Ware Vryheid

“Scotland! Freedom!”

Dit is wat twee Skotte geskree het. Dit omvat die versugting en frustrasie van Skotte. Hulle is onvry… en dit frustreer hulle. 

https://www.youtube.com/watch?v=NMS2VnDveP8

Hierdie twee Skotte het in die hysbak binnestap. Daar is egter geen knoppies nie. Hulle word begroet met die hyser wat in perfekte Engels sê dat dit die “Intelevator” is en dat hulle net eenvoudig moet sê na watter vloer hulle wil gaan. Die donkerkop Skot maak die opmerking in ʼn swaar Skotse aksent:

“Wat, stemherkenning in ‘n hyser in Skotland? Het jy al ooit stemherkenning probeer. Hulle doen nie Skotse aksente nie!” 

Twee grapjasse het die hyser verander dat dit geen knoppies het nie. Die grapjasse gryp dadelik die geleentheid aan en maak asof die “Intellivator” nie verstaan na watter vloer die Skotte wil gaan nie. Die Skotte probeer alles. Hulle verander hulle stem. Hulle skree. Niks help nie. Einde ten laaste klim die kaalkop op die rug van die donkerkop en skree in die mikrofoon: “Scotland! Freedom!”.

Dit is ook hoe baie Afrikaners voel. CP Hoogenhout skryf in die laat 1800s: 

“Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

Hoogenhout was deel van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Met hierdie gedig beskryf hy die verdrukking van Afrikaners nadat die Britte Suid-Afrika oorgeneem het in die vroeë 1800s. Britte het Afrikaners probeer verengels deur Engelse skole, Engelse howe en Engelse predikante vanaf Brittanje in te voer. 

Afrikaners het hierdie verdrukking egter oorkom. Afrikaans is gered van ondergang. Teen 1933 was Afrikaans as amptelike taal in SA erken en die Bybel is in Afrikaans vertaal: die hoofdoelwit van die GRA is vervul. Teen die 1980s was Afrikaans selfs ʼn akademiese taal waarmee atoombomme uitgedink kon word.

Die Skotte was nie so gelukkig nie. Hulle het hul taal verloor en al wat hulle oorgehou het, is om Engels te praat in ‘n Skotse aksent. Die Skotte probeer al vir etlike dekades om hul vryheid te herwin, maar tevergeefs.

Die afgelope week het ons in SA Vryheidsdag “gevier”. Vir Afrikaners voel dit na ʼn teenstrydigheid. Afrikaners ervaar geen vryheid nie. Nie net het Afrikaners nie seggenskap oor hul eie skole nie. Nie net kan Afrikaners nie besluit hoe hulle belastinggeld aangewend moet word nie. Daar word óók aktief gepoog om Afrikaans te vermoor. Afrikaanse staatsskole word verengels. Daar is ook nie meer enige Afrikaanse Universiteite oor nie. Bykans alles is Engels.

Die vraag is nou. Wat is vryheid? Is dit reg dat Afrikaners net soos die Skotte sug na vryheid. Is dit Christelik? Is dit Bybels? Of moet Afrikaners hul taal prysgee ter wille van die Evangelie — soos wat ‘n Amerikaanse predikant op ‘n keer aan my gesê het. Was dit ʼn fout dat die Reformatore die Bybel vertaal het in die volkstale van Europa? Moes hulle nie maar by die Latynse standardisering gebly het nie? Moes ons eerder almal nog Latyn gepraat het?

Nee, dit was nie onbybels dat die Reformatore die Bybel in Duits (1534), Nederlands (1637), Frans (1535) en Engels (1526) vertaal het nie. 

Prof Andries Raath se D-verhandeling vertel vir ons van vryheid. Hy definieer ware vryheid vanuit ʼn Bybelse hoek. Dit bestaan uit:

  • Inleiding
  • Deel I : Menslike vryheid in die Calvinistiese wysbegeerte:

Hier word die Wysbegeerte van die Wetsidee van Dooyeweerd, DFM Strauss, IH van Riessen bespreek. In HG Stoker se Wysbegeerte van die Skeppingsidee word die aard van vryheid bespreek. Menslike vryheid word gesien as die verwesentliking van die Goddelike roeping en die vervulling van ʼn samehangende differensiasie. Gehoorsaamheid aan natuurwette en Goddelike borme is nie die vyand van vryheid nie; dit is die absolute voorwaarde daarvoor. Dus is Bybelse wetsgehoorsaamheid ʼn onontbeerlike vereiste vir menslike vryheid. Samehangende differensiasie beteken dat die ongelykheid van vryheid nie meer– of minderwaardig is nie, maar dit is gelykwaardige andersheid. Om differensiasie te misken, lei tot die vernietiging van vryheid self. So is die vryheid van die gesin verskillend van dié van die staat. So ook verskil die vryheid van ʼn man as man en ʼn vrou as vrou. 

