“Die edeles van die volke het vergader—’n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy!” (Ps. 47:10)
Een van die treurigste ervarings wat ek nog gehad het, was toe ek vir die eerste keer in ‘n plattelandse gemeente met minder as 10 lidmate gepreek het. Van die eerste oomblik na ek die konsistorie ingestap het, tot die oomblik toe ek met my kar by die hek uitgery het, was die gevoel van stille hopeloosheid tasbaar in die atmosfeer van die kerk. Sedertdien het ek al daaraan gewoond begin raak: Hierdie ervaring was nie ‘n uitsondering nie. Dit is meermale die geval as wat ons graag wil erken. En dit is nie net plattelandse gemeentes waar mens hierdie gevoel raakloop nie. Ook in stedelike gemeentes – selfs groot gemeentes – kan jy die hopeloosheid voel ronddryf. Jy sien dit in die oë van die gemeentelede. Jy hoor dit in hulle stemme wanneer hulle sing.
Is dit moontlik om optimisties te wees oor die toekoms van God se koninkryk? Baie keer lyk dit vir ons asof hierdie gevoel van hopeloosheid dalk meer gepas is as die optimisme van ons Gereformeerde vaders soos Calvyn, wat met groot ywer sendelinge na Frankryk, Duitsland, Nederland en selfs na Brasilië gestuur het[1]. Dit lyk asof die kerk maar net wil terugsak en aanvaar dat ons nou in “die laaste dae” is, menende dat daar nou maar vervolging oral gaan wees en ons kan nie eintlik daarop hoop dat Christus se koninkryk nog gaan groei nie. Maar is hierdie idee van God se koninkryk die Bybelse idee?
Ek wil argumenteer dat dit glad nie Skriftuurlik is om op hierdie manier te dink oor God se koninkryk nie. Nie alleen kan ons optimisties wees oor die toekoms van God se koninkryk nie, maar uit die Bybel sien ons dat ons ook optimisties behoort te wees. In hierdie artikel wil ek stilstaan by ‘n paar van die groot lyne wat ons optimisties behoort te maak en ek wil een van die groot besware teen optimisme kortliks bespreek.
Hierdie tema behoort ons bloed warm te maak vir die toekoms van die kerk. Dit behoort ons ‘n perspektief op God se werk oor die ganse aarde te gee wat groter is as enige probleme wat ons nou, hier, in hierdie ou klein landstrekie van Suider Afrika beleef. As ons bid, “Laat u koninkryk kom” dan behoort ons dit te bid asof God besig is om die gebed te verhoor.
Die klippie word ‘n Rots oor die hele aarde
“Maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.” (Dan. 2:35).
Daniël 2 is seker een van die bekendste stukkies geskiedenis uit die Ou Testament. En die droom wat Nebukadnesar gehat het is seker een van die bekendste drome in die hele Bybel (met Farao s’n as ‘n nabye tweede).
Maar selde dink ons aan wat hierdie droom regtig vir ons oor God se koninkryk behoort te sê. Hier is ‘n groot beeld – wat saamgestel word uit al die groot koninkryke van die geskiedenis – en dan kom daar ‘n klein klippie en stamp die beeld stukkend. Die betekenis is duidelik: Jesus is die klippie. Hy kom om die koninkryke van die wêreld te vernietig. Maar wat gebeur daarna met die klippie? Hy groei totdat dit ‘n rots is wat so groot is dat dit die hele aarde vol staan (Dan. 2:35).
Maak dit jou bly om daaraan te dink? Jesus se koninkryk is groter, sterker, heerliker as die koninkryke van die wêreld. Wat ‘n wonderlike Koning het ons nie. Wat ‘n heerlike Koninkryk is ons nie deel van nie.
Die mosterdsaad word ‘n groot boom
“Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.” (Matt. 13:31,32).
Jesus se gelykenisse kan ons baie leer oor die koninkryk van God. Baie van sy gelykenisse en ook baie van sy preke het gegaan oor die koninkryk van God. Dit was ‘n tema waaroor Hy gereeld gepraat het.
Een van die korter gelykenisse is hierdie een, wat ek graag wil uitlig. Jesus vergelyk sy koninkryk met ‘n mosterdsaad en Hy verduidelik dat dit daaroor gaan dat die koninkryk ‘n klein begin het, maar op die ou end baie groot word: Net soos ‘n mosterdboom, wat as ‘n saadjie een van die kleinstes is maar ‘n baie groot boom word.
