan beleef.
Ons begin by die voorgeskiedenis vanaf Adam tot net na die Reformasie en 80 jarige oorlog wat daarop gevolg het. Ons kyk dan na die aankoms van die evangelie in 1652 in Kaapstad, die Franse Hugenote, die Vryheidstrewe onder die VOC en later die Britse besetting. Die Groot Trek en die veldslae en Susanna se “Kaalvoet oor die Drakenberge” volg daarop. Die vyfde hoofstuk handel oor die Boere republieke en dan volg die velle on ongenaakte Tweede Vryheidoorlog met die nagevolge daarvan. Ons fokus dan op die skep van die Unie van Suid-Afrika en daarna op die stigting van die Republiek van SA sen die bosoorlog en burgeroorlog. Daar word ook gefokus op die volkstaatidee as alternatief vir die SA eenheidstaat. Ons kyk ook na die nuwe SA as ʼn vorm van slawerny voordat ons afsluit met die herwinning van vryheid.
“Aan die Here kom die lof toe: Hy het nie toegelaat dat ons hulle prooi word nie. Ons is bevry soos ‘n voël uit die wip van ‘n voëlvanger; die wip het gebreek en ons was vry!” – Ps 124:6-7









