Woke-ism Seminaar

Woke-ism het baie relevant geword vir ons die afgelope jaar. In die eerste plek was daar die pogings om Shaun Christie te skors aan die NWU omdat hy geprotesteer het teen die gedwonge Woke indoktrinasie waaraan eerstejaar studente blootgestel is.

Ten Tweede het ons opgemerk dat die verkiesing van die Trump administrasie daartoe gelei het dat Elon Musk aangestel is as die hoof van die Department of Government Efficiency. Sommiges was verbaas dat hy onmiddelik al die Woke regerings programme (DEI) gestaak het. Dit behoort egter nie verbasend te wees indien mens opgelet het dat hy die afgelope jare hewig anti-Woke geword het en selfs uitsprake gemaak het soos “The Woke Mind Virus is killing Western Civilization” en “Most people don’t understand that their minds can be taken over by a virus, just like a computer virus takes over your computer. The Woke mind virus is like Cordyceps.”

Die VCHO en Pactum Instituut gaan ‘n aanlyn seminaar hou waartydens Woke-ism bespreek gaan word 24 Mei 2025 vanaf 08:15-11:30. Hier is die skakel: https://www.youtube.com/@VCHOnderwys/streams en hierdie onderwerpe sal hanteer word deur die verskillende sprekers:

08:15 Opening : Rom 11:33 – 12:3 : Prof HG Stoker
08:30 Wêreldwye manifestasies : FA van Deventer
09:00 Herkoms van Woke-ism : Ds Dubois du Toit jr
09:30 Implikasies van Woke-ism moraliteit : Dr Barend Hefer
10:00 Stryd vir die waarheid in Onderwys : Dr Adi Schebusch
10:30 Vrae & Antwoorde

Sprekers:

Henk Stoker
Henk Stoker is rektor van die Teologiese Skool Potchefstroom van die GKSA, asook professor in Apologetiek en Etiek aan die Fakulteit Teologie van die NWU. Hy is ook die programleier van die BDiv & BTh Hons grade.

Francois van Deventer
Francois het sy M.Fil in Toegepaste Etiek voltooi aan die Universiteit van Stellenbosch nadat hy sy B.Sc verwerf het aan die UP. Hy is met Tina getroud en hulle het 12 kinders en twee klein kinders. Hy hou van lees, fotografie en ontdek van nuwe dinge en plekke.

Dubois du Toit jr
Hy is predikant by Suiderhof NG Gemeente (Windhoek). Hy is getroud met Elida en het ‘n sesjarige seun. Dubois het in 2015 sy M.Th voltooi en is tans besig met sy PhD onder leiding van proff. HG Stoker en Riaan Rheder. Dubois geniet gym, fietsry en rekenaarspel.

Barend Hefer
Barend is getroud met Estelle en hulle het drie seuns. Hy is die predikant van die Afrikaanse Gereformeerde Protestantse Kerk en ‘n lektor aan die Afrikaanse Protestantse Akademie. Hy het ‘n PhD in Grieks verwerf aan die NWU. 

Adi Schlebusch
Adi Schlebusch is die direkteur van die Pactum Instituut wat Bybelgetroue boeke en akademiese artikels publiseer. Hy is betrokke by die AP Akademie en BCVO. Hy is getroud met Lize en hulle het vier kinders. Hy verwerf die grade PhD (Teologie), MA Fil, BA (Latyn), BA(Teologie)


Pactum Instituut
www.pactuminstitute.com

Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys
www.vcho.co.za

Die Sendingveld op ons Stoep

“en julle sal krag ontvang… en my getuies wees in Jerusalem sowel as Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”

Hierdie is Christus se woorde aan sy dissipels net voor sy hemelvaart. Hy brei vir ons verder uit oor hierdie opdrag:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matt 28)

Hier in Afrika, en spesifiek hier in Pretoria kan ons sê dat ons Jerusalem die noorde van Pretoria is. Ons Judea is Gauteng en ons Samaria is Suid-Afrika en die uiterstes van die aarde is nog steeds dit. Let op dat Matt 28 nie sê dat die evangelie onder losstaande individue verkondig moet word nie. Die Griekse woord is ethnos. Dus moet die evangelie aan die etniese groepe verkondig word. Ons etniese groep is Afrikaners. Ons gemeente arbei primêr onder Afrikaners en dan ook ‘n bietjie onder Tswanas.

Party maal voel ons mismoedig wanneer ons sien hoe die epidemie van slaggate en infrastruktuur-verval toeneem. Of die misdaad, sprake van vervolging en eiendomsonteiening sonder vergoeding. Die ding wat ons egter die mismoedigste maak is dat Gereformeerde Afrikaanse kerke krimp. Afrikaanse kerke maak hul deure toe.

Ons moet egter onsself herinner dat hierdie verval en agteruitgang nie toevallighede is nie. Dit is ‘n direkte uitvloeisel van mense en leiers wat nie die Bybelse Wereldbeskouing omarm nie. Dit is weens afvalligheid…

Dit is merkwaardig as mens die Taalkommissie se verslag lees oor waar Afrikaanssprekendes hulle sal bevind teen 2031. Dit is merkwaardig dat daar bykans 46,000 Afrikaners binne 5km vanaf GK Wonderboompoort sal wees (11,000 net in Pretoria Noord en 500,000 in Pretoria en bykans ‘n miljoen in Gauteng). Veral as ons dink dat daar sprake is dat Afrikaanse kerke hul deure in Pretoria Noord gaan sluit…

Die gevolgtrekking is dat dit nie ‘n gebrek aan potensiële kerkgangers is wat die probleem is nie… Die problem is dat die mense nie kerk toe kom nie. Die probleem is afvalligheid. Daar is ‘n hele sendingveld op ons stoep. Ons moet net opstaan uit ons gemakstoel op die stoep en uitgaan na die sendingveld. Ons sal moet beplan en arbei om dissipels te maak…