Moederskap | Bevryding of verdrukking

Francois van Deventer in gesprek met Marguerite Brink en Tina vDeventer

So ‘n ruk gelede kyk ek na ‘n propaganda plakkaat van die Kommunistiese Oos Duitse Republiek (DDR). Dit is van vroue wat besig is om ‘n sloot te grawe. Dit is ‘n plakkaat wat praat van die bevryding van vroue. Hulle praat met trots daarvan dat vroue wat slote grawe bevry is. Dit is in lyn met feministiese leiers soos Betty Friedan en Simone de Beauvoir se denke. Simone:

“Dit is maklik om jou ‘n wêreld voor te stel waar manne en vroue gelyk is, want dit is presies wat die Sowjet Revolusie beloof het: vroue wat opgevoed en opgelei word net soos die manne en wat onder dieselfde werksomstandighede en vir dieselfde lone sal werk. Erotiese vryheid sou vanselfsprekend wees, maar die seksuele daad sou nie ‘n “diens” wees waarvoor betaal moet word nie; vroue sou verplig wees om deur ‘n ander manier vir haarself te sorg; die huwelik sou gebaseer wees op ‘n vrye ooreenkoms wat die eggenotes ter enige tyd kon verbreek; moederskap sou vrywillig wees en dus dat voorbehoeding en aborsie toegelaat word en dat alle moeders en hul kinders dieselfde regte binne of buite die huwelik sal geniet; swangerskapverlof deur die staat betaal sal word en die staat sal ook verantwoordelikheid neem vir die kinders.”

Ons is nou in ons samelewing by die plek waar vroue hierdie “ideale” verwesentlik het. Ek het vandag vir Tina van Deventer en Marguerite Brink saam met my. Beide van hulle gaan die feministiese model teen. Tina het 12 kinders in die wereld gebring en Marguerite verwag haar sesde kindjie. Ons gaan gesels oor “Moederskap – bevryding of verdrukking”

Enkele grepe uit die gesprek:

“Dis is vir vroue in die algemeen makliker om die versorging te doen en dit is glad nie minder belangrik nie – en dit is waar die feministe die groot fout maak: hulle sien dit as hierargie waar die man meer belang het as die vrou wat kos maak… as mens die harmonie waar ‘n man en vrou saamwerk sien, dan sien jy hoe genadig was God om dit so duidelik vir ons in sy Woord op te teken… om as gesin saam te wees en saam te werk en God te dien.” …

Vroue in die gemeente sien baie keer letterlik hul rol as die koek en die tee… amper as dat enige iemand dit kan doen…Ek dink hulle sien hul rol so klein… die binding van die gemeente is afhanklik van die rol wat die [nie feministiese] vrou bing tot die tafel om op ‘n ander manier te versorg… dit is so jammer dat waarde gekoppel word aan jou rol. Dit is nie wat Paulus doen nie… vir God is ons gelyk in waarde en tog het Hy rolle ingestel. Tog het Hy gesê Ek wil hê dat vroue hierdie rol beklee en mans hierdie tipe beide in die huis en die gemeente… dit is die goeie skeppingsorde… Dit gaan oor daardie harmonie… oor daardie samewerking. As elkeen sy onderskeie deeltjie tot eer van die HERE ten beste doen, dan dien dit die gemeente die beste…

Daar is al baie waar die feminisme ons Christelike wêreldbeskouing so beinvloed het, dat ons verkeerde dinge sien a normaal… Jy word as abnormaal beskou is jy sê ek maak my eie kinders groot… die belangrikste dinge laat hulle na… een van die leuens van feminisme is dat vroue alles kan hê: sy kan hierdie goeie ma wees en hierdie goeie vrou wees en sy kan nog ‘n loopbaan hê buite die huis… maar ek is oortuig daarvan dat ons nie geskep is om alles te kan doen nie. Iewers val pap op die grond…. ons het vergeet hoekom daar huwelukke en kinders is…. feminisme het groot invloed selfs onder Afrikaners uitgeoefen… ons dink nie meer hieroor na nie. Ons leef letterlik in dit is wat almal om my doen en ek karring nou maar net aan met wat almal om my doen… Waar wil die kerk oor 15 20 jaar wees as ons nie ons kinders leer om God lief te hê nie? Dit is een van die belangrikste take om die stokkie aan te gee vir die volgende geslag sodat daar ‘n verbondsgemeenskap [kerk] sal wees…

