Inhoudsopgawe
1. Inleiding
2. Die Apostoliese Belydenis
3. Hel en doderyk
4. Die ligging van die hel en die doderyk
5. So, moet ons dit glo en bely?
6. Konklusie: Tot ‘n Bybelse kosmologie
7. Bibliografie
1. Inleiding
Op ‘n belydeniskamp wat ek bygewoon het as 17-jarige jongman, was daar ‘n paar vrae wat ons, jongmense, met baie vuur bespreek het. Een van hierdie vrae was oor of die Apostoliese Belydenis skriftuurlik begrond is in die frase oor Christus se neerdaling na die hel. Sedert daardie kamp is dit meer en meer duidelik vir my dat hierdie regtig ‘n kontroversiële punt is. Dit is een van die warmste patatte in die teologie en sonder twyfel iets waaroor boeke en boeke vol geskryf kan word. Selfs onder diegene wat glo dat die frase behou moet word is daar verskille oor die spesifieke vertaling en bewoording daarvan. In GKSA gemeentes kan dit, byvoorbeeld, gebeur dat ‘n besoekende leeraar streng vermaan word omdat hy gekies het om in die erediens voor te hou dat Jesus “die angste van die hel tot in die dood toe ondergaan het” in plaas van “neergedaal het na die hel.” In ‘n AP Kerk is dit weer baie belangrik om nie een van bogenoemde formulerings te lees nie, maar baie stiptelik te bly by “ter helle neergedaal het.”
Hierdie debatte is nie droë spekulasie nie: Dit is nie net ‘n verskoning vir slim mense om te wys hoe slim hulle is nie. Dit is baie relevant, want dit gaan oor een van die kortste, kragtigste, mees invloedryke opsomming van wie God Drie-Enig is en wat Hy vir sy kerk doen. Verder gaan dit ook vir ons oor die kern van wat ons van Jesus die Messias glo om deur Hom gered te word (HK Sondag 7). Die regte verstaan van hierdie saak gee die kerk ook ‘n diep insig in ‘n Bybelse kosmologie en Christus se triomf in sy Vader se skepping. Ek wil hoofsaaklik by hierdie laaste punt stilstaan in hierdie artikel. Ons kan die sentrale vraag van hierdie artikel dus so verwoord: Hoe moet die frase “en ter helle neergedaal het” verstaan word en wat beteken dit vir ‘n Bybelse kosmologie?
Net ‘n vinnige woord oor kosmologie: Kosmologie is ‘n deftige woord, maar basies gaan dit oor wat iemand dink van die heelal – of eintlik, God se hele skepping (sigbaar en onsigbaar). Dit gaan oor hoe pas alles in die skepping inmekaar: Ruimte, tyd, mense, diere, plekke, engele, demone, hemel, hel, ensovoorts. Ek wil hier argumenteer dat ‘n Skriftuurlike verstaan van die frase “ter helle neergedaal het” ‘n aspek is van ‘n Bybelse kosmologie wat ons nie moet prysgee nie.
Om dit te doen sal ons moet stilstaan by ‘n paar sake:
- Ons sal moet kyk na die Apostoliese Geloofsbelydenis self. Wat presies is dit, en watter soort gesag het dit oor Christene?
- Dan sal ons ook kyk na die verskillende maniere hoe mens die woord “hel” in die Apostoliese Geloofsbelydenis kan verstaan.
- Ons sal ook moet kyk na die immer aanwesige vraag oor die ligging van die hel asook die ligging van die doderyk.
- Dan sal ons kyk na die Skriftuurlike fondasie om hierdie frase in die Apostoliese Geloofsbelydenis te behou.
- Laastens sal ons ‘n paar lyne trek om te kyk wat die invloed van hierdie stukkie dogma is op ons kosmologie.