Hier trek Jesus, interessant genoeg, weer ons aandag terug na Daniël. In daardie profesie, lees ons ook van ‘n boom soos hierdie met baie voëls in die takke (Dan. 4:4-18). Die ooreenkomste tussen die bome is so opvallend dat ons nie anders kan as om hierdie boom van Jesus te interpreteer in die lig van wat die eerste boom, in Daniël 4, beteken het nie. En daar het dit heengewys na Nebukadnésar self, en sy groot koninkryk (Dan. 4:20-22).
In die lig van hierdie Ou Testamentiese verklaring moet ons dan na hierdie gelykenis van Jesus kyk en besef dat Hy werklik ‘n wonderlike toekoms vir sy koninkryk sien. Sy koninkryk moet so groot (eintlik groter) word soos die antieke koninkryk van Babel. Dit moet ‘n skaduwee word vir alle nasies om onder te kom skuil.
Die sendingopdrag word ‘n realiteit
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matt. 28:19).
Mense praat baie oor die groot sendingopdrag – en oor hoe ons baie min doen om daaraan gehoor te gee. Dit is inderdaad ‘n klad op die moderne kerk, dat ons so gefokus is op onsself en so min uitreik met die evangelie na buite. Die kerk is besig om “te oorleef” en vergeet van die laaste opdrag van Jesus.
Maar hier is ‘n vraag wat ons gereeld mis. Sal hierdie opdrag vervul word? Hoor mooi: Gaan daar ‘n tyd kom wat die kerk kan terugkyk en verklaar: Ons was gehoorsaam – ons het die opdrag voltooi?
Ek vra, met ander woorde, gaan daar ‘n tyd in die toekoms wees wat al die nasies dissipels is, gedoop in die Naam van die Drie-Enige God, besig om te leer van die woorde van Jesus?
Wat ‘n beeld! Hoe ver van die werklikheid waarin ons leef is dit nie. Maar is dit moontlik?
Sien, ek wil argumenteer dat, as dit nie vervul gaan word nie, dan maak dit Jesus se sending ‘n mislukking. Hoor my mooi: Ek glo dat Jesus se sending – sy “Mission” soos die Engelse sê – wel suksesvol was en gaan wees. Maar ek glo dat net ‘n optimistiese siening van die toekoms kan regverdig dat sy sending op die ou end suksesvol vervul sal word.
Ons moet onthou, Jesus is die eerste Sendeling. Lank voor Hy ons uitstuur, word Hy uitgestuur. Jesus se eie woorde, is: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Joh. 20:21). So Hy is die eerste Sendeling. En ons opdrag om sendelinge te wees, kan net sin maak in sy groter opdrag. Ons opdrag is basies om saam met Jesus, Jesus se werk te voltooi. Direk na die sendingopdrag sê Hy immers: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” (Matt. 28:20). Ons opdrag is sy opdrag. Ons missie is sy missie. Ons doen sendingwerk in die voetspore van Jesus.
So, om terug te kom na die vraag: Gaan Jesus se missie suksesvol wees? Of gaan Jesus – op die finale dag – ‘n onsuksesvolle Sendeling wees?
Ons geneigdheid is om vas te hak by “al die nasies.” Ek kan sommer hoor hoe iemand wil teëstribbel: “Maar Hy red mos nie alle mense nie! Ons is nie universaliste nie!” En dit is heeltemal waar. Maar daar is twee maniere om die woord “al” of “almal” of “die hele” te gebruik. Jy kan dit gebruik in die sin van elke liewe mens, of elke liewe nasie, kop vir kop. Of jy kan dit in ‘n meer algemene sin gebruik vir ‘n aangrypende, groot hoeveelheid. Dit is in hierdie laaste sin wat ek dit verstaan.
Jesus kom met ‘n missie: ‘n Missie om die nasies te red – nie te veroordeel nie. Hyself sê: “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Joh. 3:17). Ek glo nie dat Hy gaan misluk nie. Daarom is ek optimisties oor die toekoms van die koninkryk.
Wat van die nou poort?
Daar is baie ander tekste waarheen ons kan gaan. Openbaring is een van die mooiste dele, terloops: Daar lees ons keer op keer van meningitis en meningitis wat gered word – van elke volk, stam, taal en nasie. Die Psalmboek is ook ‘n pragtige digbundel vol van God se wonderlike verlossing van al die nasies. Maar ons kan nie by alles uitkom in hierdie een artikel nie.