Ek dink dit is waar die feminstiese beweging die sterkte deurkom: hulle het selfs onder Christene dit wat veronderstel is om te wees so vervlak tot ons is mense in een huis wat niks met mekaar uit te waai het nie en wanneer die kinders groter raak, dan word hul nog losser van die gesinstruktuur, en die ma en pa het ook nie lekker met mekaar iets uit te waai nie …

Dit is nie net van skottelgoedwas en doeke ruil nie. ‘n Ma het haar dissipeltjies. Haar sendingveld heeldag onder haar voete. Sy hoef nie uit te gaan in Afrika om hulle te gaan soek nie. Sy moet net die geleentheid wat sy het by haar huis gebruik.

Die onderhoud kan op youtube bekyk word:

Einde nie naby nie

In hierdie video is die sekulariste besig om weerstand te begin bied teen die groenes se oorbevolking mites en destruktiewe idees en beleide. Hierdie wys vir ons dat die establishment redelik ideeloos is. Slegs meer kinders is nie die oplossing nie. Ook nie meer vryheid nie. Bekering is nodig en terugkeer na Bybelse beginsels. Ps127 en Ps 128.

SA Universiteite lei Woke Onderwysers op

In ‘n onlangse artikel RICHARD WILKINSON wys hy mooi uiteen hoekom Christelike instellings soos die AP Akademie, Aros en Christelike privaatskole so geweldig belangrik en nodig is… die volgende geslagte word geïdroktrineer in anti-Christelike wêreldbeskouings. Die skrywer wys mooi uiteen hoe destruktief dit is en dat die volgende geslag ge-‘capture’ word. Mag die Christene ‘n werklike reformasie ondergaan en hierdie terreine spoedig weer kry om onder Christus die knie te buig. Hierdie bevestig die video onderhoud wat ek gedoen het met ‘n student aan NWU…

Uit die artikel:

“…Interestingly, electoral data from South Africa’s 2024 national election[19] provides compelling evidence that South Africa’s universities are indeed producing a cadre of revolutionary activists. For example, Nelson Mandela University falls within the voting district located at Cape Recife High School in Port Elizabeth. The Marxist-Leninist Economic Freedom Fighters (“EFF”) won 32% in this voting district, three times the 10% won by the more moderate African National Congress (“ANC”)…

The voting district which encompasses the University of Cape Town (“UCT”) is St Paul’s Anglican Church in leafy, upmarket Rondebosch. The EFF won 25% there last month…

… in Johannesburg, the Wits University… voting district shines up bright red on the map, with the EFF winning an astonishing 64% of the vote there – five times that of the ANC….”

Hier is die skakel na die artikel:

https://www.school-capture.com/woke-universities?sfnsn=scwspwa

Hier is die video onderhoud met die voormalige NWU student wat van soortgelyke insidente by NWU vertel:

Carike Goede | NWU vs AP Akademie van uit ‘n Christelike hoek

Carike het in haar en haar ouers se naïwiteit geglo dat die NWU eintlik nog maar ‘n Christelike Universiteit is en dat sy maar daar Musiek kan studeer. Die ontnugtering was egter groot toe een van die dosente vir haar gesê het dat sy in effek haar Christenskap by die deur moet los wanneer sy die klas binnestap.