‘n Laaste opmerking ter inleiding: Die frase “en ter helle neergedaal het” kom ook voor in die Geloofsbelydenis van Athanasius. My basiese vertrekpunt is dat dit daar net so geldig is as in die Apostoliese Geloofsbelydenis. Ek sal dit dus nie afsonderlik bespreek vir die Geloofsbelydenis van Athanasius nie. As dit hoort in die Apostoliese Geloofsbelydenis dan hoort dit tog sekerlik ook in die Geloofsbelydenis van Athanasius.
2. Die Apostoliese Belydenis
Die Apostoliese Geloofsbelydenis (wat soms ook die 12 Artikels genoem word) is een van die drie ekumeniese belydenisskrifte. Basies beteken dit dat ons hierdie drie belydenisskrifte met meeste ander Christene deel. Om eerlik te wees moet ons wel erken dat die Oosters-Ortodokse Christene formeel slegs die Geloofsbelydenis van Nicea met ons deel (Fairbairn & Reeves, 2019:124), maar die res van die Kerk van Christus bely saam met ons ook die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis van Athanasius.
Die Apostoliese Geloofsbelydenis is dus ‘n gewigtige dokument. Dit is nie sommer iets kleins nie. Dit is nie iets wat ons sommer oor ‘n koppie koffie of ‘n braaivleisvuur kan verander nie. Dit het ‘n soort gewigtigheid wat ons ander belydenisskrifte (soos die Heidelbergse Kategismus, die Dordse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenis) nie het nie. Hierdie belydenis sê nie vir jou wie is Gereformeerd nie. Dit sê vir jou wie is ‘n Christen. Selfs die Heidelbergse Kategismus erken dit wanneer dit sê dat ‘n ware geloof opgesom en saamgevat kan word met die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis (HK Sondag 7).
Hierdie belydenis het egter nie uit die lug geval nie, en hy het al deur die geskiedenis klein veranderings ondergaan. Die vroegste weergawes van die Apostoliese Geloofsbelydenis kom uit die 2de eeu n.C. Dit was gebruik as ‘n soort formule wat iemand moes voordra by die doop van nuwe bekeerdes – ‘n basiese belydenis van wat jy glo. Hierdie doop-formule is nie woordeliks dieselfde as die Apostoliese Geloofsbelydenis soos ons dit vandag gebruik nie en word soms deur geleerdes die Ou Belydenis van Rome genoem, omdat die vroegste weergawes daarvan in Rome gevind word (Fairbairn & Reeves, 2019:109). Dit was ook nie die enigste doop-formule nie, ander doop-formules wat in inhoud baie soortgelyk was is ook gebruik, en hulle het mekaar soms op plekke aangevul. Die vroegste weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis soos ons dit vandag ken kom uit die 8ste eeu n.C. Omdat dit van vroeg af reeds as doop-formule gebruik is, het dit ook van vroeg af reeds ‘n informele gesaghebbende aard. In die 9de eeu het die Westerse kerk, op aanvraag van Karel die Grote, uiteindelik amptelik erken wat lankal reeds die praktyk was: Dat hierdie belydenis ‘n basiese opsomming is van die Christelike geloof (Fairbairn & Reeves, 2019:111). Sedertdien aanvaar ons dit as een van ons ekumeniese belydenisskrifte.
Die feit dat die Apostoliese Geloofsbelydenis reeds min of meer 7 eeue lank in gebruik was in die Westerse kerk voor dit finaal afgerond en amptelik vasgestel is, gee hierdie belydenis ‘n soort speelbaarheid wat die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius nie het nie. Wat daarmee bedoel word is dat daar voor die afronding in die 9de eeu bietjie variasie was – daar was weergawes wat op klein plekke verskil het – en dit is nie die geval met die ander twee ekumeniese belydenisskrifte nie. Een van die mees berugte verskille is juis die frase waarby ons stilstaan in hierdie artikel: Die frase wat sê dat Jesus “ter helle neergedaal het.” (Fairbairn & Reeves, 2019:120).
