Geloftedag : Ons sal lewe, jul sal sterwe

Pieter van Deventer

Videoweergawe: https://youtu.be/MuB3aS9VFt4?si=fKOBNAJ_dS7Vx4IU


In die begin van die jaar het Oom Georg, wat hier sit, vir my kom vra om hierdie geloftedag praatjie te doen. Ek sê toe vir hom, ek weet verskriklik min van geskiedenis af, en hy moet eerder iemand anders kry. Hy sê toe, nee, hulle wil juis fokus op die toekoms. Ek sê toe, dit is uitstekend, ek weet alles van die toekoms af: Jesus gaan wen! En dis hoe die praatjie begin het.

So, ek gaan, eerste begin, dan is daar ‘n deeltje wat ek wil lees, maar kan ons net voor ons begin eers saam bid.

Ons Vader, ons dank U vir genade, ons dank U, dat ons so kan saam sing, en vra dat u ons harte en ons oë sal oopmaak vir die toekoms, dat U ons sal help, om te sien wat die maniere is hoe ons selfopofferend kan stry vir U koninkryk. Op watter maniere ookal. In Jesus Naam. Amen.

My oupa grootjie, aan my ma se kant, my ma se pa se pa, was ‘n immigrant van Nederland af. Sy naam is, oupa Cornelius Miske. Hy is al oorlede – hy is by die HERE. Hy het baie van ons Afrikaanse, gewoontes, en gebruike, baie vreemd gevind. Een so voorbeeld, was die laaste woorde wat ons sing, in die Stem.
Daar aan die einde van, die Stem, dan sing ons: “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika”

Nou, my oupagrootjie Cornelius het gedink, dit is heeltemaal te pasifisties om die vyande van Suid-Afrika so te benader deur te sê ons gaan sterf. So, elke keer as die Stem gesing is by geleenthede, dan het my oupa grootjie Cornelius Miske, klip hard, saam met almal saam gesing: “Ons sal antwoord op jou roep stem, ons sal offer wat jy vra. Ons sal lewe, JUL sal sterwe. Ons vir jou Suid-Afrika.” Dit was sy manier, om te sê hoe ons die oorlog – die stryd – moet benader.

So hier is die vraag, ‘n eerlike vraag: “Hoe wen mens ‘n oorlog? Hoe stry mens ‘n oorlog?” Daar is ‘n paar, generaals in die geskiedenis, wat hulle opinie daar oor, gegee het:


* Generaal George S. Patton, een van die, mees beroemde generaals, in die Amerikaanse Weermag, tydens die Tweede Wereldoorlog. Hy het gesê (so ‘n baie bekende gesegde): “The object of war, is not to die for your country, but to make the other bastard die for his”
* Hier is nog ‘n voorbeeld: Generaal Vespasianus, een van die grootse generaals, in die Romeinse ryk,
hy het ook iets soortgelyks gesê. Hy het gesê: “Die ligaam van ‘n dooie vyand, is ‘n soete reuk”.
* Nog iemand in die Romeinse ryk: Julius Caesar het gesê: “Veni, Vidi, Vici” – Ek het gekom; Ek het gesien; Ek het oorwin. Dit was sy strydkreed.

Maar nou. Wat as jy by ‘n Weermag aansluit, en die Drilsersant kom so ingestap, en die heel eerste ding wat hy vir jou sê is: “Jy moet die ander wang draai… Jy moet jou vyande liefhê… Jy moet vir hulle bid…” Hoe gaan, ons daaroor dink?

Dit is waarby ek wil stilstaan, waarby ek wil uitkom. In Mattheus 10 vers 39, sê Jesus daar: “Wie sy lewe vind, sal dit verloor, en wie sy lewe verloor, om My ontwil, sal dit vind”

So, ons gaan hier kyk na, die vreemde manier, hoe Jesus die oorlog veg…. en as ons verstaan hoe Jesus die oorlog veg, dan kan ons begin verstaan hoe ons die oorlog, moet veg. Ons het so mooi gesing van om te handhaaf en te bou. Ons moet verstaan hoe Christus, handhaaf en bou. Ons sal dan kan begin verstaan, hoe ons hier moet handhaaf en bou.

Die deel wat ek net wil lees is uit Jesaja 53 – die eerste nege verse. Dit is ook ‘n baie bekende gedeelte. Vra jouself af: “Wat se soort manier is hierdie om ‘n oorlog te veg? Wat se soort Koning is dit wat hier van gepraat word?”

Jesaja 35:
“1WIE het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die Here geopenbaar?
2Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
3Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
4Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
5Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
6Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
7Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.
8Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.
9En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.”

En hier is die vraag weer: “Watter soort Koning is hierdie? En op watter manier veg Hy die oorlog?”