  • Deel II: Humanistiese idees oor vryheid

Die kernmerke van die mensgesentreerde vryheidsteorieë word bekyk vanuit die hoek van Rasionalisme en Irrasionalisme. Dit sluit dan Marxisme, Eksistensialisme, Idealisme en Pragmatisme in. Daar word daarop gewys dat Humaniste vryheid negatief definieer nl. As ʼn “vry wees ván…” in stede van ʼn “vry wees tót…”. Die eindresultaat is dat vryheid gereduseer word tot ʼn abstrakte, onwerkbare konsep. Die samelewing word gedwing om te kies tussen losstaande individue (individualisme) of of genadelose onderdrukking deur die staat (totalitarisme).  Dit is dan ook nie ʼn wonder nie dat tirranie of chaos die eindeinde daarvan is…

  • Deel III: Gevolgtrekkings
  • Deel IV: Menslike vryheid in konteks en perspektief

Daar word dan gekyk vanuit die Ou en Nuwe Testamente van die Bybel na vryheid. 

  • Opsomming

Ons kan Prof Andries Raath se denke rondom ware vryheid teenoor valse vryheid so opsom:

Ware vryheidKenmerkValse Vryheid
God: Ps 124:7-8; Eks 20:2; “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge”. (Rom 11:36)Oorsprong & AnkerDie mens: – se verstand, – se wil, – se natuur
Wetsvervulling en gehoorsaamheid aan God se ordinansies; die wet maak juis vry. Jak 1:25, 2:12Verhouding tot die WetVry wees van die wet; outonome self-wetgewing of wettelose willekeur.
Positief: Gedefinieer as verantwoordelike heerskappy, kreatiwiteit en diens. Gen 1:26-28, 1 Pet 2:16Aard van vryheidNegatief: Gedefinieer as bloot onafhanklikheid, onbepaaldheid of die afwesigheid van dwang
Die moontlikheid van keuse is slegs ‘n voorwaarde vir vryheid, nie vryheid self nieMatt 16:24-25Rol van KeuseVryheid word vereenselwig met die keuse tussen verskillende moontlikhede (goed en kwaad)
Roepingsvervulling: Die verwesenliking van ‘n Goddelike opdrag op aarde.Gal 5:13, Pred 3Roeping en doelSelfverwesentliking: Die strewe na eie grootheid, genot of selfgenoegsaamheid
Erken die mens as onselfgenoegsaam en afhanklik van God.Gen 1:27, 1 Kor 3:23MensbeskouingBeskou die mens as outonoom en in beheer van sy eie lot
Erkenning van samehangende verskille. Almal is een in Christus Jesus (gelykheid), terwyl hulle steeds hul onderskeie rolle behou. Jy hou nie op om Afrikaner, Zoeloe, Xhosa of man of vrou te wees nie. Gal 3:28, 1 Kor 12, 1 Kor 7:23-24Samelewing en gelykheid Neig na meganiese gelykskakeling wat die unieke eie-aard van samelewingskringe ondermyn
Harmonie en Koningskap – Rom 8:21, 2 Kor 3:17“Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid”ResultaatSlawerny en Verdrukking

Ons ervaar slawerny in die naam van vryheid omdat die grondslag, doel en samelewingsorde op valse vryheid gebou is. Dit is nie op God gebou nie. Daarom dan is die eindresultaat nie harmonie en koningskap nie, maar slawerny en verdrukking. As ons die ware vryheid wil ervaar, dan sal ons terug moet reformeer na Bybelse vryheid. Dan moet ons lees hoe Prof Raath en andere ware (Bybelse) vryheid sistematies vir ons uiteensit.

Die les wat Skotte, Afrikaners, Zoeloe’s, Xhosa’s, Tswana’s ea moet leer, is dat gestrewe moet word na ware Bybelse Vryheid. Indien ons nie hierdie les leer nie, sal ons in ʼn nimmereindigende siklus van skynvryheid verval. Laat ons dan ware vryheid omarm.