Die Latynse frase, “descendit ad inferna” (wat ons vertaal met ter helle neergedaal het) kom die eerste keer voor in ‘n weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat neergepen word deur Rufinus, teen die einde van die 4de eeu n.C (Grudem, 2020:727). Daarna kom dit eers weer voor teen die middel van die 7de eeu. Grudem (2020:727) argumenteer dat Rufinus self die frase net verstaan asof dit sê dat Christus begrawe is (in die sin dat Hy neergedaal het na die graf). Hy baseer dit op Schaff se beoordeling van Rufinus se standpunt (Grudem, 2020:727, voetnoot 41). Fairbairn en Reeves (2019:120) haal egter vir Rufinus aan wat verder argumenteer dat Christus moes neerdaal na die hel (of die doderyk) om vandaar die siele terug te bring van hulle wat daar gevange was. Fairbairn en Reeves (2019:121) konkludeer dan dat Rufinus wel geglo het dat Jesus letterlik na die hel neergedaal het. Hulle wys ook uit dat, alhoewel hierdie frase nie voorkom in enige weergawes van die Apostoliese Geloofsbelydenis voor Rufinus se weergawe nie, dat dit tog waarskynlik ‘n baie meer antieke oorsprong het uit vroeër Oosters-Christelike doop-formules waar dit wel voorgekom het (Fairbairn & Reeves, 2019:120-121). Hoewel Grudem (2020:728) dus vra of hierdie frase in die Apostoliese Geloofsbelydenis enigsins apostolies genoem kan word, moet ons konkludeer dat dit histories gesproke ‘n regmatige plek het in die Apostoliese Geloofsbelydenis. Laastens moet ons ook onthou dat die apostoliese deel van die Apostoliese Geloofsbelydenis nie soseer te doen het met die oudheid daarvan nie maar eerder met die feit dat dit akkuraat weergee wat die apostels geleer het.
Daar is iets wat ons moet onthou wanneer ons besig is met die Apostoliese Geloofsbelydenis: Hierdie belydenis is wel baie gewigtig, maar dit is nog ondergeskik aan die Skrif (Grudem, 2020:725, voetnoot 39). Hoeveel respek ons ook al het vir die antieke en ekumeniese karakter van hierdie belydenis, moet ons vir Grudem toegee dat dit deur gelowiges verwerp moet word as daar geen Skriftuurlike fondasie voor is nie. In die res van hierdie artikel wil ek egter argumenteer dat daar wel ‘n goeie Skriftuurlike fondasie vir hierdie frase is.
3. Hel en doderyk
Die algemene idee van die hel in ons kultuur is nogal lagwekkend: ‘n Warm plek met ‘n kokende pot en ‘n duiwel met ‘n drie-tand vurk. Die Skriftuurlike idee is wel bietjie anders. Maar die Skrif praat ook van twee verskillende soorte hel – of eintlik, die Skrif praat oor die hel en ook oor ‘n ander plek, wat baie keer in populêre Christelike gesprekke aan die hel gelykgestel word. Ek wil egter argumenteer dat ons hierdie twee plekke (of dinge) streng van mekaar moet onderskei.
1. Die hel is die plek waar God sy toorn uitgiet oor sondaars. Dit is van hierdie plek waarvan ons lees in Openbaring 20:7-15 as “die poel van vuur” of “die tweede dood.” Die Griekse woord wat dikwels gebruik word om hierdie plek te beskryf is gehenna (“γέεννα”). ‘n Voorbeeld waar Jesus van hierdie plek praat is in Mattheus 5:22: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse (γέεννα) vuur.” Uit Openbaring 20:10-15 is dit duidelik dat mense eers ná die groot oordeel, aan die einde van die geskiedenis, in hierdie plek gegooi gaan word. Die simbool wat die Skrif heeltyd aan hierdie plek koppel is vuur.