Ek wil by drie gedagtes uitkom:
1. Eerstens die interpretasie wie Jesus is,
2. Tweedens die doel van Jesus,
3. En derdens, die onreg wat met Jesus gebeur het.

INTERPRETASIE WIE JESUS IS

So eerstens, wat is die interpretatie van wie Jesus is? Hier moet jy jouself afvra, hoe kyk die wêreld na Jesus? Jy hoef nie baie ver te gaan nie. Doen jouself ‘n guns en ry op die N1 snelweg. As jy Pretoria binnery dan kom jy by die Universiteit van Pretoria, by Tukkies. Jy stap daar in, en gaan sê vir hulle. Ek wil vir julle vertel van die heel belangrikste mens in die geskiedenins. Al die proffies in gesiedenis moet so voor my kom sit. Ek wil hulle vertel van die heel belangrikste persoon, in die gesiedenis. Nie Alexander die Grote nie, nie Julius Caesar nie, nie wie ook al nie. Ek wil hulle vertel van die heel belangrikste persoon, in die geskiedenis. Jy kan nie die geskiedenis verstaan, as jy nie die Persoon ken. En dan begin jy vir hulle van Hom te vertel.

As hulle so voor jou sit, dan sê jy vir hierdie mense: Hierdie Man, was ‘n skrynwerker… en vir die drie jaar wat Hy wel besig was met politieke dade, het Hy net twaalf mense gehad wat Hom gevolg het. En, toe die mense Hom kom vra, wil jy die koning van die land word, toe sê Hy “Nee”.

As jy teen hierdie tyd nog nie by die hekke van Tuks uitgegooi is nie, vertel jy vir hulle hoe Hy gesterf het. Hy het gesterf as ‘n krimineel… en toe het selfs die twaalf wat Hom gevolg het, Hom verlaat.

Wat gaan die proffies vir jou sê? : “Hoe op aarde, kan Hy die belangrikse persoon in die geskiedenis wees?”

Dit is hoe die wêreld kyk na Jesus. Hulle kyk na Hom en sien ‘n Koning wat hang aan die kruis, en hulle sê: Dit is dom… Dit is dom… Dom… Hoe kan jy glo, dat hierdie Man jou, jou kan red. Hoe kan hy God wees as hy gesterf het? Hoe kan hy God wees, as Hy gesterf het?

Dit is hoe die wêreld kyk na Jesus. Dit is die interpretasie wat hulle gee, van wie Hy is.

DIE DOEL VAN JESUS

Dit maak nie vir hulle sin nie. Maar ons, ons verstaan die doel. Die doel van Jesus se lyding. Dit is belangrik, want ons kyk met ander oë. Dus ons kyk na Jesus, en ons sien die doel. Wat was die doel? Die doel was nie om te ly sommer maar net nie. Nie om te ly, omdat dit lekker was nie. Die doel was om te ly, sodat ons nie hoef te ly nie. Om die straf te dra, sodat ons dit nie hoef te dra nie.

Hy het ‘n doel daarmee gehad. En dit is wat ons lees in Jesaja 53… Dit is plaas-ver-vang-en-de lyding. Lyding in jou plek. Dit is asof jy daar aan die kruis gehang het. Jy moes daar uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Jy moes alles van dit gedoen het en gely het… En dan vat God jou van die kruis af… en sit vir Jesus daar. Dit is hoekom ons die Koning van die kruis aanbid. Dit is die doel van Jesus se lyding. As ons dit raaksien, dan kan ons begin verstaan, hoekom Jesus die stryd op so ‘n vreemde manier stry.

Hier is a voorbeeld. Probeer jouself in die situasie indink: Jy is a soldaat in die oorlog, en jy het ‘n swaard in die een hand en ‘n skild in die ander hand en die duisende vyande is hiervoor jou, en jy veg teen hulle. Die oorlog is besig om voor jou te woed, en dan kom jou vriend aangehardloop en skree vir jou: Vlug! … Vlug! … Vlug! … Nog ‘n vyand het aangekom… Hy is groter… sterker… heerliker as al die ander vyande saam. En jy sê vir hom: wie is dit, wie is hierdie groot vyand? … Dit is God, die een wat die hemel en die aarde gemaak het, die een wat jou niere en jou hart en jou bene en jou alles instandhou. Die Een wat jou kan laat wegbraai voor sy aangesig soos ‘n stukkie vet op ‘n braaivleisvuur. Die Een wat so magtig is dat Hy net kan wens en jy verdwyn voor sy aangesig… Daardie Vyand kom aan. Daardie Kryger van die Lig. Hoe gaan jy ooit die oorlog wen?

As ons dink aan hierdie oorlog, die stryd tussen lig en duisternis waar ons van nature aan die kant staan van die duisternis, dan kom hierdie God – Hy is van nature jou vyand. Wat se hoop het jy?

Wat as Hy kom sê: Toemaar, Ek sal sterf.