Sy het toe haar kursus na Wiskunde verander met die gedagte dat die anti-christelike wêreldbeskouing wat die heeltyd in die studies ingeforseer word daar nie sou voorkom nie. Sy sê: “Ek het gereken 2+2=4. By Wiskunde is dit darem moeilik om te ontken dat daar so iets soos objektiewe waarheid is. Maar in 2020 is daar juis ‘n wiskunde professor wat toe sê: “The expression two plus two equals four reeks of white supremacist patriarchy.“… Ek is egter ietwat bekommerd oor die queer engineering/postmoderne brue wat gebou gaan word met wiskunde van 2+2=5

In hierdie gesprek met Carika gesels ons met haar oor haar ervarings by die NWU en hoe sy by die punt gekom het dat sy daar weg is na ‘n uitgesproke Christelike Universiteit soos die AP Akademie.

Sy sê: “Jou Christelike wereldbeskouing is baie meer as net open met gebed… Dit is nogal snaaks vir my dat Christene so half onbewus is dat daar ‘n [wereldbeskouing]oorlog aan die gang is… Onderwys is die oorlogsveld waar hierdie oorlog plaasvind. Onderwys is die proses hoe jy ingewy word in die [wereldbeskouing]verhaal… Die vraag is watter verhaal.”

Ons gesels ook oor die AP Akademie en die verskille wat sy raakgesien het vanuit ‘n Christelike perspektief.

Woke teenoor Reformasie

Is dit rassisties om stiptelik, objektief, dringend, perfeksionisties en hardwerkend te wees? In ‘n artikel van Erica Etelson met die title “Why I’m no longer woke”[1] noem sy dat dit juis van die Woke dogmas was wat sy teëgekom het. Haar artikel beskryf vir ons mooi wat in meeste Westerse universiteite, organisasies en selfs lande aan die gang is met die Kulturele Marxisme wat oral ingedring het. Sy ontbloot ook wat die uiteinde sal wees van hierdie instellings. Sy sê:

“Ek was ‘n gematigde yweraar van die woke social justice ideologie. Ek het met die meeste woke voorskrifte saamgestem, maar het gedink ons kan ons ideale beter kommunikeer…Ek het vir ‘n klein nie-winsgewende menseregte organisasie gewerk… ‘n Verandering van leierskap het die organisasie se fokus geskuif na meedoënlose uitsnuffel van enige sweempie van onderdrukker gedrag onder die personeel. Die konsep van White Supremacy Culture is ingevoer om gekleurde werknemers te beskerm teen die beweerde white supremacy verwagtinge van hul wit mede werknemers — dit is: stiptelikheid, objektiwiteit, dringendheid, perfeksionisme, harde werk. Daar was klaarblyklik geen salf te smeer aan ons rassisme nie, behalwe om ‘n laer standard van gekleurde kollegas te verwag. Dit was nie lank nie of afwesigheid, traagheid en verslapping het groot probleme geword. Intussen het die wit personeel ‘n buitensporige hoeveelheid tyd spandeer om ons bevoorregting te betreur en te kontroleer, en betrokke te raak in lang, demoraliserende gesprekke oor die meedoënloosheid van ons onderdrukkende bestaan.  Befondsing het gedaal, en die organisasie het ‘n doodspiraal betree en gevou.”

Dit is nie net Erica wat krities is oor Kulturele Marxisme nie. Nie-Christene soos Elon Musk en Helen Zille is ook skepties oor waarheen die Kulturele Marxiste oppad is. Zille het ‘n boek geskryf met die titel “Stay Woke, Go Broke” en Musk het op X geskryf: “The woke mind virus is killing Western Civilization.”[2] En Jordan Peterson noem dit “Woke nonsense” en bring dit in verband met totalitarisme[3]

Dit is opvallend dat mense soos Max Weber juis kultuur eienskappe soos “stiptelikheid, objektiwiteit, dringendheid, perfeksionisme, harde werk” uitgewys het wat via die 1500 Reformasie die sukses van Noord Europa veroorsaak het. Die Reformasie het die Noord Europiëse kultuur verander deur hierdie tipe waardes daar in te bed. Nou sien ons dat die Kulturele Marxiste hierdie waardes bevraagteken en dit afmaak as rassisties. Soos ons kan sien uit Erica se waarneming, gaan dit nie goed eindig nie. Nie goed vir korporatiewe maatskappye wat Kulturele Marxisme omarm nie, maar ook nie goed vir die breër samelewings wat so gedienstig wil wees aan hierdie “nuwe” ideologie wat eintlik maar ‘n ou ideologie is nie.