2. Die doderyk is die plek waar die siele van gestorwe mense bly tot die wederkoms. In die Ou Verbond was gelowiges en ongelowiges se siele in hierdie plek. Na Jesus se kruisiging is dit net die siele van ongelowiges wat daar gehou word tot die groot oordeel. Dit is van hierdie plek waarvan ons lees in Openbaring 20:13,14 as “die doderyk.” Die Griekse woord wat dikwels gebruik word om hierdie plek te beskryf is hades (“ᾅδης”). Die Hebreeuse woord wat dikwels gebruik word om hierdie plek te beskryf is sheol (“שְׁאֹל”). Die Bybel praat baie van hierdie plek as die plek waar gestorwe mense verkeer. ‘n Voorbeeld is Psalm 49:15: “Soos skape word hulle bestem vir die doderyk (שְׁאֹל); die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk (שְׁאֹל) om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie.” Nog ‘n voorbeeld is Openbaring 20:13-14: “En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk (ᾅδης) het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk (ᾅδης) is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.” Hoewel die doderyk uit gedeeltes soos Psalm 49 (onder andere) duidelik nie ‘n piekniek is nie, moet ons wel raaksien dat God dit nie gebruik vir dieselfde doel as die hel nie. Sondes word nie daar gestraf nie. Simbole wat die Skrif gereeld aan hierdie plek koppel is die see en die dieptes van die aarde.
Openbaring 20:7-15 is baie belangrik in ons verstaan van hierdie twee plekke. Daarin sien ons dat dit twee verskillende plekke is, juis in die feit dat die doderyk (sheol/hades) in die hel (gehenna) gewerp word. Ons moet hierdie twee plekke dus nie met mekaar verwar, of aan mekaar gelykstel nie.
Ons moet egter onthou dat baie van die gedeeltes in die Skrif wat ons oor hierdie plekke leer gebruik maak van simboliese taal. Baie gedeeltes is byvoorbeeld gedigte (soos die Psalms) of dit is apokaliptiese literatuur (soos Openbaring). Ons moet versigtig wees om dit nie te letterlik op te neem nie. Maar nogtans moet ons uit die Skrif ten minste uitwys dat hierdie plekke werklik bestaan (die Skrif hanteer dit deurgaans as werklike plekke) en ook dat dit nie dieselfde plek is nie.
Dit is op hierdie punt waar Christene wat graag die frase “ter helle neergedaal het” wil behou voor ‘n moeilike keuse te staan kom. Watter een van hierdie twee plekke word bedoel met die woord “hel” in die Apostoliese Geloofsbelydenis? Die oorspronklike bedoeling van “inferna” (die Latynse woord vir hel in die belydenis) het heel waarskynlik meer aangesluit by die idee van die doderyk as by die idee van die hel as die plek waar God sondes vergeld (Fairbairn & Reeves, 2019:121-122; Renihan, 2022:Internet). Later het die fokus van die Weste sterker begin val op die hel as die plek waar God sondaars straf vir hul misdade en dit het die standaard verstaan van die frase geword, veral onder Protestantse Christene (Fairbairn & Reeves, 2019:122). Calvyn plaas die fokus van Christus se neerdaling na die hel by hierdie interpretasie wat sterker fokus op Christus se lyding aan die kruis (Renihan, 2022:Internet). Dit is ook hoe die Heidelbergse Kategismus hierdie frase uitlê (HK Sondag 16) en dit is juis hierdie algemene verstaan wat Grudem (2020:725-728) laat argumenteer dat die frase misleidend is vir meeste Christene.
Die feit dat die frase “en ter helle neergedaal het” deur die geskiedenis (en deur verskillende teologiese tradisies) op hierdie verskillende maniere geïnterpreteer was, maak meeste hedendaagse debatte oor hierdie frase nogal ingewikkeld. Mense praat maklik by mekaar verby. Ons moet nugter, eerlik en nederig omgaan met die geskiedenis. Ons kan gerus meer speelruimte gee vir mekaar oor hierdie onderwerp. Tog wil ek argumenteer dat beide interpretasies van die woord “hel” Skriftuurlik begrond kan word. Maar voor ons daarby uitkom is dit belangrik om eers iets te sê oor die ligging van die hel en die doderyk.