Dit is die enigste manier hoe jy daardie oorlog kan wen. Sien, Hy gaan die oorlog wen. Jy kan Hom nie keer nie, maar die enigste manier hoe jy die oorlog kan wen, hoe ek die oorlog kan wen, is as Hy sê, ek sal die oorlog wen deur te sterf in jou plek. Dit is hoe ek jou oorwin deur jou te red. En so is die doel van Jesus. Sy lyding in ons plek.

DIE ONREG VAN SY LYDING

En die derde wat ons ook hier sien, is die onreg van sy lyding. Ons sien dit in vers 7 tot 9.

As jy so kyk na die kruis van ver af, lyk dit na die mees onregverdige ding. Hoe kan daardie pragtige, pragtige Seun van God gekruisig word? Hoe kan so iets met Hom gebeur? Hoe kan dit ooit toegelaat word? Maar deur hierdie ding wat van veraf onregverdig lyk, bewerkstellig God Sy eie geregtigheid.

Ek het een keer ‘n video gekyk op Youtube. Dit was ‘n lesing wat iemand gegee het oor hoekom laat God toe dat slegte dinge gebeur met goeie mense? Hoekom laat God toe dat slegte dinge gebeur met goeie mense?

Iemand skryf toe in die kommentaar boksie. Vraag: hoekom laat God toe dat slegte ding gebeur met goeie mense? Antwoord: dit het net een keer gebeur, en Hy het Homself vrywillig aangebied.

Dit is waar, ne? En al die lyding wat ons kan meemaak, die verdien ons altyd soveel meer.

Ons kan nooit vir God sê, ek het dit nie verdien nie. Daar was Een wat dit vir God kon sê en dit was Jesus, en hy sê, nee, ek bied myself vrywillig aan. En dit is hoekom dit wat so van ver af onregverdig lyk, God se regverdigheid bewerkstellig. Want daardeur maak Hy ons regverdig.

TOEPASSING

So dit is breedweg, die drie punte wat ek wil uitlig oor Jesus en oor hoe ons sy lyding moet verstaan. En nou kom ons probeer om hierdie vliegtuig te laat land. Kom ons maak dit prakties vir ons. Hoe veg ons die oorlog in Suid-Afrika? Hoe moet ons veg in die volgende 100 jaar? Of wat van die volgende 185 jaar? Hoe veg ons die stryd hier in Suid-Afrika?

Maar ons moet dit veg in die voetspore van Jesus. Ne. Ons moet dit veg soos Hy dit geveg het. Hy stel vir ons ‘n voorbeeld. Hy stel vir ons ‘n voorbeeld van jy moet kom en… sterf… Sterf.

Ek is nie besig om nou te sê dat ons passifiste moet wees nie. Ons moet ook raak sien: Jesus was nie ‘n passifis nie. Hy was nie ‘n passifis nie. Daar het ‘n tyd gekom wat hy ‘n sweep gevleg het en die goddelose Fariseërs geslaan het met die sweep in die tempel, en hy hulle uitgejaag het. Daar is ‘n tyd vir dit ook. Daar is ‘n tyd vir gewapende verset. Daar is ‘n tyd vir altwee. Maar, kyk ‘n bietjie watse voorbeeld stel, Jesus vir ons. Hy sê dit gaan nie oor my belange nie. Dit gaan eerstens oor God se belange en dan oor die belange van ander mense. Hy kom en en lê Sy lewe neer. En dan kom hy na ons toe en Hy kom sê vir ons, ons moet sy voorbeeld volg. Hy sê: Wees soos Ek. Daardie vers wat ek net daar in die begin gelees het, is net so mooi, Mattheus 10 vers 39 : “Wie sy lewe vind sal dit verloor. En wie sy lewe verloor om My ontwil sal dit vind.”

Met andere woorde, as hy alles gaan probeer om jouself net altyd te bevoordeel, om te oorleef, om gelukkig te wees. En alles gaan net oor my, my, my, my op die ou end, sê Jesus, as jy dit gaan doen, gaan jy jou lewe verloor… En wat bedoel hy dan? Hy bedoel, dit is die weg na die hel.

Die weg na die ewige lewe is om te sê, ek offer myself op. Ek kom na die kruis en daar word my ou mens saam met Christus vasgespyker. Ek sterf vir myself. Dit is hoekom Hy na ons kom en Hy sê vir ons, draai die ander wang. Weereens, dit is nie passifisties nie. Ek praat nie daarvan, dat iemand jou kom probeer doodmaak en dan moet jy maar net sê, ja, regso, jy het my een keer met ‘n mes gesteek, steek maar nog ‘n keer nie. Dit is nie wat Hy sê nie. Hy praat van, hier is iemand wat jou in die publiek verneder. Hoe reageer jy? Hoe reageer ek? Sê jy: Ek gaan jou terugkry. Of sê jy : “Goed, haal my maar uit, ek is nog baie slegter as wat jy besef, maar laat ek jou van Jesus vertel.” Dit is wat dit beteken om die ander wang te draai.