Ons goddelose vorste en konings hou saam raad teen die HERE en sy Gesalfde en sê dat hulle die Bybelse waardes en voorskrifte af wil gooi. Die eindresultaat is lagwekkend…. dit eindig in selfvernietiging. Soos Psalm 2 sê “Hy wat in die hemnel woon, lag; die Here spot met hulle”.

Ons kan verwag dat ons ‘n donker era gaan betree van stagnasie en agteruitgang totdat hierdie ideologie homself uitgewoed het en dit vir die mense duidelik is dat dit waansin is. Die evangelie moet verkondig word en die vorste en konings moet gehoorsaam wat in Ps 2 staan: “Wees dan verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie.” Nie voordat die bekering kom en ‘n nuwe Reformasie uitbreek sal ons enige vooruitgang sien nie.   


[1] https://ericaetelson.substack.com/p/why-im-no-longer-woke

[2] https://twitter.com/elonmusk/status/1760677431961407672?lang=en

[3] https://www.youtube.com/watch?v=Xmyud5O54Ds

‘n Postmil visie vir sending

Ek het onlangs gelees deur Gentry (1990) se boek, The Greatness of the Great Commission. Dit is regtig ‘n juweel van ‘n boek. Ek sal dit sterk aanbeveel vir enigiemand wat wonder met watter soort visie ons moet ywer om die nasies vir Christus te wen. Ek wil in hierdie artikeltjie aansluit by Gentry se boek deur ‘n paar lyne te trek oor hoe ‘n postmil visie vir sending lyk.

As jy nuut is tot die konsep van eskatologie, hier is ‘n ander artikel wat woorde soos postmillennialisme (ek verkort dit na postmil) verduidelik. Gebruik dit om jou te help om die sienings wat ek hier bespreek te verstaan.

Die grootsheid van die opdrag

Die basiese punt wat Gentry (1990) op die tafel kom sit, is dat die Groot Opdrag groot is. Dit klink voor die hand liggend, maar hy daag ‘n mens uit deur te vra watter toekomsvisie reg laat geskied aan die grootsheid van die groot opdrag. Hy argumenteer oortuigend dat ‘n premil of amil toekomsvisie te kort skiet. Dit is die postmil visie wat regtig aan hierdie Opdrag die plek gee wat dit verdien.

Slegs die postmil visie probeer om die nasies te dissipel. Die premil en amil idee is dat dit individue uit die nasies is wat dissipels moet word. Maar Gentry wys dat dit nie versoen kan word met die grammatika van Mattheus 28:19 nie. Verder is dit net die postmil siening wat reken dat die Groot Opdrag uitgevoer sal word. Die premil en amil siening is dat die kerk op die ou end onsuksesvol sal wees in haar opdrag om die nasies te dissipel. Gentry wys ook hoe hierdie siening nie goed pas by die grammatika van Mattheus 28:19, of die optimisme van die res van die Skrif nie.

Die fondasie van die opdrag

Een van die sake wat Gentry vroeg in sy boek uitlig, is die verband tussen die Kultuuropdrag en die Groot Opdrag. Ons maak, na my mening (en syne), te min van die Kultuuropdrag. Hier’s hoe die saak staan: God se aanvanklike opdrag aan die mens was om die aarde te vul deur vrugbaarheid en die aarde te ontwikkel deur heerskappy (Gen. 1:28).

Hierdie Groot Opdrag was ons Groot Ondergang. Die mens het nie oor die skepping geheers nie, maar daarvoor gebuig (hy het na die slang geluister). Die gevolg was dat dit moeilik geword het om vrugbaar te wees en te heers. God se straf vir die vrou, was “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar.” (Gen. 3:16). Haar vrugbaarheid word aangetas. Die man se straf was, “vervloek is die aarde om jou ontwil … Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring.” (Gen. 3:17,18). Sy heerskappy word aangetas.