4. Die ligging van die hel en die doderyk
Dit is belangrik vir ons om te besin oor die ligging van die hel en die doderyk, want ons verstaan daarvan moet op ‘n manier versoen kan word met die kruisgebeure: As Jesus “ter helle neergedaal het,” wanneer het dit plaasgevind? Sy liggaam was immers aan die kruis – daarna in die graf. En sy siel was by die liggaam totdat Hy gesterf het en dieselfde aand nog in die Paradys (Luk. 23:43). So waar en wanneer, presies, was Hy dan in die hel – of in die doderyk? Ons antwoord op hierdie vraag hang grootliks af van ons verstaan van die ligging van die hel en die doderyk.
Waar presies die hel en die doderyk is, is ‘n moeilike vraag om te antwoord. Dit is nie moeilik omdat die Skrif onduidelik is daaroor nie. Maar dit is wel moeilik omdat die Skrif baie keer simbolies oor dinge praat – veral dinge soos hierdie.
Wanneer dit kom by die doderyk – die plek waar die siele van gestorwe mense verkeer – dan praat die Bybel heeltyd van dit as in die binneste van die aarde. ‘n Voorbeeld is Psalm 63:10: “Maar húlle wat soek om my lewe te verderwe, hulle sal kom in die onderste plekke van die aarde.” Nog ‘n voorbeeld is Numeri 16:31-33 wat vertel hoe Datan en Abíram deur die aarde ingesluk is: “En toe [Moses] al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.” Jesus gebruik dieselfde soort taal: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” (Matt. 12:40). Dit is moeilik om die verband te mis tussen hierdie tekste en Genesis 3:19: “jy [sal] terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Dit is ook moeilik om die simboliese verband tussen die doderyk in die binneste van die aarde en ‘n begrafnis te mis: Wanneer iemand begrawe word (selfs in ‘n spelonk, soos die gewoonte was in die tyd van die Bybel) dan kan mens fisies sien hoe sy liggaam na die binneste van die aarde neerdaal.
Alles van dit is egter waarskynlik simboliese taal. Ek twyfel of daar enige Christene is, in die moderne wetenskaplike era, wat ernstig glo dat die fisiese ligging van die doderyk so ‘n paar kilometers onder ons voete lê. Ons moet baie eerder raaksien dat alles in God se skepping onvermybaar simbolies is, en die aarde is geen uitsondering nie. Waar die siele van afgestorwenes verkeer weet ek nie, maar net soos ‘n siel nie fisies is nie glo ek ook die herberg van die siele is nie geografies nie. Dit is sover as wat ek met sekerheid hieroor ‘n standpunt kan inneem.
Wanneer dit kom by die hel, dan sien ons dat die Skrif heelwat minder sê oor waar dit is. Uit verskeie Skrifgedeeltes wat dit hanteer as ‘n werklike plek moet ons aflei dat dit wel ‘n werklike plek is, maar dit is nie die soort plek wat jy op Google Maps gaan vind nie. Die Skrif praat soms van dit as “die buitenste duisternis” (Matt. 8:12, ) – maar dit skep meer die indruk van verwerping as enigiets anders: As dit enigsins op ‘n plek dui, dan gaan dit daaroor dat die hel buitekant die hemel is: Oftewel, die plek waar ongelowiges gestraf gaan word vir hul sondes, is verwyder van die plek waar God vir ‘n ewigheid met sy volk gaan wandel in volmaakte, heerlike vrede. Maar, weereens, dit is moeilik om hieruit toepassings te maak in ons 3-D verstaan van ruimte. Waar presies is die hel vandag? Bestaan die hel vandag alreeds? Die Skrif gee geen duidelike antwoorde op hierdie vrae nie.
Wat ons dus van hierdie plekke moet glo, is dat alhoewel dit werklike plekke is (die Skrif hanteer dit as werklike plekke) is die ligging daarvan nie dieselfde as die ligging van ander dinge in ons 3-D verwysingsraamwerk nie. Die Skrif praat van dit as werklike plekke, maar ons moet simboliek raaksien waar dit deur die HERE gebruik word.
