Afgodery, Transsubstansiasie en die Heidelbergse Kategismus


Die Heidelbergse Kategismus is ‘n pragtige pastorale belydenisskrif. Dit is nie in die eerste plek besig om ingewikkelde leerstellings te verduidelik of groot dwaalleer te weerlê nie. Soos DeYoung (2010:Elektronies) skryf:

“There is no nailing of Lutherans to the wall, or drowning of Anabaptists, and very little anathematizing Catholics in the spirit of ‘What goes around comes around.’”

Die Kategismus begin met ‘n vraag wat die snare van die siel aanroer: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” En deur die loop van die opvolgende 51 Sondagsafdelings word hierdie pastorale toon behou.

Daar is egter een uitsondering – een stukkie skerp polemiek. Dit is waarby ons gaan stilstaan in hierdie artikel. Sondag 30, vraag en antwoord 80 gaan oor die verskil tussen die Nagmaal en die Roomse mis. In hierdie vraag en antwoord hou die Heidelberger nie terug nie: Sy swaard is geslyp vir Rome en hy gaan dit gebruik. Vraag en antwoord 80 eindig met ‘n baie skerp veroordeling van die mis:

“Die mis leer dat die lewende en die dode nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die mispriesters geoffer word, en dat Christus liggaamlik onder die gestalte van die brood en wyn is en daarom ook daarin aanbid moet word; en so is die mis in die grond niks anders nie as ‘n verloëning van die enige offerande en lyding van Jesus Christus, en ‘n vervloek te afgodery.”HKS 30, V&A 80

Die laaste sin tref nogal hard. Is dit regtig nodig om die mis “vervloekte afgodery” te noem? Dit is die vraag waarby ons stilstaan in hierdie artikel.

  • Eerstens sal ons kyk na die agtergrond waarteen hierdie vraag en antwoord verstaan moet word.
  • Tweedens sal ons die vraag vra of hierdie sterk veroordeling geldig is.
  • Derdens sal ons probeer om ‘n hand van vriendskap aan Rome te bied.

Die agtergrond en ontstaan van vraag en antwoord 80

Vraag en antwoord 80 van die Heidelbergse Kategismus was nie deel van die eerste uitgawe van die Heidelbergse Kategismus nie (DeYoung, 2010:Elektronies). Maar in die derde uitgawe, wat verskyn het in dieselfde jaar (1563), word dit wel gevind. Wat was die agtergrond van hierdie frase en waarom is dit teen die einde van 1563 ingevoeg met die derde uitgawe?

Die Heidelbergse Kategismus is opgestel in die 16de eeu (eerste uitgawe verskyn in 1563) toe die Protestantisme en die Rooms-Katolisisme letterlik tot die punt van geweld gedryf was teenoor mekaar. Landstreke was in oorlog gewikkel oor wat hulle gemaak het met die Hervorming. As iemand bereid is om in ‘n oorlog te sterf vir sy oortuigings, is sy oortuigings gewoonlik nogal belangrik vir hom. En die 16de eeu was geen uitsondering nie. Die redes waarom jy vir Protestantisme eerder as Rooms-Katolisisme gekies het, was gewigtige redes.

Tog is dit merkwaardig dat die Heidelbergse Kategismus nie juis om elke hoek en draai besig is om Rome te verketter nie. Die Heidelberger se stem is sag – vertroostend. Dit bring die stille lieflikheid van die Gereformeerde leer oor met ‘n pastorale stem. Die glorie van wie Christus vir sy kerk is word verduidelik op ‘n manier wat kinders kan verstaan – sonder bittere polemiek.

Maar, op 17 September 1562, kom die 22ste sitting van die konsilie van Trent bymekaar en verklaar vanuit die Roomse geledere dat die mis en die kruis een en dieselfde offer is (The Council of Trent, 1848:Aanlyn). DeYoung (2010:Elektronies) argumenteer dat die eerste uitgawe van die Kategismus, hoewel dit ‘n paar maande ná hierdie sitting uitgekom het, nie hierdie uitspraak van Trent kon verwerk nie. Dit het egter voor die einde van 1563 nodig geword vir die Heidelberger om ‘n sterker verwerping van die Roomse mis in te sluit, met die doel om die konsilie van Trent duidelik te verwerp. Daarom word dit nodig vir ‘n hersiende uitgawe om te verskyn, wat hierdie saak hanteer.

Dit bring ons nou by die vraag of hierdie streng verwerping van die Roomse mis histories by die Kategismus pas. As dit nie in die eerste uitgawe was nie, moet ons dit dan nie maar eerder net weglaat nie? Nee, om dit te doen is om oppervlakkig met die kerkgeskiedenis en die dogmageskiedenis om te gaan. Belydenisskrifte, anders as die Bybel, se beste weergawes is nie die mees oorspronklike weergawes nie. Belydenisskrifte ontleen hul gesag aan die Skrif en daarom moet ons nie net probeer bepaal hoe die heel eerste weergawe van die Kategismus gelyk het nie.