Maar Christus kom nie om dít wat voor die sondeval was te vernietig nie. Hy kom om dít wat voor die sondeval was te herskep. Sy Groot Opdrag is dus ‘n voortsetting van die Kultuuropdrag.

Hoekom is dit belangrik? Want dit beteken om dissipels te maak is nie net om siele te red nie. Om dissipels te maak is om prinse en prinsesse te herstel in hul majesteit: Dit is om te doen wat ons lankal moes doen: Om die aarde te vul met mense wat God dien, en oor die aarde te heers op ‘n manier wat God verheerlik. Dít is die Groot Opdrag.

Die tyd vir die opdrag

Nog ‘n laaste ding wat Gentry uitlig, gaan oor hoe ons moet kyk na tyd. Hy gee ‘n paar voorbeelde van premil Christene wat so seker is dat Christus binne die volgende paar jaar sal kom, dat hulle eintlik geen aandag kan gee aan die Groot Opdrag nie. Gentry fokus op Jesus se belofte, “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20). Hy wys uit dat “al die dae” impliseer dat daar baie dae sal wees. Op grond hiervan argumenteer hy dat ons met ‘n ruimer toekomsvisie ons lewe hier op aarde moet benader.

Dit is wel so dat Jesus kom soos ‘n dief in die nag (2 Pet. 3:10). En ons moet nie aan die slaap raak soos die vyf dwase maagde nie (Matt. 25:1-4). Maar juis in daardie gelykenis is dit interessant dat die wyse maagde gereed was vir die Bruidegom om langer te vat. Dit was die dwase maagde wat gedink het sy koms is om die draai.

In Deuteronomium 7:9 beloof God om sy verbond, goedertierenheid en gebooie te onderhou in duisend geslagte. Natuurlik is die “duisend” deel simbolies. Maar dink net ‘n bietjie watter raamwerk van tyd dit vir ons gee. ‘n Duisend geslagte is min of meer dertigduisend jaar. Dit is hoe lank God beloof om getrou te bly aan sy verbond!

Lê daar nog duisende jare voor ons? Ek weet nie. Maar ons moet werk aan hierdie Groot Opdrag met ‘n visie wat in ag neem dat God getrou sal bly tot in die duisendste geslag. Ons moet veg en bou met ‘n visie vir ons agterkleinkinders van die duisendste generasie.

Bibliografie

Gentry, K.L. Jr. 1990. The Greatness of the Great Commission: The Christian Enterprise in a Fallen World. Texas: Institute for Christian Economics.

Die aarde is ons woning… die wêreld nie

Ek is oortuig dat meeste Christene vandag ‘n verkeerde visie het oor die aarde: Meeste Christene dink verkeerd oor hierdie rooibruin grond onder ons voete. Daar is ‘n baie bekende gedig van Totius, Dié wêreld is ons woning nie. En alhoewel ek saamstem met sy woorde in beginsel (die ou wêreld van sonde en trane is nie ons tuiste nie) is dit vir my tragies dat ‘n gedig soos hierdie baie keer verstaan word asof dit sê die aarde is ons woning nie. Met sulke sentimente wil ek erg verskil.

Ons tuiste is die aarde. ‘n Mens is nie ‘n mistige wasempie wat ons ‘n “siel” noem, wat eendag in die hemel op ‘n wolkie gaan ronddryf nie. ‘n Mens is fisies ook: God het hom uit die aarde, vir die aarde geskep (Gen. 2:4-7).

Douglas Wilson, in sy boek Heaven Misplaced, beskryf dit baie goed. In die VSA is daar baie evangelical Christene wat begin sê: “This world is not my home – I’m just passin’ through.” Amper soos Totius se gedig. Wilson verskil ernstig hiermee. Hy meen ons sal baie eerder, wanneer ons sterf en in die hemel kom, rondgaan en sê: “This world is not my home – I’m just passin’ through.”