5. So, moet ons dit glo en bely?
Uiteindelik kom ons nou by die punt waar die tekkie die teer tref: Moet die frase “en ter helle neergedaal het” in die Apostoliese Geloofsbelydenis bly? Kort antwoord: Ja.
Wat die lang antwoord betref, kom ons kom terug na die twee verskillende interpretasies van die woord “hel” in die Apostoliese Geloofsbelydenis: Die vroeë kerk het “inferna” (hel) waarskynlik verstaan in die rigting van die doderyk in die Skrif. Maar die latere interpretasie (wat ook die tradisionele Protestantse interpretasie is), verstaan dit meer in die rigting van die hel – oftewel, die plek waar God sondaars se sonde straf. Soos reeds gemeld reken ek altwee interpretasies kan Skriftuurlik begrond word: Jesus was beide in die plek waar God se toorn oor sondes vergeld word en in die plek waar die siele van gestorwe mense verkeer. Ek sien dus geen rede om hierdie frase uit die Apostoliese Geloofsbelydenis te verwyder nie.
Jesus was in die hel – as mens reg verstaan wat die hel is en wat dit beteken. Dit is natuurlik iets wat ons begrip heeltemal te bowe gaan. Ons kan nie eens begin om te verstaan wat Hy deurgemaak het nie. In Mattheus 27:45 lees ons dat daar duisternis oor die aarde gekom het vir 3 ure lank, tydens Jesus se kruisiging. Aan die einde van die duisternis, dan roep Jesus uit: “Eli, Eli, lama sabagtáni?” wat beteken “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). Dit is die volle helse toorn en woede van God wat daar oor Hom uitgegiet word. Na dit sterf Hy (Matt. 27:50) en dan skeur die voorhangsel van die tempel (Matt. 27:51). Wat daardeur gesimboliseer word is dat die prys vir die sondes betaal is (Heb. 10:19-20): Daar is nou nie meer ‘n skeiding tussen die gewone deel van die tempel en die heilige, of tussen die heilige en die allerheiligste nie. Die offer is gebring: Die sondes is vergeld: Iemand was in die hel.
Jesus was egter ook in die doderyk. Nadat Hy die offer gebring het daal Hy as Oorwinnaar na die doderyk toe neer om die siele van die gelowiges wat gesterf het in die Ou Verbond saam met Hom op te neem na die hemel (Renihan, 2022:Internet). Hierdie oorwinning van Christus oor die doderyk word gesimboliseer met die kruisgebeure, want ons lees wanneer Hy sterf: “en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.” Jesus se neerdaling na die doderyk word ook voorspel in Psalm 16:10: “U sal my siel aan die doderyk (sheol) nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.” Op Pinkster, staan Petrus op en verklaar dat hierdie Psalm in Christus vervul is: “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. Want Dawid sê van Hom: …U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie” (Hand. 2:24-27). Die kriptiese woorde van 1 Petrus 3:19 kan ook moontlik verwys na Jesus se neerdaling na die doderyk, om sy oorwinning te verkondig aan “die geeste in die gevangenis.”
Daar is dus in die Skrif ‘n fondasie om albei interpretasies te volg in ons verstaan van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Jesus was beide in die hel en in die doderyk. Dit is verstaanbaar dat sommiges soos Grudem voel dat hierdie deel van die geloofsbelydenis verwarrend is. Maar dit kan nie onskriftuurlik genoem word nie – maak nie saak watse interpretasie mens volg nie. Daar kan en moet besin word oor hoe om hierdie belydenis te verstaan. Maar wanneer ons sover wil gaan om hierdie deel van die belydenis te verwyder, dan gaan ons te ver.
6. Konklusie: Tot ‘n Bybelse kosmologie
Laastens moet ons egter stilstaan by die vraag: Watse interpretasie behoort ons te volg? Ons het in hierdie artikel stilgestaan by twee interpretasies van die woord “hel” in die Apostoliese Geloofsbelydenis:
- Die hel kan verwys na die plek waar God sy toorn uitgiet oor sondaars.