Bowendien is ‘n streng verwerping van die mis glad nie vreemd aan die konteks van die Kategismus nie. En dit kan steeds versoen word met die pastorale toon van hierdie belydenisskrif. Wat is immers meer pastoraal as om die lammetjies en die skapies te beskerm teen ‘n dwaalleer wat die aandag van die kruis aftrek en op brood en wyn laat val?

Ursinus, die man wat grootliks verantwoordelik was vir die opstelling van die Kategismus, gaan in sy verklaring van vraag en antwoord 80 ook nie ligtelik om met sy kritiek van die mis nie. Hy noem ook die mis “vervloekte afgodery” net soos die derde uitgawe van die Kategismus (Ursinus, 2007:117). Hy gaan selfs so ver om te skryf dat ons “die goddelose verdigsel [van die mis] moet wegneem en verfoei.” (Ursinus, 2007:116).

Dit is dus nie maklik om op ‘n historiese punt weg te kom van hierdie frase in die Kategismus nie. As iemand ‘n beswaar teen die streng afkeuring van die Roomse mis het, moet die beswaar gegrond word op iets anders as die agtergrond en ontstaan van vraag en antwoord 80.

Is die mis vervloekte afgodery?

Iemand kan egter argumenteer dat hierdie frase te ver gaan. Ja, die mis is verkeerd, maar is dit regtig vervloekte afgodery? Om hierdie vraag te antwoord moet ons besef dat alle afgodery vervloek is. Ons moet dus net besin oor die vraag of die mis afgodery is. Indien wel is dit per definisie ook vervloek, want alle afgodery is vervloekte afgodery.

Afgodery word breedweg verstaan as ‘n daad waar enigiets of enigiemand in die plek van God vereer en/of aanbid word. Die afgodery van die heiden-nasies in die Bybel was basies ‘n verering en aanbidding van ‘n duiwel in die plek van God (1 Korinthiërs 10:20). Op dieselfde manier, as iemand homself sou vereer in die plek van God is hy besig met afgodery. Of, as finansiële sekuriteit vir hom die spil word waarom alles draai, is hy besig met afgodery (Matt. 6:24). Die basis van ons godsdiens kom terug na die HERE se woorde in Eksodus 20:2,3:

“Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”

Is die mis, dan, ‘n verering of aanbidding van iets wat nie God is nie in die plek van God? DeYoung (2010:Elektronies) wys uit dat daar vanuit die Roomse geledere erkenning is dat die mis verstaan kan word as afgodery. Iemand soos Peter Kreeft, ‘n Roomse apologeet, skryf byvoorbeeld:

“If the doctrine of the Real Presence of Christ in the Eucharist were not true, this adoration would be the most momentous idolatry: bowing to bread and worshipping wine!”Kreeft in DeYoung, 2010:Elektronies

Rome glo in transsubstansiasie: Hulle glo dat die brood en wyn van die mis verander in die letterlike liggaam en bloed van Jesus Christus. Jy eet nie meer brood en wyn nie. Jy eet fisies die vleis en bloed van ons Here. As hierdie leer verkeerd sou wees – erken Kreeft – sou die mis werklik vervloekte afgodery wees. Maar die punt (volgens hom) is dat dit nie verkeerd is nie.

“And if it [transsubstansiation] is true, then to refuse to adore is equally monstrous.”Kreeft in DeYoung, 2010:Elektronies

Om te kniel voor brood en wyn is afgodery. Maar om te weier om te kniel voor Koning Jesus is ook afgodery. Die hele vraag draai dan om die waarheid of valsheid van transsubstansiasie.

Wat moet ons met dit maak? Is Rome dan besig met afgodery? Die kort antwoord is “ja.” Hulle is verkeerd oor transsubstansiasie (‘n saak waarby ons nie kan stilstaan in hierdie artikel nie); hulle is verkeerd oor die eksegese van Johannes 6; hulle lees te veel in Jesus se woorde, “dit is my liggaam” in. Die gevolgtrekking wat Kreeft self toegee is dus dat hulle besig is met afgodery. Hulle afgodery is nie doelbewus nie: Hulle glo regtig dat hulle eer betoon aan God. Maar, die gevolgtrekking bly dieselfde. Die mis is en bly afgodery: Dit vereer iets wat nie God is nie in die plek van God.

Terug na Chalcedon

Een van die redes waarom ons van die Rooms-Katolisisme moet verskil, is omdat hulle weggebreek het van die kerklike tradisie. Ons behoort vir hulle te sê dat ons te katoliek is om Katoliek te wees (Leithart, 2012: Aanlyn). En wanneer dit kom by die Nagmaal is dit weer die geval: Ons moet die Roomse Kerk daarop wys dat ons siening van die liggaamlike teenwoordigheid van Christus beter pas by die definisie van Chalcedon. Op dié manier kan ons die figuurlike olyftak vir hulle aanbied. Ons kan hulle uitnooi om regtig terug te keer na die kerklike tradisie: Die tradisie wat gebou is op die vaste fondasie van die Skrif en die kerkvaders.