Die Inkarnasie

Toe God die Seun ‘n mens geword het, het Hy fisies en aards geword. Dit is veronderstel om vir ons iets oor hierdie fisiese skepping te sê. Dit is veronderstel om ons iets te sê oor die goedheid van die aarde.

God het die aarde so lief, dat Hy ‘n aardse liggaam aangeneem het. En let mooi op: God kan nie sonde doen nie. Alles wat God doen is wys, goed en vol majesteit. Sy besluit om ‘n mens te word is geen uitsondering nie.

Waar die storie eindig

Die mens is gemaak om op die aarde te leef. Die storie van die Bybel – en die storie van die mensdom – eindig nie in die hemel nie: Dit eindig op die nuwe aarde. Dit eindig met die Nuwe Jerusalem (en al die gelowiges daarin) wat neerdaal uit die hemel en haar fondamente in die aarde laat insink.

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openb. 21:2).

Die storie van elke mens eindig ook nie by ‘n siel nie. Dit eindig by ‘n liggaam. Dit eindig by iets fisies: Wanneer die Nuwe Jerusalem neerdaal na die aarde sal haar inwoners, net soos sy, ook weer aards word. Hulle sal fisiese liggame ontvang om in haar fisiese huise te bly.

“Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.” (1 Kor. 15:22-24).

Die hemel en die aarde

Natuurlik gaan die Bybel nie net oor die aarde nie. Die hemel is ook ‘n wonderlike realiteit waaroor mens baie kan sê. En Christus beveel ons om nie skatte op die aarde bymekaar te maak nie, maar in die hemel. Alles van dít is waar.

Die hemel en die aarde moet bymekaar uitkom. Altwee sfere moet geëer word: Ons moet bly wees oor die hemel en die aarde. Maar spesifiek oor die aarde. Die mens is nie ‘n engel nie. Ons is gemaak uit die grond. En alhoewel ons liggame deur geloof in Jesus hemels word (1 Kor. 15:47-49), bly ons aardsheid ‘n goeie realiteit. So Totius is reg: Dié wêreld is ons woning nie. Maar dié aarde is ons woning.

Bibliografie

  • Wilson, D. 2008. Heaven Misplaced: Christ’s Kingdom on Earth. Moscow, Idaho: Cannon Press.

Lesse vir SA uit die Nederlandse Reformasie van die 1800s

Onlangs het ek die voorreg gehad om ‘n onderhoud te doen met Dr Adi Schlebusch. Dr Schlebusch het sy PhD gedoen oor Groen van Prinsterer.

Ons het gesels oor die gebeure na die Verligting in die Nederlande en hoe Dr Groen van Prinsterer en sy opvolgers suksesvol dit teengestaan en teruggerol het.

Liberale intellektueles van die 1980’s het hul Nuwe Suid-Afrika teenstaanders ge-ettiketeer as VERKRAMTES en hulself met die ere titel bekroon as VERLIGTES…. Vandag lyk hierdie Nuwe Suid-Afrika nie so verlig nie, want ons beleef donker loadshedding baie gereeld.

Nou, as ons na die geskiedenis kyk dan is dit opvallend dat die ondersteuners van die Franse Rewolusie ook na hulle self verwys het as die Verligtes – in Engels : die Enligtened en daardie era as die Enligtenment en die era wat hul voorafgegaan het as die Donker Eeue. Dr RJ Rushdoony sê:

The term “Dark Ages” … is of recent usage. Not long after the French Revolution, it was used by historians to define the period after the fall of the Roman Empire to the Renaissance… For these men any kind of Christian era was a lapse between Roman and modern humanistic statism. “Dark Ages” was used for a time to refer to the time immediately after the fall of Rome. Those times were “dark” because Christianity had succeeded.”

Die parallelle tussen dit wat in Nederland gebeur het na die Franse Rewolusie en Suid-Afrika is opmerklik. In hierdie gesprek word gepraat oor Nederland na hulle ondervinding met die Franse Rewolusie se Verligting teenoor ons ondervinding in Suid-Afrika en ons ervaring van ons weergawe van die Verligting.