- Die hel kan verwys na die doderyk – die plek waar die siele van mense gehou word tot die oordeelsdag.
Renihan (2022:Internet) argumenteer egter baie oortuigend vir die tradisionele verstaan: Hoe waar en belangrik Christus se plaasvervangende soenverdienste ook al is, die oorspronklike bedoeling van die frase is dat Jesus ná sy dood en lyding neergedaal het na die doderyk (sheol/hades) om daar sy oorwinning te proklameer en die siele van die Ou Testamentiese gelowiges te bevry. Fairbairn en Reeves (2019:122) merk ook tereg op dat die tradisionele verstaan van die frase “en ter helle neergedaal het” werd is om vandag nog ernstig opgeneem te word.
Ons is ver daarvan af om hierdie saak uit te sorteer – en mens sal nooit in een kort artikel soos hierdie al die relevante argumente kan beoordeel vir hoe om hierdie kontroversiële frase te verstaan nie. Maar ons moet vra: Sit daar nie dalk iets in die tradisionele interpretasie nie? Sal dit nie dalk lonend wees vir ons, in Gereformeerde kringe, om meer gewig daaraan te gee as wat tans die geval is nie? Kan dit dalk selfs die primêre manier wees vir ons om hierdie frase te interpreteer?
As ons meer gewig begin voeg aan hierdie tradisionele interpretasie, dan sal dit ‘n effek hê op ons kosmologie. Dit is ver buite die strekking van hierdie artikel om volledig aandag te gee aan hierdie saak. Maar ten minste twee aspekte van ‘n Bybelse kosmologie kan beter tot hul reg kom as ons die Apostoliese Geloofsbelydenis se frase “en ter helle neergedaal het” begin verstaan as ‘n verwysing na die doderyk (sheol/hades) eerder as die hel (gehenna).
Eerstens, ‘n tradisionele verstaan van hierdie frase sal Christus se oorwinning oor elke aspek van die bose in die kosmos beter tot sy reg laat kom. Dit is immers die groot fokus van die tradisionele verstaan, en dit is ‘n fokus wat ons nie moet verloor nie. Ja, die kruisgebeure was ‘n offer – dit was priesterlik – maar dit was ook ‘n oorwinning – dit was koninklik. Ons moet Christus se werk as Koning, Priester en Profeet tot hul reg laat kom. En as ons eerlik is, as Gereformeerdes, dan laat ons soms Christus se oorwinnende koningskap en sy koninklike oorwinning afwater tot iets minder as wat dit is. Fairbairn en Reeves (2019:122) vra tereg: “Do we not want to affirm that victory was a significant part of what Christ was accomplishing through his death and ressurection?” As ons egter onthou dat die vroeë kerk hierdie frase in die Apostoliese Geloofsbelydenis verstaan het as Christus se triomferende oorwinning oor al die magte van die doderyk, dan begin ons kom tot ‘n meer Skriftuurlike waardering van sy oorwinning. Daar is ‘n verandering in die kosmos wanneer die Lewende Een sterf en daardeur lewe gee aan die dooies. Dan verstaan ons hoekom Jesus sê: “Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk (ᾅδης) sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:18). Die poorte van die doderyk sal die kerk nie oorweldig nie, want die poorte van die doderyk het haar Koning nie oorweldig nie. Hy het oorwin: Die doderyk is nou oopgebreek. Voorheen was dit daar vir die siele van gelowiges en ongelowiges, maar met sy kruisiging het dit verander: Die grafte het oopgegaan. Die doderyk is in beginsel oorwin. En omdat die doderyk ‘n werklike plek is in die kosmos, het hierdie oorwinning ‘n werklike effek op ons kosmologie.