Ons moet nou tyd spandeer by ‘n baie gewilde beswaar teen hierdie posisie. Dit is Jesus se woorde in Mattheus 7:13-14: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Hoe moet ons dit verstaan? Gee dit nie die indruk dat God se verlossing – op die ou end – wel baie klein gaan wees nie?
Ek wil hierdie antwoord deur te wys op die die styl van Jesus se ander woorde, in sy bergpredikasie (onthou, dis waar hierdie deel homself in die Bybel bevind). Jesus kom hier aan die einde van sy preek. En tot nou toe het Hy baie gereeld klem geplaas op hoe radikaal, persoonlik en veeleisend die wet van die HERE is. So het Hy byvoorbeeld ook gesê: “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matt. 5:29-30). Niemand interpreteer hierdie woorde letterlik nie. Dis duidelik wat Jesus bedoel: Hy wil wys hoe ernstig die saak is wat Hy oor praat. So ook dan, wanneer Hy praat oor die poort wat nou is en min mense wat dit vind, wil Hy vir ons wys hoe ernstig dit is om wel die poort na die hemel op te soek en nie net te dwaal op die pad wat na die verderf lei nie. Hy praat nie van ‘n tydlose waarheid – dat daar meer mense in die hel as in die hemel is nie. Hy praat oor hoe ernstig dit is vir jou en my om seker te maak ons soek wel die poort na die hemel.
Dit is meer duidelik wanneer ons kyk na ‘n ander interaksie, waar Jesus ‘n soortgelyke antwoord gegee het. In Lukas 13:23-24 lees ons: “Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.”
Hier kom iemand met ‘n baie teoretiese, eskatologiese vraag na Jesus: “Gaan daar min of baie mense gered word?” En Jesus maak dit persoonlik. Hy maak dit relevant. Soos altyd, is Hy nie lus om net oor teorie te gesels nie. Sy antwoord is basies: “Vergeet van of dit baie of min is. Wat van jou?”
So wat van jou? Wat van my?
Ons kan lekker lank gesels oor optimisme en pessimisme. Ons kan lekker lank debatteer oor die toekoms en oor God se groot plan vir sy koninkryk. Ons kan wonder: Gaan God baie mense red of min? Gaan sy koninkryk nog baie groei, of moet ons maar soos ‘n skilpad maak, ons koppe in die dop trek en wag vir die eindtyd om verby te gaan.
Maar hierdie antwoord van Jesus kloof deur ons teoretiese bespiegelinge soos ‘n skerp swaard: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.”
Ek dink nie Jesus gebruik die nou poort as ‘n tydlose waarheid oor sy plan vir sy koninkryk nie. Ek dink Hy gebruik dit soos ‘n vuis om ons op die bors te slaan en te laat besef: Hierdie sake is ernstig en persoonlik.
Die kruks van die hele saak…
Daar is baie dinge wat ons negatief kan maak in die Weste en in Suid Afrika. Die opkoms van die sekularisme, die moderne wêreldbeskouing van relativisme, die groot getalle waarin mense hul toevlug neem tot die New Age dwaling, die daling van geboortesyfers onder kerklidmate, die groot getalle waarin mense emmigreer – dit alles het die geneigdheid om ons erg pessimisties te maak oor Jesus se wonderlike koninkryk.
Maar dink ‘n bietjie so daaraan: God is mos groter as ons. En sy koninkryk is groter as die koninkryk wat ons hier voor ons sien. Die Weste is maar ‘n baie klein deel van die wêreld, al hou ons baie daarvan om te dink dat ons die kat se snor is. God is besig om te werk op ander plekke in die wêreld. Meer en meer groei die Christendom in Oosterse lande soos Sjina[2]. God se koninkryk is groter en heerliker as ons land en ons leeftyd. Ons is deel van iets groters as wat ons net raaksien in ons kort tyd in hierdie lewe. Ons het die groter perspektief van God se Woord nodig. En daar kry ons hoop: Hoop vir ons lewens, maak nie saak hoe sleg dit gaan nie. Maar ook hoop vir die toekoms. Ons mag hoor: Die klippie word groot, die mosterdboom groei, en Koning Jesus is besig om sy sendingopdrag uit te voer.
So skep moed. Stry hard. Bou God se koninkryk.
Bronnelys:
[1] Starke, 2012:Aanlyn.
[2] https://www.bu.edu/articles/2023/why-is-christianity-growing-in-china/