100 jaar van Afrikaans tot eer van God

Francois van Deventer

Hierdie maand is dit 100 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal erken is. Vir Engelsprekendes en Globaliste is dit onverstaanbaar hoekom Christen Afrikaners hul moedertaal as belangrik ag.

Dit is dan ook nie verbasend dat dit al gebeur het dat ‘n Amerikaanse Gereformeerde Teoloog vir my gesê het dat Afrikaners ter wille van die Koninkryk eerder Afrikaans moet opoffer nie. My antwoord aan hierdie teoloog was dat dit maklik vir hom as Engelsprekende is om so-iets kwyt te raak.

Dit is immers nie sy taal waarin hy dink, bid en sy diepste denke kommunikeer, wat prysgegee moet word nie.

Vir sommige Engelsprekendes is standardisering na Engels vanselfsprekend. Hulle kan dit ook nie verstaan nie, omdat hulle nie besef wat in die slag bly indien jy jou moedertaal prys gee nie.

Ek dink dit is ook geensins die geval dat Christene die HERE beter kan dien deur alles na een taal te standardiseer nie. As dit wel die geval was, dan sou veral Protestantse Christene immers net Latyn in die kerk gebesig het. Latyn was tog die wêreldtaal gewees in 1517 toe die Reformasie in Duitsland begin het. Een van die heel eerste dinge wat Luther en die ander Reformatore gedoen het, was om die Bybel in die moedertale van al die verskillende volke te vertaal. Daar was Franse, Nederlanders, Pole, Engelse ens wat in Geneve gaan studeer het, maar hulle het die denke en geskrifte in hul eie tale omgesit.

Dit is daarom dan ook nie verbasend dat juis die Genootkap van Regte Afrikaners se primêre doel die vertaling van die Bybel in Afrikaans was nie[1]. Hulle is reeds in 1875 gestig[2]. Dr Pannevis het reeds in 1872 ‘n pleidooi gerrig dat die Bybel in Afrikaans vertaal moet word[3].

Wat is die eindresultaat? Die Bybel (gedeeltelik of volledig) is vandag in 3,756 tale vertaal.

Nou hoekom sou dit gebeur het dat die Reformatore gekies het om die Bybel in die verskillende volke se moedertale te vertaal? Wel, heel eerstens was dit om dit moontlik te maak dat elke individu self die Bybel kon lees en God se Woord self kan verstaan. Die tweede rede was dat hulle die voorbeeld gehad het dat die Bybel (Ou Testament) in Jesus se tyd reeds vertaal was in Grieks.

In die 1500’s was min mense geletterd, en dus was daar dan ook min mense wat self kon lees. Die Protestantse lande het egter nie net die Bybel vertaal nie, hulle het ook in die onderwys betrokke geraak en die mense leer lees. Dr James Kennedy verwys in sy “What if Jesus had not been born” na hierdie twee feite.

Daar het ook ander voordele gevolg. Max Weber maak in sy The Protestant Work Ethic die gevolgtrekking dat die Protestantse Noord Europa ekonomies meer voorspoedig was as die Katolieke Suid-Europa. Een van die redes wat hy aanvoer is dat die Protestantse deel meer geletterd is.

Vandag het Europieërs, Afrikaners, Engelse, Amerikaners en in die algemeen Protestante vergeet hoekom hulle in hul eie moedertaal die Bybel kan lees. Mag hulle weer die skate wat ons voorgeslagte vir ons ontsluit het, weer herontdek. Geluk Afrikaans!

  1. https://www.litnet.co.za/sj-du-toit-18471911/
  2. Wikipedia
  3. https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/stiltetyd/afrikaanse-bybel-nou-90-jaar-oud/

Lewer kommentaar