Tweedens, ‘n tradisionele verstaan van hierdie frase sal Bybelse simboliek in die skepping beter tot sy reg laat kom. Ons word meer beïnvloed deur die naturalistiese wêreldbeskouing wat aan die orde van die dag is, as wat ons graag wil erken. Een van die areas waarin dit beslis waar is, is in ons verstaan van die onvermybare simboliese aard van dinge in God se skepping. Lewis (1952:Elektronies) beeld dit baie goed uit in die storieboek, The Voyage of the Dawn Treader, wanneer ‘n ster aan die kinders verskyn – en siedaar, dit is ‘n lewende mens: ‘n Ou man met die naam Ramandu! Een van die kinders sê dan vir hom: “In our world, a star is a huge ball of flaming gas.” Ramandu antwoord hom dan: “Even in your world, my son, that is not what a star is, but only what it is made of.” In hierdie kriptiese aanhaling wou Lewis ons iets leer oor die inherente simboliese aard van baie dinge in God se skepping. Ja, sterre is ‘n radioaktiewe reaksie en alles van dit – maar in die Skrif sien ons dat sterre ook veel meer as dit is: Sterre is engele – of ten minste, sterre is simboliese heenwysings na engele (Openb. 12:4)! God se kosmos – sy skepping – bestaan nie net in ‘n vakuum soos dit is nie: Dit het ook ‘n inherente simboliese kant. Dit wys heen na ‘n dieper werklikheid. As die Psalmis skryf “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Ps. 19:2) dan is dit ‘n werklikheid. Die hemele – ja, die ganse skepping – is ‘n boek wat gelees moet word sodat God beter geken kan word. Soos woorde in ‘n boek ons aandag weglei na die storie wat dit vertel, so moet die fisiese woorde van die skeppingsboek (die rotse, die sterre, die grond, die bome, die watervalle) ons laat raaksien dat daar ‘n dieper werklikheid is. Die skepping is inherent simbolies: Ons erken dit, maar ons dink nie baie aan die betekenis daarvan nie. En hierdie frase in die Apostoliese Geloofsbelydenis wil ons daaraan herinner. Die diep binneste van die aarde – daar waar liggame in afsak as ons dit begrawe – daar is die doderyk. Nie letterlik nie: Maar simbolies. Die binneste van die aarde is ‘n simboliese heenwysing na die doderyk. Soos die sterrehemel ‘n simboliese heenwysing is na die plek waar gelowiges nou saam met God is, so is die binneste van die aarde ‘n simboliese heenwysing na die plek waar ongelowige siele gehou word tot die dag van oordeel.
Die debat oor wat om met die frase “ter helle neergedaal het” te maak is nog lank nie uitgesorteer nie. Dit is beslis ‘n kontroversiële punt. Maar hierdie artikel probeer om ten minste breedweg aan te dui dat dit nie iets is wat ons moet sien as droog en teoreties nie. Dit is uiters relevant, want dit kleur ons verstaan van die werklikheid in. Die heilige, algemene, Christelike kerk van ons Here Jesus Christus het nodig om hierdie frase verder te bespreek en verder oor die interpretasie te besin, want hier lê diep skatte verborge wat ons nog nie eens begin het om op te diep nie.
7. Bibliografie
- Bybel. 1933/53. Verwysing: Boek Hoofstuk:Vers.
- Fairbairn, D. & Reeves, R.M. 2019. The Story of Creeds and Confessions: Tracing the Development of the Christian Faith. Michigan: BakerAcademic.
- Grudem, 2020. Systematic Theology: An Introduction to Biblical Doctrine. 2Nd edition. London: Inter-Varsity Press.
- Heidelbergse Kategismus. APK weergawe. Verwysing: HK Sondag.
- Lewis, C.S. 1952. The Voyage of the Dawn Treader. UK: Geofrey Bles.
- Renihan, S. 2022. Episode 87: The Doctrine Of The Descent Of Christ (Part 1): An Argument From Scripture With Samuel Renihan. Podgooi episode: Theology in Particular. Beskikbaar by: https://podcasts.apple.com/us/podcast/theology-in-particular/id1469449188?i=1000607107543 [Geluister 28 September 2023].