So, ek wil dit nog meer prakties maak, nog meer nader bring aan die grond: Wat is die grootste, mooiste, mees eksplisiete manier hoe ons onsself kan opoffer hier in Suid-Afrika?… Ek gaan nou kontroversieel klink, maar dit is om kinders te kry… As jy trou, dan sterf jy vir jouself… Want eweskielik is hier iemand anders wat in jou huis kom bly. En jy kan nie meer net doen wat jy wil nie. Jy kan nie meer net gaan waar jy wil nie. Jy moet sterf vir jouself. En jy moet die ander persoon eer.

En, dan as julle kinders kry, dan is dit nog 100 keer erger… Daai klein – jammer om die woord te gebruik – maar daai klein “brats” waardeer niks wat jy vir hulle doen nie. Jy gee vir hulle kos. Jy maak hulle doeke skoon. Jy sterf elke dag. Jy is in die nag wakker… die heelnag partykeer … en hulle skree en skree en skree… geen waardering nie. Maar wat sê, wat sê die Bybel vir ons van kinders? Telkemale: Kinders is die seën van die HERE. Ps 128 praat so mooi van seuns is soos olyfbome wat jou help om veilig te bly as jy in die poort is. Dit is so, daardie kinders word ouer en hulle help jou. Hulle staan jou by.

‘n Mens hoef nie baie slim te wees, om te weet dat as mense nie kinders het nie, dan gaan daardie volk sterf. So, as elke paartjie, nie ten minste 2 kinders het nie, dan is dit nie ‘n moeilike wiskunde som nie: as daar twee van julle is wat gaan sterf, en minder as twee wat julle gaan vervang, dan oor die lang termyn, wat gaan met die volk gebeur?

Dit is baie meer ingewikkeld as dit, as jy gaan kyk na geboortesyfers, en daar is mense wat allerhande studies van hiervan doen. As jy gaan kyk na geboortesyfers, jy gaan kyk na ‘n volk en hoe geboortesyfers op- en afneem, is daar die geleerdes in ons dag, wat sê dat wanneer ‘n volk se geboortesyfers laer is as ‘n gemiddeld van 1.6 kinders per huwelik is, dan gebeur dit nie dat daardie volk herstel nie. Dan sterf daardie volk. Dit is wat die geleerdes sê… Raai hoeveel kinders is die gemiddeld in Afrikaanse huwelikke?… Dit is 1.6… regtig.

En hoekom is dit so… want mense sterf nie. Hulle wil nie Jesus se voorbeeld volg nie. Ek wil nie Jesus volg nie. Dit is hierdie eie ek in my hart. Ek soek ‘n groot pensioenfonds. Ek soek ‘n lekker vakansiehuis. Ek soek die nuwe Ford Ranger. Alles daarvan is goed, maar ek sê ek gaan dit nie opoffer om kinders te kry nie. Genesis 1 sê: “Vermenigvuldig en vul die aarde”. Dit is hoe God se Koninkryk uitgebrei word, en ek sê in my hart: “Nee. Die geld in my bankrekening moet vermenigvuldig en my bankrekening volmaak”.

Die nommer een manier hoe ons veg en wen hier in Suid-Afrika is deur kinders te kry. Sien, dink so daaraan: Dit is die beste manier om ‘n argument te wen. Ons stry oor al hierdie dinge: Moet Afrikaans in die skole wees. Al hierdie vrae. Wel, wie gee om as daardie mense nie kinders kry nie, maar jy kry kinders. Op die einde, wie gaan die land besit? Die mense wat die kinders gehad het.

Dit is waarmee ek u graag wil wegstuur. Vir die jong mense: Dit is een van die mooiste, mees Bybelse, mees korrekste, heerlikse dinge wat jy kan doen om te besluit om te trou, vir jou eie belange te sterf, kinders groot te maak in die eer en vrees van die HERE. Vir die ouer mense: dit is een van die mooiste, mees Bybelse, mees korrekste, heerlikse dinge wat jy kan doen om daardie jong mense te help. Deur kinders word die volk gebou… deur kinders word God se koninkryk gebou.

Nou wil ek afsluit deur weer na die Stem te verwys. As ons dit dan sing. Dink bietjie daaraan. My oupagrootjie, hoe lief ek hom ook gehad het, was verkeerd. Dit is pragtig om te sing: Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika. Dink net hoe gebeur dit: dat jy sterf vir jou land as jy jou pensioenfonds opoffer. As jy daardie vakansiehuis by die see opoffer. As jy al jou belange opoffer deur kinders te kry, dat jy die aarde kan beërwe.

Lewer kommentaar