Alle paaie lei na…

Alle paai lei na…

Wat is die middelpunt van die aarde? Die modernis antwoord sekerlik dat die middelpunt van die aarde die kokende magma ‘n klompie kilo’s onder ons voete is. Maar dis nie die soort middelpunt wat ek bedoel nie. Ironies genoeg, as jy ‘n antieke Israeliet gevra het waar die middelpunt van die aarde is, sou hy geantwoord het dat dit die tempel in Jerusalem is. Die tempel op die berg – die tempel wat letterlik en simbolies so ver as kan kom van die kokende magma in die pens van die aarde verwyder is. 

Ek lees steeds lekker aan Leithart (1993) se boek, The Kingdom and the Power. Ek wil in hierdie artikel kortliks gesels oor ‘n baie interessante gedagte wat hy oor die kerk het. 

Dit wat nie draai nie

Wat beteken dit vir iets om die middelpunt van die aarde te wees? Dit beteken dat daardie ding die ding is wat regop staan, selfs al is alles anders krom. Die middelpunt is die standaard.

Ek herinner my aan C.S. Lewis se beskrywing van die engele in sy ruimte drieling. Hierdie wesens het aan Ransom verskyn as pilare van lig. Weens die beweging van die aarde het hierdie pilare soms gedraai. Maar Ransom het altyd gevoel asof die engele regop staan – dis die aarde wat beweeg en draai, die engele het ware “regopheid” vergestalt en alles anders moes daarteen gemeet word.

Alle paaie lei na Jerusalem

Leithart (1993:87) begin: “Despite the later pretensions of the Romans, every Hebrew knew that all roads led to Jerusalem.” Die Bybel praat van Jerusalem – en spesifiek van die tempel in Jerusalem – as die middelpunt van die aarde. Die profete praat van al die nasies wat sal optrek na Jerusalem om die HERE daar te aanbid (Jer. 3:17). Die volke sal die berg waarop God se tempel gebou is kom uitsoek en daar vrede maak met mekaar (Jes. 2:2-4). 

Alle paaie lei na niks

Ons tydsgees het al ‘n bietjie verder gevorder op die pad van verdorwenheid as die Romeine van ouds. Vandag het mense al vergeet dat alle paaie lei na Rome. Mense beweer nie eens dat alle paaie na New York of Las Vegas lei nie. Vandag leef mense onder die vaandel van “Alle paaie lei na niks.” 

Die mens het homself die standaard gemaak: Hy het homself die middelpunt van die aarde gemaak. Maar toe vind hy uit dat hy nie êrens heen kan gaan om homself te vind nie. Die beste pad na die self is die pad na die sitkamerbank. En so, alle paaie lei na niks. Of dalk  eerder: Alle paaie lei na ‘n oorgewig middeljarige man wat by sy ouers bly en fokus op sy Fortnite K/D. 

Alle paaie lei na die kerk

Wat is dan die middelpunt van die aarde, vandag? Die maklike antwoord is natuurlik Jesus. Hy is die ware tempel. Hy is die ware Jerusalem. Hy is die ware standaard. Hy bly altyd regop, selfs al is alles anders krom.

Maar daar is nog ‘n antwoord: Die kerk. Alle paaie lei na die kerk. Die kerk is mos ook God se tempel (2 Kor. 6:16). En die nasies stroom tot God se berg soos die kerk van hulle dissipels maak (Matt. 28:19).

Dit beteken dat ons byeenkoms by die kerk elke Sondag ‘n ding is wat regop staan in ‘n krom wêreld. Ons kom na die kerk om ons eie krom harte reguit te maak. Ons kom na die kerk, want die liggaam van Christus is ook die middelpunt van alle dinge. 

Bibliografie

  • Leithart, P.J. 1993. The Kingdom and the Power: Rediscovering the Centrality of the Church. New Jersey: P&R Publishing. 