Die Sinode van Chalcedon (451 n.C) het ‘n definisie opgestel oor hoe die twee nature van Christus verstaan moet word. Hierdie definisie is tegnies nie ‘n belydenisskrif nie, want dit het net gepoog om die Geloofsbelydenis van Nicea (wat gefinaliseer is by die Sinode van Konstantinopel, 381 n.C) te verklaar. Tog word die Chalcedoniese definisie breedweg beskou as die ortodokse, katolieke verstaan van Christus se Godheid en sy mensheid. As jy die definisie van Chalcedon verwerp, gee jy jouself in enige Christelike kringe uit vir die klag van kettery.

Een van die dinge wat die Chalcedoniese definisie duidelik gemaak het, is dat die twee nature van Christus nie vermeng word nie (The Chalcedonian Definition of the Faith, 2021:Aanlyn). Ons tree hierso op heilige grond, so dit is nie altyd maklik om presies te verduidelik wat mens daarmee bedoel nie. Maar die basiese idee is dat Christus ná sy vleeswording volkome God én volkome mens is en bly. Sy Godheid word nie afgewater deur sy mensheid nie en sy mensheid word nie verswelg deur sy Godheid nie. Hy behou beide nature en die eienskappe van beide nature sonder dat dit vermeng of geskei word.

Een van die implikasies van hierdie leerstelling, wat die Gereformeerde tradisie konsekwent onderskei van beide die Rooms-Katolisisme en die Lutheranisme is dat Christus se liggaam in die hemel is, aan die regterhand van die Vader. Sy menslike liggaam word nie alomteenwoordig nie. Christus is alomteenwoordig – maar sy menslike liggaam is in die hemel. Chalcedon stel dit nie so direk nie, maar dit is ‘n logiese gevolg wat ons kan trek uit die Chalcedoniese definisie. Die Roomse mis behels egter ‘n implisiete ontkenning hiervan, want die Roomse mis behels dat Christus se menslike liggaam in die hemel en op die aarde is. Sy liggaam is nie net aan die regterhand van die Vader nie, maar op elke plek waar die mis gevier word. Dit maak sy liggaam welliswaar nie heeltemal alomteenwoordig nie, maar dit maak sy liggaam wel heelwat meer as ‘n menslike liggaam. Sy twee nature word vermeng.

Aan die hand van die Mercersberg Gereformeerde stroming (Littlejohn, 2009:Elektronies) het ons regtig ‘n gulde geleentheid om Rome op te roep om terug te keer na die ware tradisie: Terug na die kerkvaders: Terug na Chalcedon. Die Gereformeerde siening van die Nagmaal wat neerkom op ‘n mistiese teenwoordigheid van Christus (Littlejohn, 2009:Elektronies) pas nie net baie beter by die Skrif nie, maar ook by Chalcedon.

Quo vadis?

Die skisma tussen Protestantisme en Rooms-Katolisisme is ‘n teer sakie vir baie manne aan altwee kante van die debat. Die liberalisme wil vir ons sê dat ons net hierdie dogmatiese bakleiery moet staak en in liefde met mekaar moet saamleef. Maar soos Chesterton (1905:Elektronies) opmerk, dit is baie meer liefdevol om iemand vir sy idees te verbrand as om te sê sy idees maak nie eintlik saak nie. Ons moet die verskille tussen Rooms-Katolisisme en Protestantisme ernstig opneem as ons enigsins hoop om in die toekoms te soek na enige vorm van ware versoening.

Ursinus (2007:113) is reg as hy skryf:

“Het is een noodzakelijke kwestie, die het onderscheid van het Avondmaal des Heeren en de Paapse mis betreft, vanwege de afgrijselijke misbruiken die door de mis in de kerk ingeslopen zijn.”

Ons kan nie ligtelik omgaan met die Roomse dwaling op hierdie punt nie. Ons moet die vinger druk op die seerplek. Ons moet die afgodery ontmasker.

Tegelykertyd moet ons besef dat ons ook verkeerd kan wees oor sommige aspekte van die Nagmaal. Dit is moontlik vir ons om by Rome te leer oor, byvoorbeeld, die belangrikheid van hierdie sakrament. Sit daar nie dalk iets in die beskuldiging dat ons die sakramente afwater tot ‘n opsionele ekstra in ons liturgie nie? Om afgodery te konfronteer sluit in dat ons die afgodery in ons eie geledere ook moet konfronteer. Op watter punte is die Roomse tradisie dalk nader aan die Skrif as die Gereformeerde tradisie?

Bibliografie

Lewer kommentaar