Die dood van konserwatisme

Ek is konserwatief. Ek is baie bly om myself met hierdie groep in die samelewing te vereenselwig. Maar ‘n mens moet ook eerlik wees oor die tekortkominge van jou eie groep. Hy wat bereid is om homself te oordeel, se oordeel oor ander is baie skerper. 

In daardie gees was dit beslis stimulerend om by Van Ruler (2015:Elektronies) ‘n gedagte raak te lees oor die dood van Jesus, wat hy toepas op konserwatisme. Ek wil hier kortliks sy insigte bespreek, en ‘n paar gedagtes van my eie los.

Die dood van ‘n ding

Hoe bereik iets sy doel? Van Ruler (2015:Elektronies) skryf: “The grains of wheat must fall to the earth. There they die. This done, they bring forth fruit, even a thousand fold. In other words: things must go through death, through the end, through the transition, even through the nihil, if they want to attain their purpose.”

Die stories wat God skryf, is stories van dood en lewe: Van lewe deur dood. Dit is stories waar die helde sterf en drie dae later opstaan. Dit is stories waar die goud bewaak word deur ‘n vurige rooi draak. In God se stories bereik iets sy doel wanneer dit sterf.

Die dood van ‘n Adam

Mens moet natuurlik versigtig wees om te spekuleer oor dinge waaroor die Skrif stil is. Maar daar is ‘n plek om lyne te trek. As ons dit doen, kan mens argumenteer dat selfs Adam sy doel sou bereik het deur te sterf. Of ten minste: Hy sou sy doel bereik het deur ‘n simboliese dood. 

Alreeds toe Adam ‘n vrou ontvang het, het hy ‘n simboliese dood gesterf. God het ‘n diep slaap oor hom gebring en hom oopgeklief om uit hom ‘n vrou te bou (Gen. 2:21). Adam het net soveel gesterf soos wat elke moeder sterf wanneer sy geboorte gee. 

Dit is dan nie vergesog om aan te neem dat Adam ook sou sterf om sy verdere doel te vervul nie. God se bevel om die tuin te bewerk en te bewaak (Gen. 2:15) impliseer ‘n vyand: Dit impliseer ‘n slang. En soos ons later in God se Storie sal uitvind, hierdie slang se kop word op ‘n baie spesifieke manier verpletter. Hierdie slang se kop kraak onder die voet van ‘n sterwende Man. 

Die dood van konserwatisme

Van Ruler (2015:Elektronies) gaan verder: “There are people who want to keep things completely under their own control. They want to keep things as they are. These are the conservatives.”

Die probleem met konserwatisme, is dat dit dinge van hul doel weerhou. Om die beeld van N.D. Wilson (2021:YouTube) te gebruik: Die konserwatiewes sit plastiese beskerming oor sitkamer banke: Ons wil 50 jaar van nou af na die bank kan wys en sê: “Kyk! Dis nog presies soos toe ek dit gekry het!” Konserwatiewes spesialiseer in preservering. 

Maar God se stories werk anders. In God se stories bereik dinge hul doel, nie wanneer dit stof gaar in ‘n glaskas nie. In God se stories bereik dinge hul doel deur te sterf. 

‘n Seerowerskip!

N.D. Wilson brei verder uit op sy gedagte: Ons moet aan al ons instellings begin dink as seerowerskepe. Jou kerk, jou skool, jou Christelike universiteit, jou gesin – dit alles bestaan vir ‘n doel. Die doel is om die goud te gaan haal. In die proses moet jy verwag dat die seerowerskip – die instelling – ‘n paar skrape gaan optel. Die doel is nooit om die seerowerskip te preserveer nie. Seerowerskepe hoort eenvoudig nie in museums nie. Die doel is om die seerowerskip te verloor en die goud te wen. 

Bibliografie

  • Van Ruler, A.A. 2015. I Believe: The Twelve Articles of Faith in Morning Devotions. Translated by Garth Hodnett. Xlibris Publishing. [Elektronies].
  • Wilson, N.D. 2021. The Gospel of Winning [YouTube]. Beskikbaar by: https://youtu.be/P44AU-dae6s?si=hO2qtxCC3N2EYWGx